“ God … het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor … ” (Hand 22:14, OAV)
In vorige leringe het ons daarop gewys dat Adam en Eva se geesdimensie na die sondeval dormant geword het, met ander woorde hulle het die vermoë om met God te kommunikeer grootliks verloor. Die Woord sê duidelik in Joh 4:24: God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet dit in die gees doen. Ons het ook gewys dat die gees tydens wedergeboorte weer oopgesluit word, en derhalwe is die feit dat jy die stem van God hoor, die waarmerk van jou wedergeboorte.
Tog vind ‘n mens dat velerlei gelowiges geweldig sukkel om verseker te weet of God met hulle praat. In Joh 10:27 maak Jesus egter hierdie uiters belangrike uitspraak: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” ‘n Skaap moet die stem van die Herder kan hoor en gehoorsaam.
Die redes hoekom mense nie die stem van God kan onderskei nie, lê dikwels daarin dat ons nie regtig geleer is dat dit moontlik en volhoubaar is nie, en dat ons dit nie ingeoefen het nie. Inoefen klink na ‘n meganistiese praktyk, maar omdat die stem van God ‘n “still small voice” (1 Kings 19:12, KJV), word dit so maklik verdring of distort deur allerhande soorte storinge. (Ons sal later bietjie meer fokus op hierdie storinge.)
Ons lees in Gen 3:8 dat God in die tuin van Eden gewandel het in die aandwindjie; die King James vertaal dit só: “And they heard the voice of the LORD God walking in the garden in the cool of the day.” Die wind waarvan hier gepraat word, word in Hebreeus die ruach, die asem van God, genoem. Dit is daardie selfde stem van God wat vandag steeds stilweg in ons spreek. Daarom noem ander vertalings van 1 Kon 19:12 dit: “a gentle breeze” (CEV) “the sound of a soft breath” (BBE), “a soft gentle voice” (Darby), “a whistling of gentle air” (DRB), “a low whisper” (ESV) en “a quiet, whispering voice” (GW)!
Jy sal verstaan dat al die geroesemoes van stemme (ons s’n, die satan s’n, die wêreld s’n, ons verbeelding, en so meer) die stem van God dikwels uitblok. Om hierdie rede sukkel ons ook soos Job (in 4:16), want ons hoor bloot “die gefluister van ‘n stem”. Ja, “wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom!” (Job 26:14).
Die rede hiervoor is eenvoudig: dit is in die intimiteit van gefokus wees op Hom dat ons leer om Sy lippe kan lees. Dit verseker dat ons deurentyd Hom sal bly soek (Jer 29:11-13) en – soos die dissipel Johannes (13:23) – heeltyd ons oor naby sy hart sal hou.
- Sela: Leer om tot Hom te nader, en leer die discipline om stil te word by Sy voete met jou kop teen Sy bors.
- Lees: Rut 2; Ps 113 & 114; Hand 23
- Memoriseer: Ps 113:3. Maak ‘n lied van hierdie Psalm.
Vir dieper delf: Lees die hoofstuk oor Solitude in Richard Foster se Celebration