Dag 1116-1117

 

“Hoe lank hink julle op twee gedagtes?”

(1 Kon. 18:21, OAV)

In die vorige Manna het ons afgesluit met die verdere moontlike betekenis van die berg Karmel as simbool van die “harvest”, met ander woorde vir die eietydse gelowige bring die uitoefening van God se agenda ‘n seker bevestiging van sy geestelike mantel van outoriteit. Dit is die tyd waarvan Amos 9:13 geprofeteer het: “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.” Die “showdown” met die vyand is genestel in die absolute seker oortuiging van ‘n oorwinning.

Daar is egter een spesifike toestand wat die hele oefening kan laat misluk, wat die produksie van die geestelike oes in die wiele kan ry. Dit is ook een van die ernstige toestande in die kerk wat gelowiges verhoed om die oorwinning van God te kan ontvang.

In 1 Kon. 18:20-21 lees ons: “En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

Die mooi idiomatiese uitdrukking: ‘om te hink op twee gedagtes’ word soos volg verhelderend in die volgende vertalings voorgehou:

  • “How long do ye go limping between the two sides?” (ACV)
  • “How much longer will you try to have things both ways?” (CEV)
  • “How much longer will it take you to make up your minds?” (GNB)
  • “How long are you going to sit on the fence?” (MSG)

Die toestand wat hier idiomaties beskryf word is ‘n terminale siekte in die Liggaam van Christus – die Engels benoem dit die mooiste: “double-mindedness”. Webster verklaar dit soos volg: “Having different minds at different times; unsettled; wavering; unstable; undetermined.”

Die apostel Jakobus het bes moontlik hierdie woord in sy sendbrief gemunt. Die Griekse woord is dipsuchos, en dit beteken letterlik: “a person with two minds or souls”. Hy gebruik twee keer die woord, allereers in die konteks van Jak. 1:5-8: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie— so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.”

Uit hierdie omvangryke waarheid kan ons verskeie belangrike fasette aanstip wat elke gelowige kan volg in die seker verkryging van God se beloftes:

  • Daar is geen rede om in die vangstrik van dubbelhartigheid gevang te word nie. God maak ‘n oop aanbod aan elkeen wat van Hom wysheid vra. Hierdie wysheid wat jy vra, is nie ‘n haelgeweerbenadering tot ‘n saak nie – dit is absoluut spesifiek. Jy moet presies wees in wat jy vra rondom die saak waarin jy onseker is sodat jy presies kan weet wat God se wil is. Die eerste stap is dus: vra!
  • Uit Luk 11:9-13 weet ons onteenseglik die eenvoud van hierdie (kinderlike) gebed om hulp en God se seker reaksie daarop: “En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”
  • Die vraag is egter – hoekom gebeur dit nie in ons alledaagse lewe nie? Waarom vra ons, maar kry nie? In Matt. 21:21-22 word dieselfde saak aangesny, maar die voorwaarde van gebedsverhoring word eksplisiet deur Jesus gestel: “Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
  • Twyfel word hier en in Jakobus voorgehou as die rede waarom God nie namens ons handelend kan optree nie. Onthou: geloof is die operasionele sleutel van die ganse geestelike realm en alle wetmatighede daarin. Ons leef in ‘n tyd waarin die eietydse teoloë (soos Julian Müller se Om te Mag Twyfel en Anton van Niekerk se Geloof sonder sekerhede), en veral die Christelike media (soos die tydskrif Finesse – sien byvoorbeeld die artikel in http://voelgoed.co.za/geloof-en-twyfel-loop-saam) twyfel voorhou as ‘n aanvaarbare praktyk. Helaas is die Bybel se perspektief daarop radikaal anders: Hy wat twyfel, kan NIKS van God ontvang nie, omdat hy dubbelhartig is.
  • As jy wel twyfel, kan jy ook allereers vra vir ‘n genadegawe van geloof (1 Kor. 12:9). [Gaan lees weer Manna Dag 46.] Dáármee toegerus kan ons dan “met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:16). Vrymoedigheid het ‘nroot beloning (Heb. 10:35)! Ons het dikwels nie vrymoedigheid met God nie, omdat ons hart ons veroordeel (1 Joh. 3:21). Indien dit die geval is, maak 1 Joh. 3:20 jou eie: “want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles”. Hiermee saam: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” (1 Joh. 5:14). Onthou – jou vrymoedigheid is nie gegrond op jou geregtigheid nie, maar nét “deur die bloed van Jesus” (Heb. 10:19) “op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees” (vers 20).
  • 1:5 verklaar: “En as iemand van julle wysheid kortkom ..” Uit 1 Kor. 1:24 leer ons dat “Christus … (is) die wysheid van God”. Die “onnaspeurlike rykdom van Christus” (Efes. 3:8)  is tot die beskikking van elkeen wat VRA sonder om te twyfel. Dit beteken dat God vir elkeen wat wysheid vra dit laat verkry deur die Christus! Natuurlik hou dit in dat jy met die ekklesia geïntegreer moet wees. Dit is deur die Liggaam van Christus dat die wysheid vrygestel word: “sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here, in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom” (Efes. 3:10-12).
  • Sela: Het jy die vrymoedigheid?
  • Lees: 9-12
  • Memoriseer: 9:5
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Elkeen wat Bid ontvang – Die Gebed van die Geloof