“… aan die tafel van Isébel eet.”
(1 Kon. 18:19, OAV)
In ons studie van die gestaltegewing aan geestelike mantels van outoriteit het ons al heelwat uiteenlopende fasette daarvan bestudeer. In 1 Kon. 18:19 lees ons van die profete van Baäl wat “aan die tafel van Isébel eet”. Synde dat die meeste Baälprofete, soos ons dit tipologies verklaar het, in die gelowige werksaam is, is dit baie belangrik dat ons ook metafories kyk na wat dit beteken as dié geesteskragte in ons aan die tafel van die teëstander, eweneens in ons, sit.
In Luk. 17:21 spel Jesus dit eksplisiet uit: “die koninkryk van God is binne-in julle”. Dit sou derhalwe inhou dat die tafel tipologies óók binne-in ons is. Dit is veral duidelik as ‘n mens Luk. 22:30 lees, waaarin Jesus sê: “sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk”.
Die meeste mense sal ‘n tafel beskou as ‘n bloot funksionele gebruiksitem, en uiteraard is daar verskeie verwysings in die Bybel waar dit sódanig voorgehou word, veral as ‘n toegewysde plek waarop ‘n maaltyd bedien word. Dit hoef natuurlik nie noodwendig ‘n tafel van hout of metaal op byvoorbeeld vier pote te wees, soos ons dit ken, nie; ‘n dierevel uitgesprei op die vloer kan ook as ‘n tafel dien (Jes. 21:5). Dit impliseer meer ‘n plat vlak waarop bakke, voedsel, drank, eet- en drinkware uitgepak kan word, en dit is veral dié plat vlak wat simbolies dien vir ander betekenisse van die begrip ‘tafel’, byvoorbeeld die tien gebooie wat in Eks. 31:18 voorgehou word as “ tafels van klip, beskrywe met die vinger van God”.
Alles wat rondom ‘n etenstafel gebeur, was in die antieke Midde-Oosterse kultuur van die Ou en vroeë Nuwe-Testamentiese tyd altyd aanduidings van verhouding. Allereers van die eenheidsverhouding van die gesin, soos in Ps. 128:3 – “jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel”. ‘n Uitnodiging om by iemand te kom eet, is gelees as ‘n teken van vriendskap (Luk. 14:10), maar ook van eer en goeie etiket teenoor vreemdelinge (Gen. 18:1-5; Rigt. 13:15). Daarteenoor is slegte optrede aan die etenstafel ondubbelsinnig geïnterpreteer as ‘n belediging vir die tafelhoof en die verbreking van vriendskap, byvoorbeeld in Ps. 41:9 – “Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.” Dit is ook uiteraard ‘n profetiese verwysing na Judas, na wie Jesus in Luk. 22:21 verwys en sê: “Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.”
[In die verhaal van Josef se ete saam met sy broers in Gen. 43:31-34 word verskeie aspekte van die gewoontes en gebruike rondom die tafel mooi verduidelik.]
Die koning se tafel verdien spesiale vermelding, want synde dat wedergeborenes konings is (Open. 5:10; 1 Pet. 2:9), dek hul in hul allerheiligste geloof (Jud. 1:20) tipologies ‘n tafel en húlle nooi ander om aan die feesmaal deel te hê. Om aan ‘n koning se tafel te eet, is altyd ‘n ontsaglike eer, en dit beteken jy geniet en deel in die guns, beskerming, voorspoed en outoriteit van die koning (2 Sam. 9:7-13; 19:28; 1 Kon. 2:7). Om die koning se uitnodiging tot sy tafel te weier, beledig hom (1 Sam. 20:29; Est. 1:12). Om jou uitnodiging te verloor, word dikwels metafories voorgehou as om die broodkrummels onder die tafel te eet (Rigt. 1:7), en dit beteken simbolies vernedering en nederlaag (Eseg. 39:20; Matt. 15:21-28). Die oordadigheid van kos en drank op die koning se tafel is ‘n heenwysing na sy rykdom en outoriteit, en dusdoende ook van God se seëning in sy lewe (1 Kon. 4:27; 10:5; 2 Kron. 9:4; Neh. 5:17). Interessant genoeg word die uitbundige oorvloed (Neh. 5:18) van die koning se tafel dikwels ook in verband gebring met die volledigheid van voorsiening, en derhalwe met shalom, die vrede wat gepaard gaan daarmee dat daar geen vrees is rondom toekomstige voorsiening nie. Luister hoe ongelooflik poëties mooi spel Job 36:16 dit uit: “So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na ‘n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys.” Ps. 23:5 is welbekend, en gebruik dieselfde metafoor: “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.” Deut. 23:33 skilder in woorde die volheid van God se voorsiening in volledige vrede: “versadig van geluk en vol van die seën van die HERE”.
Die Israeliete se wantroue aan God se voorsiening in die woestyn word in Ps. 78:19 voorgehou in terme van ‘n tafel: “En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?”
Al hierdie voorbeelde maak dit onteenseglik duidelik dat as daar in 1 Kon. 18:19 gesê word dat die profete “aan die tafel van Isébel eet”, dit geen toevallige verwysing is nie, maar groot implikasies inhou.
Dit word eers duidelik as ‘n mens besef dat die tafel nié net gebruik word vir sosiale kuier- en eetgeleenthede nie, maar in die Skrif ook gebruik is as seremoniële tafels. Die tabernakel en die tempel het ruimskoots gebruik gemaak van tafels vir seremoniële doeleindes, spesifiek vir die meublement van die tafel van die toonbrode (Eks. 25:23-30; 1 Kon. 7:48; Heb. 9:2). Streng gesproke was die brandofferaltaar en die reukofferaltaar óók tafels, want ‘n bepaalde aanbod moes op elk gebied word. In die profeties-tipologiese vooruitskouing van die eindtydtempel – wat die Bruid is (Op. 3:12) – sien Esegiél (41:22) “die tafel wat voor die aangesig van die HERE is”. Daar word van hierdie “koninklike priesterdom” (1 Pet. 2:9) profeties uitgespel: “hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem” (Eseg. 44:16).
[Net ‘n sydelingse kantaantekening – die brandofferaltaar van die Ou Verbond dien ook as ‘n tafel van die Here – kyk Mal. 1:7. In Gen. 8:21 lees ons dat die “lieflike geur” (Lev. 1:9) van brandoffers vir God besonder aangenaam is. Eseg. 20:41 belowe profeties dat God sê oor die Nuwe Verbond wat voorlê: “As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê …” Dít word allereers tipologies in die Nuwe Verbond ‘n realiteit deur Jesus wat Homself vrywillig as offer kom bied as die “Lam van God” (Joh. 1:29 & 36), wat Paulus in Efes. 5:2 beskryf as “‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur”! Dít het aan alle Nuwe-Testamentiese gelowiges dit moontlik gemaak om eweneens hul fisiese liggaam aan God te bied as “lewende, heilige en aan God welgevallige offer”, wat Paulus in Rom. 12:1 noem “julle redelike godsdiens”, “the most sensible way to serve God” (CEV). Dit bring “‘n lieflike geur, ‘n welgevallige offer, welbehaaglik by God” (Fil. 4:18). In 2 Kor. 2:14-15 verduidelik die apostel dit effens meer uitvoerig: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan …”]
Wat gebeur egter as jy aansit “aan die tafel van die duiwels” (1 Kor. 10:21) en noodwendig “met die duiwels gemeenskap moet hou” (vers 20)? In die volgende Manna meer.
- Sela: Bid en vra God oor die tipe tafel wat jy in jou binneste aanbied.
- Lees: 1-6
- Memoriseer: 3:2-3
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Briers Uys: Die Reuk van die Kennis van die Heerlikheid
van Christus