Dag 1093

 

“fonteine, swaar van water”

(Spr. 8:24, OAV)

Noudat ons verstaan waarmee Obádja die honderd profete in die grot gevoed het, is die opgetekende geskiedenis in 1 Kon. 18:5-14 ‘n interessante vervolg. In vers 5 sê koning Agab vir Obádja: “Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie.”

Op die oog af is dit bloot ‘n praktiese opdrag, want by die fonteine en spruite sal daar weliswaar miskien groen grassies wees vir die arme verhongerde diere. Tog weet ons nou uit die voorafgaande lering dat die honderd profete se fonteine in die grot begin oopgaan het omdat hulle met die regte brood en water gevoed is – suiwer grotwater van God en ongekon-tamineerde brood uit die mondgrot van God (Mat. 4:4)!

Dus, waarna moet Obádja gaan soek? Weliswaar nié na gras nie, want “alle vlees is gras” (Jes. 40:6; 1 Pet. 1:24). Hy moet gaan soek na die “seëninge van die watervloed wat daaronder lê” (Gen. 49:25), die erfdeel geprofeteer oor Josef (wie se naam beteken “God will add another son”). Soos die fonteine van die seuns van God oopgaan, sal die aarde oorvloei word met waarheid uit die troon van God, “suiwer … water van die lewe” (Open. 22:1). Die fonteine is “swaar van water” (Spr. 8:24), swanger met die Christus (Gal. 4:19; Open. 12:2), en die vrystelling hiervan sal kos en water bied aan ‘n beweging van God (= perde – Joël 2:4) én aan die vee [tipologies dié mense met “die natuur van ‘n dier” (Spr. 12:10), wat dus steeds ‘n “beastly nature” het, ‘n “unregenerated nature”].

God beskik en rig dan Obádja se pad, lees ons in vers 7, en uit die niet verskyn die veelgesoekte man van die oomblik: Elía! Die wêreld soek na iets om te eet en te drink, en God stuur sy profeteseun as die potensiële bron.

‘n Mens kan die arme Obádja se geweldige predikament verstaan toe Elia vir hom dié opdrag gee: “Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar.” (vers 8). In die volgende paar verse  beredeneer hy benoud: “Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring? So waar as die HERE u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie—dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem—ek weet nie waarheen nie—en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die HERE van sy jeug af.”

Obádja het tóé reeds verstaan wat Jesus gesê het in Luk. 17:23 – “En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie.” Ongelukkig het hy nog nie die volle openbaring van die daaropvolgende vers gehad nie: “Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.” Elia word hier ‘n tipe van Jesus die Verlosser wat wéér gaan verskyn, maar op ‘n ander wyse as wat die wêreld dit gaan verwag.

  • Sela: Begin jy al hoe makliker die nuwe Testament prototipies verstaan?
  • Lees: 16:1-17:10
  • Memoriseer: 16:16
  • Delf dieper: Luister na Stefan Potgieter se cd-lering: Waar die rooivlerkspreeus roep en fonteine  oopgaan