Dag 1100

 

“Spreek die waarheid met mekaar  …”

(Sag. 8:16a, OAV)

Ons is tans besig met die wyse waarop elkeen in die Bruid se mantel beslag kry deur die verhaal van Elia, tipologies te lees.

In die vorige Manna is daar gefokus op Agab se gelade woorde aan Elia:  “Is dit jy, jou beroerder van Israel?” (1 Kon. 18:17). In vers 18 antwoord Elia vir Agab reguit, sonder om mooi broodjies te bak – “Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.”

Agab, weet ons nou, dra ook die vleeslike mantel van die eerste Adam, en as gevolg daarvan is sy tong noodwendig leuenagtig – “all human beings are liars” (Rom. 3:4,GNB). Dit is soos Jes. 59:4  dit stel: “Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ‘n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.” Ook die profeet Jeremia (9:3) kenskets hierdie terminale toestand van leuenagtigheid waarbinne alle mense (Ps. 116:11; Tit. 1:12; Manna 833) funksioneer: “En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE.”

Ons het natuurlik die leuenagtigheid wat in ons voortwoeker as gevolg van die geestelike saad van die slang (Gen. 3:15), wat ons vader in Adam is: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh.8:44).     God se verwagting en opdrag tot die mens is dat hy die slang se gesplete tong moet leer aflê. Dwarsdeur die Ou Testament word ‘n appél tot die gelowige gemaak, soos dit byvoorbeeld in Sag. 8:16 mooi uitgespel word: “Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ‘n regspraak van vrede in julle poorte!”

Helaas bly alle mense – selfs al het hul by die kruis uitgekom – “leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim. 4:2). Dit is eers met die wedergeboorte dat die saad van Waarheid – sy Naam is Jesus (Joh. 14:6) – in ons geplant word, en deur die Heilige “Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh. 16:13).

As die geestelike wapenrusting uiteindelik meebring dat ons “lendene met die waarheid omgord” (Efes. 6:14) moet wees, beteken dit ook die saad van waarheid word in en om ons omgewing gesaai. Só kry die goddelike natuur (2 Pet. 1:4) beslag deur “die vrug van die Gees (wat) bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid” (Efes. 5:9).

Omdat ‘n mantel se wesensaard gesetel is in die Gesalfde se “Gees van die Waarheid”, kan dit nét toevertrou word aan diegene wat “niks (anders) as die waarheid in die Naam van die HERE … spreek nie” (1 Kon. 22:16). Loop jy “in die woord van waarheid, in die krag van God” (2 Kor. 6:7)?

  • Sela: Beantwoord die laaste vraag met waarheid in jou binneste (Ps. 51:6)
  • Lees: 11; Joh. 12
  • Memoriseer: 12:7
  • Delf dieper: Luister na Etienne Müller se cd-lering: Worstel met Leuenagtigheid