Dag 1101-1102

 

“manne … wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie”

(Rom. 11:4, OAV)

 

In 1 Kon. 18:18 spreek Elia vir Agab in waarheid aan, sonder aansien des persoons: “Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.” Elia beskuldig Agab dat dit hý en sy familie is wat Israel besoedel het en in die verderf stort (2 Kron. 22:4). Dit is waar wat Spr. 11:9 sê: “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf …” Sela asseblief.

Benewens dat Agab die gebooie van die Here geminag het, was sy groot oortreding dat hy “agter die Baäls aan geloop het”. Onthou deurgaans in ons tipologiese wyse van lees – die Agab (hier verteenwoordigend van die Adamiese vleesnatuur in jou) word gerig deur die Baäls.

Maar wat presies beteken dit om agter die Baäls aan te loop? Die meeste gelowiges maak geen ruimte hiervoor dat dit dalk van hulle waar mag wees nie, maar helaas is ons in die nuwe verbond steeds soos met die kinders van Israel wat weer en weer “die Baäls agternagehoereer” (Rigt. 8:33).

In Manna 1097-1099 het ons uitvoerig stil gestaan by die deur van Agor wat ‘n deur van hoop word. As deel van die toestand van die dal van Agor moet daar in die woestyn gedeel word met die Baäls. Hos. 2:16-17 spel die gevolg daarvn uit: “En in dié dag, spreek die HERE, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.”

Tipologies moet ons duidelik verstaan wat/wie die Baäls verteenwoordig. Interessant dat die werkwoordbasis van die Semitiese woordjie Baäl beteken “to have dominion over”. Die woord word gebruik om besitterkap aan te dui, van ‘n huis, grond of diere. Die werkwoord kan ook beteken om ‘n vrou te besit, daarom beteken  Baäl ook “husband”. Agab se vrou, Isébel, se naam beteken: “vrou van Baäl”! Nou is dit duidelik waarom God in Hosea uitspel dat Hy die man sal wees, nie meer Baäl nie!

Elia se opstel van homself teenoor Agab en Isébel en hul falanks Baälprofete is ‘n innerlike oorlog om jou “aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Kor. 11:2). Die korporatiewe Hoer van Babilon het al die nasies laat drink van die wyn van haar hoerery (Open. 14:8), wat nie dui op fisiese hoerery nie, maar ook onwettige geestelike bondgenootskappe (Hos. 8:9) met godsdienstige allure wat nié God is nie. Die skrikwekkende hiervan is dat ons dit nie eens bemerk nie (Hos. 7:9).

Maar kom ons kyk net eers na die geskiedenis van die Baälkultus in die antieke Kanaänitiese en Mesopotaamse god wat oorspronklik met landbou verbind is. Soos alle mitologiese figure is hy aanbid vir sekere natuurwetmatighede wat die primitiewe volkere vir hulself in mitiese verhale verklaar het. Daar is geglo hy is die gewer van lewe, en dat die mensdom van hom afhanklik was om diere en oeste te vermenigvuldig. Hy is ook genoem die seun van Dagon (van wie ons lees in 1 Sam. 5, wat in beheer was van die graan) asook Hadad, die god van storms wat sorg vir baie reën as hy sy stem donderend in die wolke laat hoor het.      Die land Kanaän was gewy aan die aanbidding van Baäl. Howard E. Vos, in sy boek: An Introduction To Bible Archaeology (pp. 17-19) verduidelik die omvang en intensiteit daarvan soos volg: “One may question that those ancient enemies of Israel were as evil as the Bible claims that they were, but even a superficial glance at Canaanite religion alone ably demonstrates their iniquity. Base sex worship was prevalent, and religious prostitution even commanded; human sacrifice was common; and it was a frequent practice–in an effort to placate their gods–to kill young children and bury them in the foundations of a house or public building at the time of construction: Joshua 6:26 ‘In his days did Hiel the Bethelite build Jericho: he laid the foundation thereof in Abiram his firstborn…’” (Lees ook Jer. 19:5.)

Lank voor hulle egter in Kanaän aangeland het, was daar ‘n blootstelling aan Baäl, en het dit te doen gehad met die vernietiging van die kinders van God (Num. 22:41). Maar net voor hulle die Beloofde Land ingegaan het, het God hul eksplisiet gewaarsku teen die Baälaanbidding: “Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie— want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou—sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.” (Deut. 6:14-15).

Met die verloop van jare, maar veral in die tyd van die Rigters, het die blootstelling en meedoen aan Baälaanbiddingpraktyke die Israeliete al meer een meer geïnfekteer, nie net op godsdienstige vlak nie, maar ook sosiaal en kultureel, veral deur die vermenging deur ondertrouery met die ander nasies van Kanaän (Rigt. 3:7). Vir Israeliete wat op so ‘n groot skaal blootgestel was aan hierdie tipe afgodediens, was die besmetting daarmee amper ‘n noodwendigheid. Zondervan’s Pictorial Bible Dictionary verduidelik dit soos volg: “At first the name Baʿal was used by the Jews for their God without discrimination, but as the struggle between the two religions developed, the name Baʿal was given up by the Israelites …”

In die boek Konings word verslag gedoen van Ahab wat, soos sy voorvaders Omri en Jerobeam, op koninklike vlak in Israel die Baälgodsdiens geïnstitusionalieer het, veral deur die huweliksluiting met Isébel, dogter van Ethbaal (die naam verklap al veel): “En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig, en vir Baäl ‘n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het. Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers.” (1 Kon. 16:31-33).

Dit was nie lank nie of die konings van Juda het ook in die voetstappe van hul broer in die Noorde begin loop: “En Juda het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en sy ywer opgewek, meer as al die dade van hulle vaders, deur hul sondes wat hulle gedoen het. En hulle het ook vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. En daar was ook skandseuns in die land; hulle het gehandel volgens al die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het.” (1 Kon. 14:22-24).

Dit was Baälaanbidding wat Israel en Juda uiteindelik in ballingskap laat kom het – die Noordelike koninkryk van Israel is deur Assirië in ballingskap gevange gehou, en die Suidelike koninkryk van Juda deur Babilon, albei landstreke boordensvol van afgodediens aan Baäl.

Die tipologiese betekenis hiervan vir my en jou in die Bruid, asook vir die kerk, is van baie groot belang. In die volgende Manna sal ons in groter detail dit bespreek.

  • Sela: Wat verstaan jy, in die lig van die geskiednis, onder Baälaanbidding vandag?
  • Lees: 12; Matt. 22-23; Luk. 20-21
  • Memoriseer: 22:14
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Om Heiligheid Volmaak te Maak in die Vrees van die Here