Dag 1086

 

“Ons moet deur baie verdrukkinge in

die koninkryk van God ingaan.”

(Hand. 14:22, OAV)

Uiteraard is die meeste vervolging nie net fisies nie. Die woordjie wat as “vervolg” gebruik word in 2 Tim. 3:12, is in Grieks “diōkō”, en dit beteken volgens The Complete WordStudy Dictionary ook “to go after with the desire of obtaining”. Synde dat dit gespesifiseer word dat “almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word”, laat die vermoede ontstaan dat Paulus vervolging hier ook veral gebruik in terme van die stryd (1 Tim. 1:18; 6:12; 2 Tim. 4:7) van derdedimensiegelowiges om ‘n goddelike natuur te bekom (2 Pet. 1:4).

Let op hierdie twee Skrifte wat dit het oor die aard van dié stryd in die proses van heiligmaking “waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14).

  • “maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is” (Rom.7:23); en:
  • “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” (Heb. 12:4).

 

‘n Belangrike faset dus van die Bruid se mantelvorming is juis hierdie “stryd teen die sonde”, met ander woorde dít wat jou noop om jou hoë roeping in Christus prys te gee. Dat vervolging gepaardgaan met lyding is onteenseglik ‘n noodwendigheid, sélfs al red God jou uit die hand van die vyand (Esra 8:31; Jes. 54:15 & 17).

Lyding, volgens die Griekse woord “páthēma”, word ook in ander vertalings vertaal met “afflictions”, “sufferings” en “hard times”, met ander woorde dit is duidelik nie net fisiese ontberinge wat deur konkrete vervolgers toegedien word nie en dui ook op geestelike stryde en gevegte – immers: “ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie” (Efes. 6:12)

Fil. 3:10 dui die standaard aan wat Jesus voorhou om sy opstandingskrag (van die derde dimensie – Hos. 6:1-3) deelagtig te kan word: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word”. Die vervolging, lyding en stryd wat gepaard gaan in die verwerwing van ‘n goddelike natuur word altyd dienooreenkomstig “die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word” (Rom. 8:18; ook Heb. 2:9) gestel. Ons moet immers “deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14:22)!

Dis daarom baie belangrik om te weet dat Jesus ook die Bewerker is wat ons “saligheid deur lyde volmaak” (Heb. 2:10). Dán verstaan ‘n mens wat Paulus bedoel met Kol. 1:24 – “Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus…”

.         Sela: Wat is nou jou perspektief op verdrukking, lyding en vervolging?

  • Lees: 9; Luk. 9:28-62; Matt. 17
  • Memoriseer: 9:35
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Gemeenskap aan Sy Lyde