“suiwer die harte, julle dubbelhartiges”
(Jak. 4:8, OAV)
Ons ondersoek tans die toestand van dubbelhartigheid, of dan: “double-mindedness”. Hierdie woord is bes moontlik deur die apostel Jakobus in sy sendbrief gemunt. Hy gebruik twee keer die woord, allereers in die konteks van Jak. 1:5-8, wat ons in die vorige Manna onder die loep gehad het. Die tweede verwysing na die term is in Jak. 4:7-8: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”
Die wyer konteks van die hoofstukproloog is baie belangrik vir die regte verstaan van die vers waarin die woord ‘dubbelhartig’ voorkom: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon? Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Die boek Jakobus word allerweë beskou as ‘n praktiese handleiding vir die gelowige se Geeswandel. Anders as Paulus se filosofiese relase, is Jakobus baie prakties in die wysheid wat hy hier bied. Die International Standard Bible Encyclopedia sê die volgende oor hierdie apostel: “All tradition agrees in describing James as a Hebrew of the Hebrews, a man of the most rigid and ascetic morality, faithful in his observance of all the ritual regulations of the Jewish faith” In hierdie lig kan sy no nonsense-benadering dui op ‘n wettiese ingesteldheid, maar desnieteenstaande was hý die een wat die Liggaam geleer het van “die volmaakte wet van die vryheid” (Jak. 1:25).
Uit die perikoop wat hierbo gebied is, is daar baie duidelik ‘n oorsaak-en-gevolg wat voorgehou word. Uit die slotgedeelte van hoofstuk 3 het Jakobus die verskil verduidelik tussen die “wysheid wat van bo kom” en die wysheid wat “aards, natuurlik, duiwels” (vers 15) is. Hiemee verduidelik hy mooi die voedingsbron van die twee nature: die mens se natuurlike, sondige natuur teenoor die “goddelike natuur” (2 Pet. 1:4). Die gelowige se goddelike natuur kulmineer in “die vrug van die geregtigheid (wat) gesaai (word) in vrede vir die wat vrede maak” (vers 18).
Dáárteenoor staan die gelowige se natuurlike, sondige natuur, gevoed deur demoniese en sensuele wysheid, vol “afguns en selfsug” wat lei tot “wanorde en allerhande gemene dade” (:16). As hoofstuk 4 begin, is dit nog alles deel van die argument waarmee Jakobus besig is: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?” Dus: natuurlike/sensuele/demoniese wysheid > afguns en selfsug > wanorde en allerhande gemene dade > welluste wat in julle lede stryd voer > oorloë en vegterye > pleeg moord en is naywerig > word egbrekers en egbreeksters > ‘n vriend van die wêreld > ‘n vyand van God.
Let wel op die progressie wat algaande sneeubal. Onthou ook, asseblief: dit is nie noodwendig fisiese oorlog en moord en egbreuk waarna hier verwys word nie (soos Jesus so duidelik in die Saligpredikinge uitgespel het – Matt. 5:21-48), maar alles metaforiese aanduidings van die gelowige se ontrouheid aan die Bruidegom, soos Paulus dit mooi gestel het: “want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Kor. 11:2). ‘n Verhouding met God verdra geen louheid (Op. 3:16) of onbetrokke diens (Matt. 11:12) nie, maar daadwerklike ywer en passie, en bowenal getrouheid. Gelowiges moet God dien met hulle hele hart (Kol. 3:23); Sy wil nie halfhartig doen nie, maar d “die wil van God van harte” (Efes. 6:6) doen. Die samevatting van die wet is immers passie: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” (Luk. 10:27).
Die gelowige met ‘n goddelike natuur val nie vir die aansprake van sy/haar liggaam om ongebonde te wees en te doen wat die sondige natuur begeer om sonder gewete te doen nie, en is absoluut gefokus ingestel op heiligmaking, “waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Omdat gelowiges maklik‘n gesindheid kweek dat “alles geoorloof” (1 Kor. 6:12) is, is daar dikwels ‘n laissez faire-houding. Sef. 1:12 beskryf hierdie lewenshouding soos volg: “En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.”
Soos ‘n kanker voortwoeker (2 Tim. 2:17), neem die menslike natuur die goddelike natuur stelselmatig oor – “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).
Hierdie toestand van gelowiges lei dikwels tot biddeloosheid, ‘n onvermoë of ‘n traagheid om te wil bid. Die oorsprong van biddeloosheid kan onbelyde oortredinge en ongeregtighede in die gelowige se lewe wees: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God …” (Jes. 59:1-2a; sien ook Jer. 5:25). Maar ek vind dat dit dikwels eerder ‘n simptoom of aanduiding is van die feit dat iemand besig is om sy merk te mis, met ander woorde te hamartano, te sondig, dit wil sê die nié te loop op die pad van sy hoë roeping in Christus nie. In 1 Sam. 12:23 maak die profeet hierdie belangrike opmerking: “Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid …”.
Biddeloosheid is ‘n aanduiding dat jy in sonde loop, met ander woorde nie jou merk in Christus tref nie.
Net so terloops – Jesus is dié voorbeeld vir ons van iemand wat ten spyte van omstandighede aanhou bid het, “gedurig (sonder om) moedeloos (te) word nie” (Luk. 18:1), omdat Hy deurgaans op sy skeppingsdoel gefokus het en dit gedurigdeur in die oog gehou het:
- te midde van ’n propvol program (Mark. 1:32-36);
- wanneer Hy moeg was na ’n harde dag se werk (Mark. 6:31-49);
- wanneer tyd baie min en kosbaar is – toe dit tyd geword het vir Hom om sy roeping te volvoer, het hy in die kosbare tydjie wat oor was, gebruik om vir sy dissipels, én vir my en jou, te bid (Joh. 17);
- wanneer almal spesifiek sy raad en hulp gesoek het (Luk. 5:15-16); en
- wanneer die stryd met die teëstander op sy felste was (Luk. 22:39-46).
Tot sover dan oor biddeloosheid. Dan stel Jak. 4:3 die teendeel ook – ás die gelowige wat sy natuurlike passies uitleef wél dan bid, ontvang hulle nie, “omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring”.
Dit is dus moontlik om verkeerd te kan bid. Jakobus se groot argument in sy sendbrief gaan oor die oeroue spanning tussen geloof en werke. En die argument is reeds vir ons baie bekend – geen goeie daad kan jou in diregte verhouding met God bring nie, net geloof:
- “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” (Rom. 3:28).
- terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus,” (Gal. 2:16).
Dis al wat redding vra. Máár – ná jou redding, word jou geloof deur werke gekwalifiseer:
- “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” (Jak. 2:14)
- “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.” (Jak. 2:17-18)
- “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?” (Jak. 2:20)
- “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? … Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.” (Jak. 224 & 26).
Dit is dus geweldig belangrik wat Heb. 11:6 rondom gebed uitspel: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” Máár as daar nie duidelike werke is wat jou geloof onderskryf nie, is die geloof ook nie werklik geloof nie. Dit is wat Jakobus bedoel dat jy verkeerd kan bid, want jy kan glad nie die volmaakte wil van God (Rom. 12:2), vir jou, en vir ander, onderskei nie. Terug dan by die progressiewe proses wat Jakobus hierbo uitgespel het: ‘n vriend van die wêreld word ‘n vyand van God. Helaas – omdat gelowiges hierdie geestelike wetmatigheid nie verstaan nie, besef hulle nie “dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie” (Hand. 5:39).
Dit alles gesê, is dit verskriklik belangrik om te besef dat die worteloorsaak van al hierdie sake is dubbelhartigheid. Dit omvat al die aspekte wat hierbo genoem is. Daarom dat Jak. 4:8 ten besluite hierdie oproep is: “Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”
Uit hierdie fyngeformuleerde Skrif is dit duidelik dat dubbelhartigheid die worteloorsprong van sonde is, met ander woorde, om jou doel of merk te mis. Ons vrymoedigheid om te nader tot die troonkamer (Heb. 4:16) lê daarin dat ons reeds in die derde dimensie beweeg (daar waar Sy troon is – Ps. 99:1), en dus binne ons skeppingsdoel loop! Dán eers kry 1 Joh. 5:14 gestalte: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.”
Om hierdie rede is dit allernoodsaaklik dat ons ons dubbelhartigheid as ‘n saak van dringendheid voor God moet hanteer.
- Sela: Is jy dubbelhartig?
- Lees: 13-16; Jak. 1-5 (Hoe pragtig werk die eksterne sinchronisering van die leeswerk nie!)
- Memoriseer: 4:3
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: ‘n Mens soos Elia: Leer bid die “Gebed van die Geloof”