“Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee
en die dal Agan tot ‘n deur van hoop.”
(Hos. 2:15, OAV)
Die wyse waarop elkeen in die Bruid se mantel beslag kry, word tipologies beslag gegee deur die verhaal van Elia. Ons is tans daarmee besig.
In die vorige Manna is daar stil gestaan by Agab se gelade openingswoorde aan Elia: “Is dit jy, jou beroerder van Israel?” (1 Kon. 18:17). Die ernstige aanklag is vroeër gerig aan Agan, wie se naam dan ook beteken “troublemaker”! Agan is die prototipe van alle beroerders, en dit omdat hy ‘n mantel gevat het wat nie aan hom behoort nie (Jos. 7:21). ‘n Mantel as aanduiding van geestelike outoriteit is waaroor hierdie posisionering tussen Agab en Elia ten diepste gaan.
Ons het die vorige Manna afgesluit met ‘n veel latere profetiese verwysing na Agan/Agor (dit het dieselfde Hebreeuse basis), waarvan in Hos. 2: 15 gesê word: “Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ‘n deur van hoop”. Die ‘haar’ is die een wat die Bruidegom gekies het om sy vrou te word, “die vrou van die Lam” (Open. 21:9).
Agan het nie net teen God gesondig nie – hy het die hele volk in moeilikheid gedompel. Die “toorn van die HERE” het dus nie net teenoor Agan ontvlam nie, maar “teen die kinders van Israel” (Jos. 7:1). Menigte Israeliete, nie net sy vrou en kinders nie, verloor hul lewe as gevolg van hierdie wandaad van Agan, ten spyte daarvan dat hulle niks daarmee te doen gehad het nie. God beskou hul duidelik as ‘n korporatief – “Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg. En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self ‘n ban geword het.” (Jos. 7:11-12).
In Manna 404 het ons geleer dat Israel dwarsdeur die Ou Testament versimboliseer word met ‘n wingerd (Jes. 5:7). Vanaf hul vertrek uit Egipte is dit die sentrale metafoor: “‘n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.” (Ps. 80:8). In Jes 5:1-7 en Jer 2:21 word verhaal hoe hierdie “edel wingerdstok” egter begin het om “wilde druiwe voort te bring”. In Eseg 15:6 word die wingerdstok in die vuur gegooi. In Joh 15 identifiseer Jesus Homself egter as die WARE wynstok en ons as die lote (vers 5) wat in Hom ingelyf is. Die slotsom van die Manna was hierdie belangrike openbaring – Jesus die Christus word in die nuwe verbond die ware Israel. Sela, asseblief, veral byvoorbeeld in die lig van Rom. 9:4. Dis eers later toe ons die openbaring van Jesus en sy Christus gekry het (Dag 759-760), dat ons die implikasie van die Bruid as korporatief beter begin verstaan het.
In die profetiese boeke Jeremia en Esegiël word die saak van korporatiewe aanspreek-likheid in terme van persoonlike ongeregtighede (soos dit in die Ou Testament die norm was – Eks. 20:5; Deut. 28:35) op die spits gedryf en word ‘n vooruitsig gebied vir ‘n ander bedeling wat in Jesus Christus voorlê:
- 31:29-30 – “In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword. Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word.”
- 18:2-4 – “Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Israel, naamlik: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?” So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie. Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.”
In híérdie lig word die eerste deel van Hos. 2: 15 meer duidelik: “Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee …”. Die woordjie in Hebreeus vir “daarvandaan” beteken om iets oor tyd van een punt na ‘n ander heen gestalte te gee. Die een punt is duidelik “die woestyn”, maar die ander punt word nie uitgespel nie. Maar die Israeliete was tog op pad na Kanaän, wat dan duidelik die ander punt is. Die Beloofde Land was hul erfdeel (Num. 16:14) én daar was wingerde (Jos. 24:13). Maar wingerde van die beginpunt af? Nee – wingerde groei nié in die woestyn nie. Dus word ‘wingerd’ duidelik geestelik hier voorgehou. Die Bible Knowledge Commentary verduidelik dit mooi: “When the Lord leads Israel out of the desert back into the Promised Land, He will restore her vineyards. The words There I will give misinterpret the elliptical Hebrew text (which reads lit., “from there”) by implying that vineyards will grow in the wilderness where Israel had wandered.” Hierdie wingerd is dus onteenseglik die groeiende identiteit in Christus wat die Bruid in die woestyn deelagtig moet word. As sy in die Beloofde Land (tipologies die derde dimensie) aankom, sal die wingerd binne-in haar wees (Luk. 17:21)! Al die moeite en swaarkry in die woestyn het gedien om die goddelike identiteit en roeping, ofte wel: die mantel, te vorm. Sela.
Hierdie mantelvorming (om met Christus beklee te word – Gal. 3:27) beteken volgens Rom. 13:14 die volgende: “beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie”. Dit gaan dus oor die verwerwing van “die goddelike natuur” (2 Pet. 1:4).
Op die keper beskou gaan die konfrontasie tussen Agab en Elia oor die tipe mantel wat elkeen van hulle dra. Ons weet wat die mantel is wat Elia besig is om te ontvang. Agab, daarenteen, wat in die naam van geformaliseerde godsdiens staan, is die seun van Serag (Jos. 7:24), “a son of Reuel and grandson of Esau, one of the dukes of the Edomites” (BDB). Esau is in die Skrif die prototipe van die vleeslike mens Adam (wat “rooi” beteken, so ook Esau). Let op hoe word hy beskryf met sy geboorte: “rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare”! Hierdie mantel is ‘n mantel van die eerste Adam, wat die verganklikheid beliggaam en die vrug van vleeslikheid (“carnality”) dra: “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” (Gal. 5:19-21). Daar moet ‘n transisie kom, en Elia moet ook met die Agab IN HOMSELF deel – “En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.” (1 Kor. 15:49-50)
Dit verklaar waarom die dal van Agor ‘n noodwendige transisie is op die pad om jou geestelike identiteit in Christus vas te maak. Ons lewe, denke, bewussyn, alles is versadig met afgode, Baäls. Ons is “verkoop onder die sonde” (Rom. 7:14). Paulus lig dit ’n entjie verder in die perikoop meer toe as hy verduidelik hoe “die wet van die sonde wat in my lede is” (vers 23) funksioneer. Daarom roep hy in vers 24 uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Hy sou net sowel kon sê: Wie sal my verlos van die mantel van vleeslikheid? As Paulus dit uitgeroep het, hoeveel te meer elkeen van ons in die Bruid?
Die geheimenis ten grondslag hiervan lê in die genadegeskenk van die dal van Agor. Weliswaar is ‘n dal ook ‘n plek van doodskaduwee, en op hierdie gevaarlike geloofspad ervaar ons dikwels die plek waar ons onsself IN onsself én in ons verdrukkende omstandighede bevind, soos Job (10:22) dit raak benoem: “‘n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee ‘n skynsel—soos middernag!” Jeremia (2:6) beskryf hoe die Israeliete hierdie woestynpad as ‘n plek van doodskaduwee beleef het: “En hulle het nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in ‘n land van wildernis en kuile, in ‘n land van droogte en doodskaduwee, in ‘n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie?”
Dit die dal waardeur niemand kan trek as God jou nie daardeur transporteer nie. Dit is die dal waarmee Agab, jou prototipekoning van die Baäls, jou afdreig deur te sê: “Are you he that perverts Israel?” (CAB), “the one who brings disaster on Israel?” (NET), “you scourge of Israel!” (NJB). As deel van die korporatief van die Bruid (soos Agan ‘n korporatief in die verderf gestort het), is jy ook verantwoordelik vir die feit dat die Bruid in die dal van doodskaduwee bly omdat jý nie die goddelike natuur deelagtig word nie. Dit is dus nie meer fisies-geslagtelike ongeregtighede wat oorgedra word nie (daarmee is daar by die kruis mee gedeel – Heb. 8:12), maar ons geestelike bloedlyne in die Bruid wat herstel moet word. DIT KAN NET GEBEUR DEUR JOU MET CHRISTUS TE BEKLEE, dit wil sê jou geestelike mantel van jou roeping en verkiesing (2 Pet. 1:10) aan te trek; dit is uiteraard ook ‘n nuwe goddelike natuur.
Agor is ‘n dal van doodskaduwee – dit is ‘n fait accompli. Dit is die plek waar jy met klippe gegooi word en met vuur getoets word. MAAR: God sê Hy sal sy Bruid “daarvandaan haar wingerd gee” (haar posisie in Christus) en “die dal Agor tot ‘n deur van hoop”! Hy het immers in Ps.107:14 profeties reeds beloof: “Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.” In Jes. 9:2 word vooruitgeskou: “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.” Al gaan ek ook nou “in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” (Ps. 23:4). Let wel – dit is God (en nie Satan nie) wat ons “verbrysel het in ‘n plek van jakkalse en ons met ‘n doodskaduwee oordek” (Ps. 44:19). In Jesus die Christus vind ons egter die DEUR van hoop (Joh. 10:9), “om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig” (Luk. 1:79).
Brenton’s English Septuigint (‘n Engelse vertaling van die Griekse Ou Testament) vertaal Hos. 2:15 insigryk soos volg: “And I will giver her possessions from thence, and the valley of Achor to open her understanding …” Baie gelowiges gaan ten gronde omdat hulle nie as geestelike mense dinge verstaan nie (Hos. 4:6; 1 Kor. 2:14). Soos Saul kan ons “die volk (= die Bruid) en ons geestelike broers en seuns in die ongeluk laat stort omdat ons die eintlike “beroerders” is wat die seuns die heuning (= openbaringskennis) ontsê (1 Sam. 14:29). Die dal van Agor word IN CHRISTUS JESUS ‘n deur van hoop: patient, enduring longing. Heb. 6:18-20 sê ons moet hierin “kragtige bemoediging” vind, “om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (= land van belofte; derde dimensie). Jes. 65:10 (NASB) verseël die belofte: “and the valley of Achor [shall be] a resting place for herds, for My people who shall seek Me.”
Wie sou ooit kon droom dat Agab se skelwoorde aan Elia só ‘n wonderbaarlike geheimenis en belofte vir ons bevat? God het die vloek in ‘n seën omgedraai (Deut. 23:5)!
- Sela: Is jy ook al as ‘n beroerder van Israel uitgeskel? En weet jy nou hoe God die vloek in ‘n seën omdraai het!
- Lees: 19-21; Luk. 18:15-19:48
- Memoriseer: 17:21-18:14
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe vind ek God in die duister?