“Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee …?” (Mat 7:9, OAV)
Die Skrif wat ons gister as stemvurk gebruik het, Gal 4:6, is van geweldige belang vir die volgende paar leringe, omdat dit miskien aan die mees fundamentele praktiese aspek van jou wandel met God beslag sal gee: “God (het) die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!”
Van al die moontlike benaminge wat God vir Homself as die Skepper van alle dinge kon gee, is die primêre een wat Hy kies: Abba. Die God van die heelal hou homself voor aan sy skepping en skepsels as Vader, eintlik eerder: Pappa! Daarom sê Mal 2:10 dat ons almal dieselfde Vader het.
‘n Mens kan net ‘n vader wees as jy ‘n kind het. Die versgedeelte wat die meeste in die hele Skrif herhaal word (‘n totaal van ses keer!), is dit wat in Heb 1:5 só gekontekstualiseer word: “Want aan wie … het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees?”
Omdat alles uit hierdie Seun ontstaan het (Joh 1:3; Efes 3:9), hou alle dinge in Hom stand (Kol 1:17) en derhalwe word alle dinge gedefinieer in terme van hierdie primêre verbintenis van Vader en Seun. Alles.
Daarom is dit die mees basiese vertrekpunt wanneer ons praat van ons wat uit Hom (weder)gebore is – dat ons herstel word in die oerprimêre verbintenis van Vader en seun! En as jy dan God deur hierdie bril begin sien as Pappa, word Rom 8:32 ‘n heerlike werklikheid en waarheid: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” Hy het reeds alles gegee toe Hy Jesus voortgebring en gegee het (onthou: alles was in Hom). As Hy ons dan nou Jesus gee, sê dié Skrif, sal Hy nie ons ook enigiets anders gee nie! Sela.
Om binne hierdie intieme samesyn jou posisie in Christus te ontdek, is miskien een die heel belangrikste openbaringe wat jy ooit mag ontvang: You may dare to call Him Father! Trouens: Hy het die wese van die Asem van Jesus, die Heilige Gees, in jou geplaas deur die doping met die Heilige Gees sodat Hy jou kan leer om heeltyd te roep: Pappa! Pappa!
En sê my nou: as jy vir jou Pappa brood vra, sal Hy jou ‘n klip gee?
- Sela: Hier is heelwat om oor na te dink en met God deur te worstel. Bring al jou onsekerhede, insecurities, en misverstande oor wie Hy is ten opsigte van jou in lyn met die waarheid van wie Hy is.
- Lees: Rig 19; Ps 109; Hand 19
- Memoriseer: Hand 19:6
- Vir dieper delf: Ek verwys natuurlik hierbo terloops na die ongelooflike getuienis van die Moslemdame Bilquis Sheikh wat tot die openbaring gekom het: I dared to call Him Father. Lees die gelyknamige boek asseblief.