Dag 1103-1105

 

“Julle aanbid wat julle nie weet nie …”

(Joh. 4:22, OAV)

 

Ons is tans besig om te kyk na die afgodediens aan Baäl as tipologie van die Nuwe-Testamentiese gelowige wat onderweg is in sy/haar hoë roeping, en wat dan deur dié afgode (in die derde dimensie) in ballingkap verkneg word. Die oorkoepelende tema hier is die verkryging van jou geestelike mantel, en ons gebruik Elia as die prototipe hiervoor. Sy konfrontasie met Agab  verteenwoordig hier die konfrontasie met die Adamiese vleesnatuur in jou , en dít word gerig deur die Baäls.

Uiteindelik lei hierdie blootstelling helaas tot ballingskap op allerlei terreine. Dit is absoluut nodig om te verstaan wat presies hierdie Baäls is en wat hulle vir ons inhou.

‘n Oorkoepelende studie van Baälaanbidding in die Ou Testament wys hoofsaaklik vier tipologiese aspekte uit vir Nuwe-Testamentiese gelowiges. Die konteks het uiteraard grootliks verander soos die gemeenskap meer gesofistikeerd geword het, maar die oer-oue praktyke word net in nuwe verpakkings aangebied.

Die eerste afgodepraktyk is die offer van kinders. Indertyd was dit hoofsaaklik die oudste kind wat in die vuur geoffer is, maar vandag is daar selfs ‘n groter aanslag op kinders. Die Wêreld- Gesondheidsorganisasie se statistiek bereken dat daar jaarliks ‘n geraamde 40-50 miljoen aborsies plaasvind. Dit is ongeveer 125 000 aborsies per dag. 65% van die ma’s wat hierop besluit, is Christene. Bereken hiermee saam die geweldige hoeveelheid fetusse wat deur verkeerde orale en ander kontrasepsie geaborteer word (sien Manna 446-445), en ‘n mens kan verstaan dat Baälaanbidding ‘n alledaagse praktyk geword het. Die geestelike vernietiging van kinders deur sluikhandel, molestering, verkragting en mishandeling is wêreldwyd ook van epidemiese proporsie. (Daar is byvoorbeeld volgens die United Nations Office on Drugs and Crime naby 2 miljoen kinders per jaar wêreldwyd wat ontvoer word en as seksslawe aangehou word.)

As jy op enige manier kinders offer ter wille van gemak, lewenstyl, plesier; as daar bloed aan jou hande is as gevolg van wetende of onwetende aborsies, is jy besig met Baälaanbidding, en sal dit verseker jou uit die derde dimensie hou.

Die tweede afgodepraktyk is seksuele immoraliteit. Baälaanbidding was oorspronklik ‘n fertiliteitskultus, en dit het met die eeue tot seksuele perversie en verslawing aanleiding gegee. Benewens ‘n baie liberale beskouing van seksuele blootstelling en aktiwiteit, het ons samelewing tot ‘n groot mate geseksualiseerd geword, en is die toleransie en bewusmaking daarvan tans ongeëwenaard in die geskiedenis. Die bewussyn van seksuele vryheid en hedonisme, veral deur die digitale media (soos deur byvoorbeeld pornografie), laat miljoene gelowiges in ballingskap bly en verhoed hul om in te gaan in die derde dimensie.

Daarbenewens het dit ‘n sekulêre seksuele kultuur gevestig waarbinne ook Christene lustig meedoen. Trouens, daar is geen verskil, oorkoepelend gesien, in die seksuele gedrag, moraliteit, modesty, kleredrag, etiek, en so meer, tussen Christengelowiges en ongelowiges nie. Die navorsing van Mark Regnerus, in sy boek: Forbidden Fruit: Sex & Religion in the Lives of American Teenagers, wys uit hóé groot die diskrepansie is tussen geloofsbelydenis en praktiese aksie. En dit is nie net onder die jeug nie, maar ook gemodelleerde gedrag gebaseer op die seksuele promiskuïteit van hulle ouers en rolmodelle.

Promiskuïteit en losbandigheid is eksplisiete waarmerke van die Baälkultus. Promiskuïteit word deur woordeboeke beskryf as “indiscriminate mingling or association, especially having sexual relations with a number of partners on a casual basis.’

Losbandigheid “is the ‘dissolute indulgence in sensual pleasure’ or  ‘lacking legal or moral restraints, especially: disregarding sexual restraints.’

Op baie vlakke en deur verskeie vorme van deelname op hierdie vlak word baie Christene verhoed om tot die derde dimensie van outoriteit te beweeg.

Derdens: Baälaanbidding, in navolging van Bíleam (op Engels: Balaam), wat die Bybelse tipe daarvan is, maak ook gebruik van “magic, interaction with evil spirits, incantations, and casting spells”. Jos. 13:22 (ABP) noem hom ‘n “clairvoyant”. Daar is baie aksies van Christene wat grens aan wat ek noem Christelike heldersiendheid. Dit het niks met die Heilige Gees te doen nie, maar is insigte wat verkry word deur sensoriese persepsies. Soos heldersiendes skakel dié gelowiges hulle verstandsfakulteit uit, maak dit passief, kry impressies of invalle. Soms lei dit selfs tot gewaande Geesgedrag, soos lag en val in die Gees, blaf, rol, rukkings, en so meer, wat mense met die werking van die Heilige Gees verwar. Maar helaas is dit dikwels eerder “verleidende geeste” (1 Tim. 4:1).

Die Oosterse praktyke van Oosterse godsdienste wat die verstandsfunksie uitskakel, stel ‘n gelowige eweneens bloot aan geeste wat nié die Heilige Gees is nie.

‘n Baie groot probleem wat Christelike heldersiendheid meebring, is gelowiges wat nié by die Heilige Gees hoor nie, maar dit as sodanig aanbied. Sulke gelowiges verloor mettertyd hul profetiese gawe.

Hierdie Baälaanbidding het wye inslag in kerklike praktyk – Op. 2:14 waarsku soos volg daarteen: “Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.” Ook Jud 1:10-11 verduidelik hierdie Baälaanbidding in die kerk: “Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde. Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.”

Hierdie Baälaanbidding het ‘n vleeslikheid tot gevolg in gelowiges. Etimologies verduidelik Faussett’s Bible Dictionary dit soos volg: “The apostle Peter (2Pe_2:15) says, ‘Balaam the son of Bosor’ (the same as Beor; Bosor is akin to basar, ‘flesh, and Balaam showed himself the ‘son of carnality.’” Dit kring nog verder uit: “In 2Pe_2:15 Balaam’s example is used as a means to illustrate the pernicious influence of insincere Christian teachers. The author might have alluded to Balaam in the passage immediately preceding 2Pe_2:15 because of his abominable counsel. This is done in Rev_2:14. Here, of course, Balaam is the type of a teacher of the church who attempts to advance the cause of God by advocating an unholy alliance with the ungodly and worldly, and so conforming the life of the church to the spirit of the flesh.” (International Standard Bible Encyclopedia).

Die vierde vorm van Baälaanbidding is die aanbidding van die aarde, son, maan en sterre. Vir die afgelope twintig jaar is daar met reg toenemend fokus op ‘n groen bewussyn en gepaardgaande ekologiese sensitisering. Ongelukkig bly dit nie daar nie. Thomas Berry, in sy invloedryke boek: The Dream of the Earth, verduidelik hoe “a new type of religious orientation … must emerge from our new story of the universe” (p. 87).

Oud-vise-president van Amerika, Al Gore, het in sy boek Earth in the Balance: Ecology and the Human Spirit ‘n hoofstuk getiteld: ‘Environmentalism of the Spirit.’  Gore maak daarin hierdie verreikende stelling: “The religious ethic of stewardship is indeed harder to accept if one believes the world is in danger of being destroyed-by either God or humankind. This point was made by the Catholic theologian Teilhard de Chardin when he said, ‘The fate of mankind, as well as of religion, depends upon the emergence of a new faith in the future’. Armed with such a faith, we might find it possible to resanctify the earth, identify it as God’s creation, and accept our responsibility to protect and defend it.” (p. 263).

Gore verwys na die Katolieke teoloog Pierre Teilhard de Chardin se boek Christianity and Evolution. Streng gesproke is Chardin nie ‘n konsistente Christelike teoloog nie, want hy glo in ‘n universele Christus, wat nie ‘n Persoon is nie, maar die “gees” wat in alle materie is. Hy bied streng gesproke ‘n panteïstiese wêreldbeskouing met ‘n fusie tussen evolusie en die Christelike leer aan, wat glo dat alle dinge lewe en deurdrenk is met God. Hy beweer byvoorbeeld dat ‘n mens net gered kan word deur een met die heelal te word.

Die Christelike sousie van Gore verbloem helaas nie sy bevordering van Baälaanbidding binne ekologiese verband nie: “Our religious heritage is based on a single earth goddess who is assumed to be the foundation of all life…all men have a god within. Each man has a god within because creation is God.”

As ‘n mens byvoorbeeld Lynn White, Jnr. se artikel: ‘The Historical Roots of Our Ecologic Crisis,’ [in Garrett de Bell, red.: The Environmental Handbook: Prepared For The First National Environmental Teach-In (pp. 21-25)] lees, besef jy baie vinnig dié perspektiewe (wat ook deur die Emergent Church-beweging gepropageer word), is nié net panteïsties nie, maar ook duidelik pagan. Sy sê onder andere: “By destroying pagan animism, Christianity made it possible to exploit nature in a mood of indifference to the feelings of natural objects … The spirits in natural objects, which formerly had protected nature from man, evaporated.”

Die verbintenis met die Baälkultus is baie duidelik – dit is om hierdie rede dat Elia die god moes teenstaan wat volgens die Kanaäniete verantwoordelik was vir die reën (1 Kon. 17:1). Elia moes die hemel toesluit om die reën terug te hou sodat die volk besef het Jahwe is die God wat die reën gee (Matt. 5:45).

Ons moet verstaan dat verlossing allereers deur Jesus Christus kom, en dán sal die aarde verlos word deur die “seuns van God”: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.” (Rom. 8:19-23).

Om die neerslag van die antieke Baälkultus in vandag se eietydse geloofsmodes raak te sien, is nie meer so moeilik nie. Oorkoepelend beskou, is Baälaanbidding ‘n sinkretistiese poli-teïstiese godsdiens, of eenvoudiger gestel: daar was verskeie gode wat met mekaar geïntegreer word of naasmekaar saambestaan. Alles wat ons in vorige Mannas oor die vermening van die Christelike godsdiens met die pagan gebruike bespreek het, kan ook as Baälaanbidding beskou word. Ons aanbid weliswaar wat ons nie weet nie (Joh. 4:22) …

  • Sela: Bid asseblief die vier punte van die eietydse verpakkings van die Baälkultus deur en laat die Heilige Gees jou rondom die neerslag daarvan in jou lewe oortuig.
  • Lees: 13; Matt. 24-25
  • Memoriseer: 24:34
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe betree ek die Drumpel van die Derde Dimensie?