Dag 1127-1129

 

“En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan

en die twaalf apostels saam met Hom.”

(Luk. 22:14, OAV)

 

Ons is nog steeds besig met die simboliese betekeniswaarde van ‘tafel’ in die Bybel, en het tot absoluut verrassende verruimings van die eenvoudige begrip in die voorafgaande Mannas gekom. Daar is in Dag 1123 belowe ons sal meer sê oor wat in die geloofsvolksmond vry algemeen genoem word “die tafel van die Here”. Oor verskillende fasette van hierdie onderwerp ís al uitvoerig in die Manna geskryf – gaan verfris net jou geheue met Dag 89-96, 193, 214, 313-314 en 929-931.

‘n Mens sou veel kon skryf oor die nagmaal as instelling in die Christelike kerk, maar dit is nie nou soseer hier ter sake nie. Wat wel van belang is, is dat die begrip ‘tafel’ hier metonimies gebruik word om te verwys na die nagmaalgawes van brood en wyn. Die hoogdrawende segswyse van “die tafel gebruik” of “aan die tafel aansit” het niks soseer met die tafel te doen as met die nagmaalsimbole nie.

Baie mense maak helaas ‘n afgod van die nagmaal; boonop verabsoluteer hulle die simbole totaal. Hoeveel kerke het nie al geskeur oor ‘n twis of ‘n mens wyn, of eerder net druiwesap, mag drink nie? En ander weer oor of die nagmaal uit ‘n beker, of liefs eerder in kelkies, gebruik mag word. En hoeveel kerkraadsvergaderings is gehou oor of mens die brood heel moet hou en elkeen ‘n stukkie afbreek, en of dit eerder in piepklein blokkies gesny kan word? Mag dit net gewone brood met suurdeeg wees, of liewer die suurdeeglose matzoskartonvelle? Mag kinders enigsins nagmaal gebruik? En mense wat in sonde leef? In die NG Kerk spog die seuns met aanneming dat hul nou hul wynlisensie gekry het. Dit is regtig waar!. Ál hierdie hoogs geestelike redekawelry is ‘n aanduiding van “onheilige, onsinnige praatjies” (2 Tim. 2:16), ‘n totaal vleeslike verstaan van die nagmaal..

In Matt. 26:27-29 word die een deel van die nagmaal, die wyn, soos volg voorgehou:  “Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”

Belangrik om vas te maak dat die wyn simboliseer die nuwe testament, letterlik die Nuwe Verbond, wat met die gelowige deur die wedergeboorte gesluit is. Twee dinge staan uit in hierdie paar verse. Eerstens: nie-wedergebore mense het nie die reg tot die verbondsmaal nie; hulle mag nie aan die tafel van die verbond sit nie. Sela! Daar is baie gelowige onwedergeborenes – hulle mag nie deel hê aan herdie verbondsmaal nie.

In 1 Kor. 11:28 waarsku Paulus: “Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.” ‘n Beter vertaling van “beproef” (“examine yourself”) is die YLT  s’n wat dit soos volg stel: “and let a man be proving himself”. Die reg tot nagmaal is wedergeboorte, en dit is wat ‘n geloofsgemeenskap absoluut duidelik moet maak aan alle voornemende nagmaalgebruikers. Hoekom hierdie so geweldig belangrik is, word in verse 29 en 30 in geen onseker terme uitgespel nie: “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” Dit is ontsaglik belangrik om aan mense wat wil aansit aan “die tafel van die Here” hierdie eksplisiete gebruiksvoorwaardes en nagevolge van gebruik te verduidelik.

Alhoewel dit nie eksplisiet uitgespel word rondom die nagmaal nie, is die Woord duidelik dat enige vorm van gemeenskap aan “die tafel van die duiwels” (1 Kor. 10:21) gelowiges geestelik kan kontamineer:

  • “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê Hou jou rein.” (1 Tim. 5:22)
  • “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.” (2 Joh. 1:10-11)
  • “… hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Efes. 5:11).

In Op. 18:4 word die Liggaam van Christus gewaarsku om niks te doen te hê met die hoer van Babilon nie. Soos reeds vroeër in Dag 848-850 uitgespel, sluit Babilon onder andere die geïnstitusionaliseerde kerkgemeenskap in. Die voorgenoemde Skrif stel dit baie sterk: “En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” Sela.

In Matt. 26:29, wat tans onder die loep is, is daar ‘n tweede aspek wat uitgelig moet word. Jesus praat hier en sê: “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”

Die hele relaas oor die tafel as simbool is begin deur Luk 22:29-30 aan te haal om die tipologiese waarde vir eietydse gelowiges uit te lig: “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.” Jesus se woorde hierbo is dat Hy nié weer wyn sal drink nie “tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader”

Wanneer sou daardie dag in die koninkryk wees? Eers ééndag wanneer Jesus terugkeer aarde toe op die wolke en ons dan die Bruilofsmaal van die Lam sal geniet (Op. 19:9)? Wanneer sal dit gebeur? In Luk. 14:15 maak ‘n volgeling van Jesus hierdie opmerking: “Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God.” Hierop reageer Jesus en lig sy telling toe met ‘n gelykenis oor die bruilofsgaste wat genooi was, maar allerhande (goeie) verskonings gehad het oor hoekom hulle dit nie kan bywoon nie.

Wanneer is dus “daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink” (Matt. 26:29)? Hou in gedagte dat “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie … die koninkryk van God is binne-in julle” (Luk. 17:20-21).

Dieselfde  woordjie ‘nuut’ word wyd in die Nuwe Testament gebruik om die oorgang van die ou bedeling na die nuwe bedeling, wat by die wedergeboorte (waardeur jy toegang tot die koninkryk van God verkry – Joh. 3:3 & 5) ‘n aanvang neem, te beskryf:

  • “Maar ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.” (Matt. 9:17)
  • “En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.” (Mark. 14:24)
  • “met nuwe tale sal hulle spreek” (Mark. 16:17)
  • “‘n Nuwe gebod gee Ek julle …” (Joh. 13:34)
  • “hierdie nuwe leer” (Hand. 17:19)
  • “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” ( 2 Kor. 5:17)
  • “en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” (Efes. 2:23-24)
  • “As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.” (Heb. 8:13)
  • “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Pet. 3:13)
  • “‘n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle” (1 Joh. 2:8)
  • “en Ek sal hom gee ’n nuwe naam” (Op. 2:17)
  • “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”
  • “’n nuwe lied” (Op. 5:9)
  • “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Op. 21:1-3).
  • “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.” (Op. 21:5)

Dit is ontsaglik belangrik dat die wedergeborene weet hy is REEDS in die koninkryk van God, en sit REEDS aan die tafel van die Lam; dit is REEDS die bruilofsmaal van die Lam. Dáárom durf ons nie óók aansit aan die tafel van duiwels nie. In Manna Dag 713-715 is dit reeds deeglik verduidelik: 2 Pet 3:13 se ‘nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon’, is JY. Toegegee, dit word eers in die derde dimensie in volheid volvoer, maar dit begin onteenseglik reeds in die tweede dimensie met die wedergeboorte. Dis ‘n ontvouingsproses waar die “eerste oud gemaak” word; “en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Heb. 8:13).

In die gestaltegewing van jou geestelike mantel, waaroor ons dit tans het, is dit geweldig belangrik dat jy dáármee “in die nuwigheid van die Gees” (Rom. 7:6) dien. Die koninkryk van God is ‘n geestelike realiteit, maar dit is nie sigbaar nie, want dit is ewig (2 Kor. 4:18), selfs al is dit op aarde (Matt. 6:10). Jou funksionering in hierdie koninkryk is absoluut afhanklik daarvan dat jy hierdie pertinente verstaan van die koninkryk nóú het.

Wanneer vind die volgende dan plaas? “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”? Dit gebeur, soos met die dissipels, “toe die uur kom” (Luk. 22:14), en volgens Joh. 4:23: “daar kom ‘n uur, en dit is nou …”

  • Sela: Het jou uur gekom?
  • Lees: 1 Kor. 5-14
  • Memoriseer: 1 Kor. 14:26
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon, is jý.