
“die HERE van die leërskare … voor wie se aangesig ek staan …”
(1 Kon. 18:15, OAV)
As Elia en Obádja ontmoet en hy bang is dat Elia net weer sal verdwyn, spel die profeet dit aan hom uit: “So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom (Agab) vertoon!”
Goddelike outoriteit en gesag, weet ons teen dié tyd, setel nie in ‘n persoon nie, maar in die “krag van God”. Jesus se uitspraak in Matt. 26:64 spel dit onteenseglik duidelik uit: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.”
Uit Manna 575-577 het ons geleer die Heilige Gees is die Bron van die krag, maar is nie die krag self nie. In Matt. 6:13 leer ons dat die krag aan God behoort; die koninkryk van God kom met krag, nie met woorde nie (Mark. 9:1; 1 Kor. 4:20); iemand soos Elia het in dié krag beweeg (Luk. 1:17); krag is iets wat jy besit en uit jou kan uitgaan (Mark. 5:30; Luk. 6:19); dié krag laat demone uitbeweeg en weggaan (Luk. 4:36); dit bring genesing (Luk. 5:17); dit bring mee dat niks jou kan skade doen nie (Luk. 10:19); dit laat wonders en tekens plaasvind (Hand. 6:8); alle werk van die geloof word met krag volledig gemaak (2 Thes. 1:11); dit skenk alles wat tot die lewe en die godsvrug dien (2 Pet. 1:3); die talente word uitgedeel volgens jou kapasiteit van krag (Matt. 25:15), en meer.
Bepaald is hierdie “krag van die onvernietigbare lewe” (Heb. 7:16) iets wat elke gelowige besonder graag sal wil verkry. Maar benewens dat ons dit ontvang deur die werking van die Gees van God, wat presies is dit? Ons moet weet krag kom uit die “hoogte” (Luk 24:49), met ander woorde uit die geestelike realm uit. Rom 1:16 gee dan hierdie geheime sleutel: “die evangelie van Christus is die krag van God”!
As Elia dus konstateer dat hy staan voor die aangesig van “die HERE van die leërskare” (in Hebreeus: Yehova Sabaoth), is dit ‘n posisionering ten opsigte van alle geestelike leërmagte wat deel van die wolk van getuienis is. Dit sluit in almal wat in Christus gesterf het (sien Dag 578-580), ook alle engele en geestelike wesens, dié “kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord” (Ps. 103:20). Maar dit sluit ook alle rhemawoorde in! [Luister die uitvoerige lering oor hierdie saak van Tom Gouws: Die stem van die Vader in die derde dimensie; lees ook Dean Howson se simboliese verklaring van “Romeinse soldate” in sy boek Metaphors of Paul.] Om hierdie rede praat 1 Sam. 4:4 van ‘die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon” (gérub = tipologie van die Bruid); en Ps. 48:8 noem die Nuwe Jerusalem (= Bruid – Open. 21:2) “die stad van die HERE van die leërskare”.
Ons lees in 1 Kron.11:9 “Dawid het gedurigdeur groter geword, en die HERE van die leërskare was met hom.” Wanneer enigeen in die Bruid van Christus in geregtigheid beweeg, beweeg hy/sy in die wolk van getuienis en vergroot sy outoriteit. Wat ‘n geweldige voorreg is dit nie
- Sela: Maak die lering vas in die lig van Ps. 27:1
- Lees: 11
- Memoriseer: 11:40