“U hoof op u is soos die Karmel …”
(Hoogl. 7:5, OAV)
Karmel is duidelik nie lukraak deur Elia gekies nie – dit is ‘n strategiese ruimte, en ons kyk tans daarna as tipologiese ruimte. In die vorige Manna het ons gesien wat die betekenis van die woord in Hebreeus is, en dat dit dui op ‘n tuin (2 Kon. 19:23), of ‘n wingerd (Jes. 10:18; Lev. 23:14), albei is heenwysings na die Bruid van Christus – dit is die enigste ruimte waarbinne jy jou kan posisioneer teen ‘n teëstander! Jones’ Dictionary of Old Testament Proper Names benoem dit: “Fruitful Field”, wat geen sin maak as dit letterlik gelees word as ‘n berg van harde sandsteen en bos (Encyclopedia of The Bible) nie, maar dit versterk duidelik die voorstelling van ‘n simboliese ruimte!
In dié lig is die masskrif hierbo dan ‘n interessante verruiming van ons begrip van die Hoof: “U hoof op u is soos die Karmel …”, veral as ‘n mens besef dat die woordjie “Karmel” nie eers één keer in die Nuwe Testament voorkom nie. Dit beteken dan dat dit volledig tipologies in die nuwe verbond vervang is met die Bruid van Christus.
Ons weet reeds dat Johannes die Doper, as dié prototipiese hooffiguur van die ou verbond (Matt. 11:11), onthoof moes word (Mark. 6:28) sodat Jesus die regmatige Hoof van die Liggaam kon word. Die volgende Skrifte bevestig dit onteenseglik dat Jesus nou die Hoof is:
- “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee …” (Efes. 1:22).
- “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.” (Kol. 1:18)
- “en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is …” (Kol. 2:10)
- “en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word” (Kol. 2:19)..
Tog, uit die Skrifte hierbo, word die Hoof gelyk gestel aan Karmel, wat nie Jesus voorstel nie, maar die Bruid van Christus. [Tipologies sou ons kon sê: die Bruid is die tuin van Eden; Jesus is die Boom van die Lewe BINNE DIE TUIN – Op. 2:7; 22:2 & 14. Óf: Jesus is die wynstok; die Bruid is die lote – Joh. 15:1-2.]
Dit lyk dus of daar ‘n inkongruensie is in die beeld, asof Karmel na regte Jesus moet verteenwoordig, maar ons stel dit gelyk aan die Bruid. Die moontlike inkongruensie word versterk as ‘n mens in gedagte hou dat die gedeelte uit Hooglied kom uit ‘n passasie waar die Bruidegom die Bruid besing, en nie andersom nie. Dis onteenseglik die Bruid se Hoof wat met Karmel vergelyk word.
‘n Maklike hermeneutiese uitweg sou wees om te sê, ja, maar natuurlik is Jesus die Bruid se Hoof, maar dis méér as dit – hierdie is die Bruid se eie hoof waarvan sprake is. Maar die miljoendollarvraag is – kán sy ‘n ander hoof/Hoof hê as Jesus?
Die volgende vier Skrifte praat ook van die Hoof, maar elkeen spel dit eksplisiet uit – die Hoof is Christus (nie Jesus nie):
- “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” (1 Kor. 11:3)
- “om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—“ (Efes. 1:10)
- “maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus …” (Efes. 4:15).
- “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.” (Efes. 5:23)
‘n Ander argument kan wees: maar Jesus word ook soms mos net op sy uitgebreide of ontvouende Naam, Christus, genoem, soos byvoorbeeld dié klompie voorbeelde uit die evangelie van Mattheus: 2:4, 11:2; 22:42; 27:17. En dit sou moontlik wees, maar onwaar-skynlik, want in die Ou Testamentiese voorbeeld wat ons na kyk, kon die tipologie nie toe rééds die onderskeid tussen Jesus en die Christus uitspel nie. (Kort voor Jesus se kruisiging wou hy nie dat die openbaring van Jesus die Christus die manifestasie daarvan vooraf laat gaan nie, daarom gebied Hy in Matt. 16:20 hulle “dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie”.) Daarmee saam – die koning (wat Jesus tipologies voorstel) word in verhouding met die hoof van die geliefde Sulammitiese vrou (Hoogl. 6:13), wat die Bruid voorstel, uitgebeeld. Dit kan uiteraard logieserwyse nié sý hoof wees nie. Derdens: die voorsetselfrase spel dit uit: “U hoof op u is soos die Karmel …”
Keer ons terug na Hoogl. 7:5 is die volledige vers absoluut veelseggend: “U hoof op u is soos die Karmel, en die golwende hare van u hoof soos purper—’n koning gevang in haarlokke!” ‘n Paar ander Bybelvertalings verhelder die taamlike duister beeld:
- “Your head is like Carmel, and the hair of your head is like purple, in whose net the king is prisoner.” (BBE)
- “Thy head is like Carmel: and the hairs of thy head as the purple of the king bound in the channels.” (DRB)
- “Your head crowns you like Mt. Carmel. Your flowing locks are like purple, and a king is captured in the dangling tresses.’ (ISV) [“tress”: “A knot or curl of hair; a ringlet. – Webster.]
- “Thine head upon thee is like Carmel, and the hair of thine head like purple; the king is held in the galleries.” (KJV) [ “gallery”: “An ornamental walk or apartment in gardens, formed by trees.” – Webster.]
- Van almal is die volgende vertaling miskien die vreemdste, maar, interessant genoeg, miskien die naaste aan die oorspronklike: “That head that standeth vpon thee is lyke Carmel: and the heere of thy head is like purple, and like a kyng dwellyng among many water conduites.” (Bishop’s Bible 1568). [“conduit”: 1. A canal or pipe for the conveyance of water; an aqueduct. Conduits are made of lead, stone, cast iron, wood, &c., above or below the surface of the earth. 2. A vessel that conveys the blood or other fluid. 3. A conductor. These organs are the nerves which are the conduits to convey them from without to their audience in the brain.” – Webster.]
Wat dít alles van Karmel, Elia en die outoriteitsmantel van die Bruid sê, sal ons helaas eers in die volgende Manna kan uitwys.
- Sela: Probeer die waarde insien van die detail delf in die Skrif in die lig van 2 Tim. 3:16.
- Lees: 18-19; Luk. 23; Mark. 16; Matt. 28
- Memoriseer: 19:34
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Hein Holm: Ons terugtog na Eden en die Herstel van ons Heerlikheid