“Neem, eet, dit is my liggaam.”
(Luk. 22:14, OAV)
Met hierdie Manna is ons steeds op die afdraaipaadjie wat ons gevolg het om meer te wete te kom oor die simboliese betekeniswaarde van ‘tafel’ in die Bybel en oor die nagmaal as instelling in die Christelike kerk. Daar is stilgestaan binne ‘n wyer tipologiese verstaan van die wyn/bloed van die Nuwe Verbond. In hierdie lering wil ons net enkele uitsonderlik belangrike opmerkings maak oor die betekenisverruiming van die nagmaalsbrood.
In Matt. 26:26 staan daar oor die nagmaalsete: “En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.”
Die omvang van hierdie gebeurtenis verval helaas dikwels in bloot ‘n Christelike ritueel en gewoonte, sonder om die ontsagwekkende diepgang daarvan na behore te verstaan.
Wat Jesus hiermee gedemonstreer en gesê het, kan kwalik verstaan word sonder die uitgebreide lering wat Jesus in Joh. 6 aan sy nabydissipels en sy ander volgelinge gegee het.
Johannes bied ‘n ineenvlegting van verskeie belangrike verhale, en ter wille van die inspeel van die verhale op mekaar, en die jukstaposisie (naasmekaarstelling) wat as gevolg daarvan belangrike betekenisimplikasies het, bied ons die volgende struktuur van die hoofstuk aan:
JOH. 6 | KORTBEGRIP | |
I | vers 1 –
vers 15 |
Die wonderwerk van die vermeerdering van die 5 broodjies en die 2 vissies – kos aan meer as 5000 mense |
II | vers 16 –
vers 21 |
Die dissipels in ‘n storm op see en die wonderwerk van Jesus wat op die water loop. |
III | vers 22 –
vers 58 |
Jesus voer gesprek met sy volgelinge oor die brood van die lewe en die feit: “Ek is die brood van die lewe”. Hy maak ‘n vergelyking met die manna in die tyd van Moses. |
IV | vers 59 –
vers 71 |
Jesus praat met sy volgelinge oor “die brood wat uit die hemel neergedaal het” en hulle onvermoë om dit te glo. Baie volg Hom dan nie meer nie, en Hy vra sy dissipels: “Wil julle nie ook weggaan nie?” |
In hierdie hoofstuk word verskeie narratiewe ingebind wat bykans ongesiens by mekaar ingeweef word. Ná die wonderwerk van die vermeerdering van kos besef Jesus dat die volgelinge afhanklik is van wondertekens om te kan glo. Hy verwoord dit elders só: “Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.“ (Joh. 4:48). In Joh. 12:37 word dit as ‘n feit voorgehou: “En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie.” Dwarsdeur die evangelies lees ons hoe die Jode deurgaans aandring op tekens (Matt. 12:38-39; 16:1, 3 & 4; 24:3 & 24; Mark. 8:11-12; 13:4; Luk. 11:16, 29-30; 21:7; 23:8; Joh. 2:18 & 23; 3;2; 7:31; 9:16; 11:47; 12:18; 20:30). Paulus sê dit later in 1 Kor. 1:22 eksplisiet – “die Jode vra ‘n teken”. Jesus spel dit ook onomwonde só uit: “Hierdie geslag is boos; dit soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie …”
Daarom val die argumentkruks van die hoofstuk in vers 26 vreemd op die oor: “Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.” As ‘n mens nie fyn hier lees nie, klink dit asof Jesus gesê het (soos Jon Courson’s Application Commentary – NT dit stel): “You came here not because you saw the meaning of the miracle, but because you wanted another free lunch.” (Ook die Message vertaal dit verkeerdelik só.) Nee, presies die teenoorgestelde is wat Jesus hier bedoel – julle het agtergekom ‘n mens kan nié net van brood alleen lewe nie; julle is hier omdat julle iets van die Brood van die Lewe geproe het, en méér soek.
Hierdie hele hoofstuk gaan oor die vestiging van ‘n nuwe konsep wat Jesus aan sy volgelinge wil verduidelik – die wonderbaarlike geheimenis van die rhema-woord. Alles wat in Hoofstuk 6 versigtig deur Johannes op streng literêre wyse in sy inmekaargeweefde verhaal van verskeie narratiewe gekonstrueer word, begelei die leser om dit raak te sien.
Dit is belangrik om die konteks te verreken om hierdie fokuspunt te illustreer, en ons gaan dit doen deur te let op die vier dele van die hoofstuk soos hierbo uiteengesit.
Allereers, noem dit Deel I, het die wonderwerk van die vermeerdering van die broodjies en vissies plaasgevind. Vanaf Joh. 6 se aanvang tot en met vers 15 lees ons hoe Jesus na Tibérias gaan en dat ‘n groot menigte Hom volg, “omdat hulle sy tekens gesien het”. Jesus het na die menigte mense gekyk en hy vra vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Nodeloos om te sê, kyk Filippus vas in die finansiële implikasies van hierdie grootskaalse saametery. Ons ken dan die res van die verhaal – Simon Petrus vind ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, en Jesus laat die meer as vyf duisend mense bedien met die brood en vis wat hy vermeerder het. Net die brokstukke van die oorskiet brood het twaalf mandjies gevul. Die onmiddellike reaksie was uiteraard een van verwondering, daarom dan dat Joh. 6:14 dit uitspel: “Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.” Maar toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.
Alles wat hierna gebeur, is gekleur met hierdie dramatiese wonderwerk in gedagte, daarom word die plek in vers 23 byvoorbeeld eksplisiet benoem as: “naby die plek waar hulle die brood geëet het”! Seer sekerlik is die wonderbaarlike demonstrasie van geestelike krag en outoriteit ingeëts in al die meelopers se geheue en verbeelding.
Vir ‘n oomblik laat ons eers Deel II van Joh. 6. Ons kom later daarna toe terug.
Die volgende narratiewe raam wat ons wil uitwys, Deel III dan, begin vanaf vers 22. Die nuwe narratiewe raam word geskep deur ‘n eksplisiete nuwe tydsverwysing: “Die volgende dag…”, asook ‘n nuwe ruimteverwysing. Vanaf vers 22 tot 25 is die ruimte-verwyings heeltyd voorop, want waar Jesus is, maak met reg nie vir die volgelinge sin nie (hulle weet nie dat Hy oor die water geloop het na die ander kant toe nie), daarom vra hulle Hom dan ook in vers 25: “wanneer het U hier gekom?”. Hierdie onsekerheid is belangrik, want dit is asof die volgelinge Hom nie ruimtelik kan vaspen nie. (Ons kom later terug na hierdie baie belangrike punt.)
In vers 27 lei Hy dan die geestelike verdieping in van die brood-diskoers, en insiggewend, noem Hy dit nie meer “brood” nie, maar “vleis” (die Afrikaans vertaal dit ongelukkig as “spys”). Binne ‘n ander tipologie sou ‘n mens die voedsel van elkeen van die drie dimensies binne die tabernakeltiologie soos volg kan verduidelik:
- eerste dimensie: melk ( 1 Kor. 3:2; Heb. 5:12-13; 1 Pet. 2:2)
- tweede dimensie: brood (Luk. 14:15; om van die tafel van die toonbrode, simbolies van die wil van God, te eet)
- derde dimensie: vleis (1 Kor. 3:2; 10:3; Heb. 5:12 & 14).
As Jesus in vers 26 uitspel: “Moenie werk om die vleis wat vergaan nie, maar om die vleis wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.”, dan is HY die “vleis”, of dít wat in die derde dimensie geëet moet word (met ander woorde: die vleisspys wát die Brood van die Lewe is)! Hy is wel “verseël”, met ander woorde “hidden” (Strong). Dit was op daardie stadium nie bekend wat sou gebeur as Jesus sou vermeerder word in die Christus nie, dié geheimenis was toe nog verseël, soos dit ook met die Bruid nóú die geval is (“dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” – 1 Joh. 3:2; kyk ook Kol. 3:3), was dit tóé met Hom ook die geval.
Hierna volg ‘n uitgebreide gesprek tussen Jesus en al sy volgelinge, en die goue draad dwarsdeur die gesprek is wát “die ware brood” (Joh. 6:32) is. Jesus bring ‘n duidelike kontras met die brood wat Hý kom bied, met die Ou-Testamentiese brood wat hul ken uit die tyd van Moses in die woestyn: “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.” (Joh. 6:31-32).
WAT hierdie brood uit die hemel is, is absoluut hul identiteit, want die woordjie “manna” kom van die frase: “wat is dit?” (“means ‘What is it?’ BDB). ONS WEET NOG NIE WAT ONS GAAN WEES NA APOKALUPSIS, OPENBARING, UNVEILING, NIE. Ons is duidelik nog “verseël”. Die fisiese soet wafeltjie waaraan die Israeliete in die woestyn moes eet, is die teëbeeld, of tipe van die rhema-woorde van God.
Vanaf vers 32 begin Jesus in pynlike detail vir hulle te verduidelik dat Hy Jesus, die Brood van die Lewe is, noem dit die “hele brood”, die Volheid, die Logos, die Total Utterance. Maar Hy begin hulle al sensitiseer en leer dat Hy ook die Christus is, en bestaan uit ‘n menigvuldige ander stukkies manna, brokkies van die totale Brood (ja, twaalf mandjies van outoriteit vol!), die rhema-woorde, the small utterances making up the Total Utterance!
En al vestaan hulle nie, vra hulle: “Here, gee ons altyd hierdie brood.” (Joh. 6:34), “at all times, always, ever” (Strong). Nin hierdie lig is dit nou absoluut duidelik wat Jesus in Matt. 4:4 gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” En hierdie woorde, is rhema-woorde! En let wel: elke woord!
Soos Jesus “uit die hemel neergedaal” (Joh. 6:38) het, daal die rhema-woorde eweneens uit die hemele, die geestelike realm, na die fisiese realm.
Jesus plaas ewe skielik in hierdie gesprek groot klem op nog ‘n woord, wat op die oog af onbenullig lyk, naamlik: neerdaal: “Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal … Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het.” (Joh. 6:50-51). Vroeër in die gesprek, in vers 38, het Hy ook eksplisiet die woord gebruik: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Om die belangrikheid van hierdie “neerdaal” te beklemtoon, maak Hy ‘n duidelike onderskeid tussen die fisiese manna van die woestyn en die geestelike manna. Eersgenoemde het die vaders in die woestyn geëet, maar desnieteenstaande het hulle gesterwe. Oor hierdie brood ( = manna), sê Jesus in vers 50, moes hulle van kon eet en NIE sterwe nie. Maar tog hét hulle gesterwe. wat het dus ontbreek? In vers 51 spel Hy dit uit: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”
Die woordjie “neerdaal” is presies dieselfde woord wat in Op. 21:2 gebruik word om die Bruid se transisionering uit die geestelike realm na die fisiese realm te beskryf. In die volgende Manna bring ons al die héérlike lyne van hierdie geheimenisse bymekaar uit.
- Sela: Verduidelik aan iemand die teëbeeld van manna.
- Lees: 1 Kor. 15-16; 2 Kor. 1-9
- Memoriseer: 2 Kor. 5:1-2
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die wonder van die vermenigvuldiging van rhema-woorde