Dag 1123

 

“… aan die tafel van die duiwels …”

(1 Kor. 10:21, OAV)

Ons het verlede keer se Manna afgesluit met die vraag: Wat gebeur egter as jy as gelowige aansit “aan die tafel van die duiwels” (1 Kor. 10:21) en noodwendig “met die duiwels gemeenskap moet hou” (vers 20)?

Om aan aan te sit aan tafel en te eet, het dikwels in die Skrif ‘n allure van verbond-sluiting, en die maaltyd word derhalwe ook ‘n verbondsmaal genoem. In Dennis J. McCarthy se twee boeke: Old Testament Covenant en Treaty and Covenant, verduidelik hy uitvoerig hoe bloedbroers (met ander woorde hulle wat in verbondsverhouding staan as broers wat uit God wedergebore is, met ander woorde gebore is uit dieselfde baarmoeder van God) hul verbond met mekaar met ‘n verbondsmaal verseël. Die saameet ná die formele verbondsluiting was veel meer as die viering van die geleentheid – dit was as ‘n deel van die verbondsuiting self geag: “The covenant meal was a sign that the weaker is taken into the family of the stronger, a reassuring gesture on the part of the superior toward the inferior and not a pledge by the latter” (McCarthy, 1978: 254). Hul verhouding daarna is van dieselfde orde as binne die familie.

In Jes. 65:11 word die scenario geskep van hoe hierdie verbondsmaal kan plaasvind met die demoniese realm: “Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat ‘n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot—“. Om dus “aan tafel van Isébel” (1 Kon. 18:19) te eet, beteken letterlik om gemeenskap met demone te hê en verbonde met hul te sluit. 1 Kor. 10:18-21 verduidelik dit mooi: “Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie? Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.”

Hierdie “tafel van die Here” is nie noodwendig die fisiese nagmaal nie – ons verduidelik in die volgende Manna die geheimenis en wyer interpretasie daarvan.

In Jer. 17:1 word gesê: “Die sonde van Juda is geskrywe met ‘n ystergriffel, met ‘n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare—“ (Juda, weet ons al, is tipologies vir die Bruid.) Dit is van groot belang dat ons besef dat hierdie “gemeenskap met duiwels” lei tot die skryf van ‘n verbond IN ons liggame. As dit op die tafels van ons hart is, beïnvloed dit die gelowige se totale wese: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” (Spr. 4:23).

  • Sela: Bid en vra God oor die tipe tafel wat jy in jou binneste aanbied.
  • Lees: 17:1-18:18
  • Memoriseer: 17:3
  • Delf dieper: Lees die twee boeke hierbo genoem.