“Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”
(Joh 6:56, OAV)
Hierdie Manna moet saamgelees word met die vorige drie Mannas, dié van Dag 1130-1132 – gaan verfris asseblief jou geheue dat ons hiermee al die rykdom argumentslyne aaneen kan knoop.
Die vorige Manna is afgesluit met die klem op die feit dat soos Jesus “uit die hemel neergedaal” (Joh. 6:38) het, daal die rhema-woorde eweneens uit die hemele, die geestelike realm, na die fisiese realm. Die vooropstelling van die woordjie “neerdaal” is uitgewys, asook die feit dat die woordjie “neerdaal” presies dieselfde woord is wat in Op. 21:2 gebruik word om die Bruid se transisionering uit die geestelike realm na die fisiese realm te beskryf.
Onthou ook asseblief die uiteensetting wat van Joh. 6 se vier dele gebied is. Ons het met Deel I klaar gemaak, asook Deel III. Ons is tans besig met Deel IV, wat die gedeelte vanaf vers 59 – 71 is.
Deel III word enersyds gekenmerk deur Jeus se uitermate groot klem op dít wat “neergedaal” het, en andersyds deur die feit dat Jesus se volgelinge sukkel om te verstaan wat Hy met sy grafiese metafore van vlees en bloed bedoel. Meer direk en eintlik grilleriger as Joh. 6:56 kan dit nie gestel word nie: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” Hierdie skynbaar onaanvaarbare gesprekstrant het baie dissipels en navolgers van Jesus viervoetig in hul spore laat vassteek. Die skriba Johannes rapporteer dat hulle te na gekom is deur die feit dat Jesus ‘n gelykstelling tussen Hom en God gemaak het (vers 41). Hulle bespreek dan onder mekaar sy fisiese afkoms, dat Hy bloot Jesus is, die seun van Josef, wie se vader en moeder hulle ken (vers 42). Hulle betwyfel duidelik die waarheid van sy uitspraak, maar ook die godslastering van sy aanspraak stuit hule erg teen die bors. Hieroor alles het hul driftig gestry (vers 52), gemurmureer, en aanstoot geneem (vers 61); dít wat Jesus gesê het, kon/wou hulle nie glo nie (vers 64). Daarom word hulle korporatiewe reaksie hierop sterk gestel: “Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister?”
Die New Jerusalem Bible vertaal hierdie versie op ‘n besonder insiggewende wyse: “This is intolerable language. How could anyone accept it?” Dis ‘n baie belangrike ongesêde implikasie wat in hierdie vertaling vooropgestel word, naamlik Jesus se taalgebruik. ‘n Mens sou dink dat Jesus alles in sy vermoë sou doen om sy woorde oor hierdie kontensieuse saak baie versigtig te kies, sodat Hy nie aanstoot gee nie. Vir ons wat die metaforiek van die nagmaal se wyn en brood nou al aan gewoond geraak het, is hierdie segswyse van Jesus baie mak, en aanvaarbaar, want dit het met die loop van jare se gebruik ‘n kulturele sagtheid op die oor verkry. Tog het Jesus hierdie hele relaas gevoer totaal buite die konteks van die nagmaal, onthou – dít sou eers véél later aan bod kom, eers nét voor die aand van sy kruisiging.
Daarmee saam: as Jesus hier in duidlike simboliese taal gepraat het, gaan sy verduidelikingsvermoë totaal mank aan een van die eenvoudigste kommunikasiebeginsels, naamlik om nié jou gehoor te verwar met ingewikkelde gelykstellings nie – die sogenaamde KISS-beginsel: Keep It Short and Simple. Niemand wat na Hom geluister het, het sy woorde enigsins as simbolies verstaan nie.
In hierdie lig gesien, het die uitspraak: “Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (Joh 6:56) onteenseglik ‘n kannibalistiese inslag. Hierdie persepsie word versterk deur die grafiese woordkeuse wat Jesus gebruik. In Joh. 6:50-53 is daar verskeie vorme van die Griekse werkwoord phago, wat “eating” beteken. Ná die afgryse vertoon het in die wyse waarop Jesus hierdie “eenheid” tussen hulle en Hom sonder omhaal verbeeld het, intensiveer die taalgebruik! In vers 54, word byvoorbeeld die Griekse woordjie trogo in plaas van phago gebruik. Trogo is ‘n veel meer beeldende begrip, wat beteken: “to chew on”, of “to gnaw on” – soos wanneer ‘n dier sy prooi uitmekaar skeur!
Daar is apologete wat hierdie gedeelte in Joh. 6 probeer versag deur te sê dat die toehoorders duidelik die Hebreeuse Ou-Testamentiese metaforiek daarin kon herken, en daarom sou dit hul nie noodwendig affronteer nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Eddy & Boyd, in The Jesus Legend (p. 219), se opmerking: “Jesus’ language about his own blood (particularly at the Last Supper) finds its home within concepts of Jewish covenant theology” is helaas ‘n desperate poging om ‘n halwe waarheid ten alle koste geloofwaardig te maak. Dit word gedoen om Jesus se woorde dermate te versuiker, anders is dit “a sort of crass literalism that would reduce his words to a cannibalistic understanding”, soos een kommentator, Tim Staples, dit raak stel. Máár die teendeel is helaas waar. In die gedeeltes in die Ou Testament waar sprake is van menslike vlees eet en bloed drink, word dit klokslag metafories aangebied, en meer – dit word elke keer gekoppel aan die goddelose, die kwaaddoeners, die teëstanders, die vyande, die goddeloses. Kyk na die volgende voorbeelde:
- “As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.” (Ps. 27:20).
- “Deur die grimmigheid van die HERE van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk geword soos ‘n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie. En hulle byt na regs en het honger; hulle vreet na links en word nie versadig nie; hulle eet elkeen die vlees van sy eie arm …” (Jes. 9:19-20)
- “En Ek sal jou verdrukkers hulle eie vlees laat eet, en van hulle eie bloed sal hulle dronk word soos van mos.” (Jes. 49:26)
- “Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente; en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in ‘n pot en soos vleis in ‘n pan.” (Miga 3:2-3).
Dit is daarom heeltemal te verstane dat nie-Christene hierdie uitspraak van Jesus as bisar en grotesk ervaar, en dikwels word dit as argument deur die teëstanders van Christendom aangebied as een van die grusame belaglikhede van die geloof. Op die webwerf www.godisimaginary.com word die volgende betoog byvoorbeeld voorgehou: “Imagine that you are a normal person, and you have never been exposed to Christianity before. Now imagine that a Christian comes up to you and quotes John 6:53. Any normal adult would rightfully assume the Christian to be insane. Thus, you never see a bumper sticker that says John 6:53. However, the assumption is accurate. The dictionary describes cannibalism in the following way: The usually ritualistic eating of human flesh by a human being. What Jesus is demanding is cannibalism.”
Die Rooms-Katolieke Kerk dra hiertoe by as hulle beweer dat die nagmaalbrood en –wyn WORD LETTERLIK die liggaam en bloed van Jesus as dit gebruik word. (Dit word die leer van die “Eucharist” genoem.) Op minagtende wyse verwys Dan Brown in sy The Da Vinci Code na “God-eating”, wat volgens hom direk oorgeneem is uit vroeëre heidense misteriegodsdienste.
Die Ou Testament verbied die eet of drink van bloed (Lev. 17:12 & 14), en die eet van menslike vlees word gesien as (gevolg van) ‘n vloek (Deut. 28:53-57; Klaagl. 4:10; Eseg. 5:10), maar ook in die Nuwe Testament word dié verbod daarop bevestig (Hand. 21:25).
Samevattend – Allereers: Om dus hierdie vreemde uitspraak van Jesus te sien as ‘n aanspraak tot die fisiese eet van sy fisiese liggaam en sy fisiese bloed, is géén deurdagte opsie nie – dit het ook nooit gebeur nie. Trouens, Jesus maak dit in hierdie passasie absoluut duidelik, óók ten opsigte van sy eie vlees: “die vlees is van geen nut nie” (Joh. 6:63; kyk ook 2 Kor. 5:16; 1 Pet. 3:18). Tweedens: Dat Hy dit duidelik nie simbolies of metafories inklee nie, is absoluut óók die geval. Dit sou vir Hom baie maklik wees om ten minste in die binnekring van die dissipels aan sy dissipels te verduidelik dat Hy nou simbolies praat (soos vorige kere, byvoorbeeld met Joh. 15 se beeldspraak van die wingerd en die –lote, of in sy menigvuldige gelykenisse), maar Hy doen dit glad nie. Trouens, dit lyk asof Hy hulle amper aanmoedig om ook aan die afgryslikheid van sy stelling te stik, en te kies om nie meer saam te loop nie, as Hy sê: “Wil julle nie ook weggaan nie?”. Derdens: Hy verwys in die hele konteks nie één keer na die nagmaal as simboliese rite nie. In hierdie konteks kan dit dus glad nie aanvaar word as ‘n logiese verduideliking nie, veral omdat die brood en die wyn simbole is, en Hy duidelik nié simbolies hier praat nie.
Dus, waarna verwys hierdie uitspraak? Voorberei deur twee wonderwerke (Deel I en Deel II van Joh. 6), is dit die absoluut perfekte tyd om een van die grootste verborgenhede van God en sy inkarnasie aan die mensdom te verduidelik. Hy bied dit eweneens as ‘n wonderwerk aan, maar nie een wat fisies gestalte kry nie. As Ou-Testamentiese teëbeeld gebruik Hy die manna van die woestyn, en verduidelik dan dat daar ‘n vermeerdering van sy Liggaam sal kom wat soortgelyk is aan die neerdaal van die manna na die aarde toe. Hierdie manna is Hý (Joh. 6:48), maar dit word uitgedeel in kleiner porsies, “brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie” (Joh. 6:50).
Jesus praat hier onteenseglik van die rhema-woorde wat uit die hemel neerdaal (soos reën – Jes. 55:10-11), waarvan ons eet, en leef: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke [rhema-]woord wat deur die mond van God uitgaan.” Jesus verwys hier na Deut. 8:3 – “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.” Let op die direkte koppeling hier met manna.
Om die hele konsep goed te kan verstaan, is dit belangrik om daarop te let dat Jesus die gesprek laat plaasvind binne die raamwerk van die Jode se najaag van wonderwerke, en sy latere waterskeiding uitspraak in Matt. 12:39-40: “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
Daar is nét EEN teken wat vir elkeen in die nuwe verbond gegee sal word – die teken van Jona, wat simbolies direk gelyk gestel word met Jesus se dood en opstanding uit die dood. Die enigste teken wat die wêreld gegee sal word, is die opstandingsliggaam van die Seun van die mens, Jesus Christus. As die gelowige met Christus gekruisig is (Gal. 2:20), impliseer dit noodwendig dat hy/sy ook met Christus uit die dode opgewek word, met geweldige implikasies vir die gelowige se liggaam: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Rom. 8:11).
Hierdie geheimenis maak elkeen wat in Christus (nie Jesus nie) sterf, en in Christus opstaan (Efes. 2:6), ‘n wonderteken. Meer hieroor in die volgende aflewering van die Manna.
- Sela: Verduidelik aan iemand die teëbeeld van die manna.
- Lees: 2 Kor. 10-13; Rom. 1-7; Hand. 20:1-3
- Memoriseer: 1:17
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Hanno Pienaar: Jona – Om te besef wie jy is in Christus