“ek sal my verseker vandag aan hom vertoon …”
(1 Kon. 18:15, OAV)
Ons is tans besig met ‘n reeks oor mantelvorming, met Elia as prototipe. In die vorige Manna het ons gevorder tot waar Elia en Obádja ontmoet. Laasgenoemde is dan bang dat Elia net weer sal verdwyn (en hy in groot moeilikheid sal wees!); maar Elia wéét wanneer die kairos-oomblik gekom het. In vers 15 spel hy dit uit aan Obádja: “So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon!”
Die man van God wat met outoriteit beklee is, is altyd akuut bewus van die regte tyd om God se agenda uit te voer. Ingeweef in enige Goddelike mantel is die spesiale gawe van Issakar, naamlik om met kundige insig wat die tye betref, aksiebesluite te kan neem: “(they) had understanding of the times, to know what Israel ought to do” (1 Kron. 12:32). Dit is hierdie mantel wat gemaak het dat Elia vir ‘n bepaalde tyd van Agab gewyk het; en dit is hierdie mantel wat Elia onteenseglik laat weet NOU is die tyd om na aksie oor te gaan.
Die meeste gelowiges oefen nie dié gawe nie. Omdat ons altyd gedwing word deur die eise van die moderne lewe om dinge vinnig af te handel, verbrou ons dikwels met onbesonne oorhaastigheid en gedrewenheid die verhoog wat God besig is om op te stel vir die uitvoering van sy perfekte wil (Rom. 12:2). As jy as die man van God vir die oomblik op ‘n verkeerde oomblik op die verhoog strompel, mis jy die plot van wat God bedoel het.
Dwarsdeur die Skrif lees ons van mense wat die gawe van Issakar in hul mantels geweef gehad het, byvoorbeeld in Ester 1:13, waar die koning “die wyse manne, die kenners van die tye” geraadpleeg het. Onthou – Christus is die wysheid van God (1 Kor. 1:24), derhalwe bied alle mantels in Christus die regmatige besitters van die bekleding met Christus (Gal. 3:27) hierdie bonatuurlike vermoë”!
Bepaald was die wyse manne in die tyd van Jesus se geboorte baie duidelik Goddelik geïnspireer om “uit die Ooste”, die voortyd (sien Dag 1016-1018), aan te kom (Matt. 2:1). Hierdie sterrekykers was dus wel onderlê in die Bruid (= sterre: Gen. 22:17; Dan. 12:3) en het presies die tye en die seisoen ‘gelees’ om op te tree. [Die Bruid as ‘sterre’ ontspring natuurlik uit die “ster … uit Jakob” (Num. 24:17), sy Naam is Jesus, waaroor Bileam, “uit die berge van die Ooste” (Num. 23:7) geprofeteer het! Ons weet Jesus is eintlik die enigste oorspronklike Môrester (Open. 22:16).]
Uit Pred. 12:11 leer ons dat “die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan”. Die wyse manne uit die Ooste word gerig deur hul rhemawoorde – “hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld” (Ps. 19:3).
Is jy, soos Jes. 19:11 vra: “‘n seun van die wyse manne, ‘n seun van die konings uit die voortyd?” wat die wysheid het om met kundige insig wat die tye betref besluite te kan neem?
- Sela: Beantwoord asseblief die laaste vraag.
- Lees: 16-17:10
- Memoriseer: 16:16
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Geheimenisse rondom die geboorte van Jesus