Dag 1112-1113

 

“En hulle moet … daar ‘n purper doek oor uitsprei.”

(Num. 4:13, OAV)

In die vorige Manna het ons gesien dat Karmel duidelik nie lukraak deur Elia gekies nie – dit is ‘n strategiese en veral ‘n tipologiese ruimte. Hoogl. 7:5, wat die kernskrif is wat nou onder die loep is, stel die Hoof gelyk aan Karmel, wat duidelik nie Jesus is nie, maar die Bruid van Christus. Dis onteenseglik die Bruid se Hoof wat met Karmel vergelyk word.

Die vraag is; kán die Bruid ‘n ander hoof/Hoof hê as Jesus? Daar is toe vier Skrifte aangehaal wat ook van die Hoof praat, maar elkeen spel dit eksplisiet uit – die Hoof is Christus:

Keer ons terug na Hoogl. 7:5 is die hele vers absoluut veelseggend: “U hoof op u is soos die Karmel, en die golwende hare van u hoof soos purper—’n koning gevang in haarlokke!” Uit ‘n paar ander Bybelvertalings is die taamlike duister beeld meer verhelder. Wat dít alles van Karmel, Elia en die outoriteitsmantel van die Bruid sê, is belowe, sal ons eers in hierdie Manna probeer uitwys.

Die beeld wat in dié vers gebruik word, is kompleks en veelseggend: “die golwende hare van u hoof soos purper—’n koning gevang in haarlokke!”.

In die meeste vertalings val die beskrywing “golwende” (“flowing locks”) uit. Die rede hiervoor is dat die Hebreeuse woord vir ‘hare’ dit bloot impliseer, volgens Strong: “properly something dangling, that is, a loose thread or hair”. Die Apostolic Bible Polyglot hou dit in Grieks voor as: “the braid of your head”, wat in die wortelbetekenis dui op: “plunging through the water like a ship”. Hierdie beeld probeer die vlugtigheid van beweging vasvat, maar dis belangrik dat jy raaksien dit funksioneer binne die oorkoepelende metafoor van seewater en skepe – die koning, byvoorbeeld, word daarin gevang soos in ‘n visnet (“in whose net the king is prisoner”). Dit sluit ook mooi aan by die kleur purper wat genoem word – Van der Merwe, in sy boek Prophetic revelations of colours, noem dat die kleur verwys na “the source of the dye, namely, a shell-fish found on the shores of the Mediterranean” (p. 152).

Dwarsdeur die Skrif word die see vergelyk met die wêreld, of dan “humanity”. Vier Skrifte wat eksplisiet daaroor handel:

  • “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” (Jes. 57:20)
  • “die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan” (Jes 60:5)
  • “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.” (Op. 17:1b-2)
  • “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.” (Op. 17:15)

Die hoof van die Bruid word duidelik gesitueer in die wêreld, in “humanity”, maar dit is duidelik dat dit oordek of oorspoel word met die attribute van die ware Hoof, Jesus. Daarvan is hare en die kleur purper die duidelike aanduidings.

Allereers: die simbool ‘hare’. Silvia Schroer, in haar boek: Body Symbolism in the Bible (p. 97) sê dat hare in die Bybel altyd op ‘n kroon dui. Daarmee saam, in die lig van 1 Kor. 11:15, word hare eksplisiet gekoppel aan “glory” en “covering”: “If a woman have long hair, it is a glory to her: for her hair is given her for a covering.” Kyk hoe word hierdie kern- simboliese betekenisse ingeweef in Jes. 35:1-2: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.”

Een van die prominentste verwysings na hare in die Ou Testament is na Simson, die Nasireër wat nie sy hare mag gesny het nie. Sy krag was boonop in sy hare gesetel (Rigt. 1:17). As tipologie, weet ons, is Christus die krag van God (1 Kor. 1:24). As ons dit dan alles integrerend saamlees, is hare ‘n duidelike Bybelse simbool van heerlikheid, krag en”covering”.

Die woordjie “covering” word pertinent hier gebruik, want dit maak die skakel met die Skrifgedeelte wat die Hooglied-teks oor Karmel in duidelike perspektief stel: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Hab. 2:14). Hierdie kernskrif van die derde dimensie en God se bloudruk met die aarde word geïmpliseer deur die Hooglied-teks. Sien hoe duidelik die twee “Hoofde”, dié van Jesus en dié van die Christus as ‘t ware inmekaar vloei. Soos die Bruid in die “sea of humanity” geïntegreer word met haar Bruidegom, word sy al meer deur Hom ge-“cover”, word Hy die kroon van haar Hoof, die heerlikheid wat haar beklee. Hiermee word die Bruidegom-koning ge-“capture”, in ‘n net gevang van die “seuns van God” (sien Manna Dag 133) in hul heerlikheid. Dit word die situasie waarbinne  Jesus se woorde in Joh. 17:22 vervul word: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” As dít gebeur, hét die Bruid “the mind of Christ” (1 Kor. 2:16, KJV).

Die tweede woordjie in die Hooglied-vers waarop ons wil fokus, is “purper”. Die kleur het ‘n ryk Bybelse geskiedenisresonansie en gepaardgaande simboliek. Benewens dat dit dui op eer, status en posisie (Dan. 5:7, 16 & 29), rykdom (Luk. 16:19; Op. 18:16) en koningskap (Rigt. 8:26; 1 Kon. 22:10; Jes. 22:21; Jona 3:6), is dit oorvloedig in die tabernakel gebruik (Eks. 25-28, 35-36, 38-39), ook in die klere van die hoëpriester (Eks. 28:5-6).

In Jes. 61:10 word die tipologiese betekenis van hierdie bekleding pragtig uigespel: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.” Hierdie geregtigheid sluit natuurlik eer, status, posisie, rykdom en koningskap in.

Die kleur purper word met ander woorde ‘n aanduiding van “die klere van heil”, “die mantel van geregtigheid”. Daarom is dit so belangrik dat die Romeinse soldate met die kruisiging “‘n purper kleed om Hom gewerp” (Joh. 19:2), ‘n uitspeel van die tipologiese profesie in Num. 4:13, wat as masskrif hierbo dien..

Die vreemde gelykstelling van hare wat soos purper lyk, word binne hierdie konteks absoluut verstaanbaar!

In die volgende Manna sal ons laaste aspekte van hierdie ryk vers in Hooglied bespreek.

  • Sela: Waarom sou Jeus ‘n purper kleed moes dra? Sien ook Num. 4:13.
  • Lees: 20-21; Luk. 24; Hand. 1-3
  • Memoriseer: 21:11 (wat ‘n Goddelike sinchronisasie!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Karin Aucamp: Die Geheimenis van die Purperkleed