Dag 1139-1141

 

“Salvation is of Jehovah.”

(Jona 2:9, Darby)

 

Ook hierdie week se porsie Mannas moet asseblief saamgelees word met die voorafgaande Dag 1136-1138.

Ons is tans besig om te kyk na Joh. 6, en spesifiek die geheimenis rondom die verreikende uitsprake wat Jesus gemaak het dat ons sy bloed moet drink en sy vlees moet eet. Ons het uitgewys dat baie mense volgelinge van Jesus is/wil wees, maar hulle volg Hom oor die wonders en tekens waarna hul owerspelige begeerte is (Matt. 12:39). Die enigste teken wat aan mense gegee sal word, is die teken van die profeet Jona. Dit is vreemd dat Jesus Jona voorhou as teken, en nié direk Sy eie opstanding uit die dood nie. Hy kon net sowel sê: My dood en opstanding uit die dood sal die enigste teken vir julle wees. Hoekom enigsins ‘n Ou-Testamentiese verhaal as tipologie gebruik? Die vorige Manna het uitgewys hoekom Jona as profetiese boek op die Groot Versoendag gelees word, en wat die profetiese implikasies daarvan is, en dat dit alles te doen het met die manifestasie van Jesus die Christus op aarde.

Soos in enige goeie literêre kortverhaal word die inhoud van die verhaal in die komposisie daarvan gerugsteen. In hierdie kort teks van net 48 verse is Jona 2:6-9 presies die middelpunt van die verhaal, en dit bevat ook die geheime middelpuntvliedende uitspraak waaroor Jona tipologies handel: “Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, HERE my God! Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel. Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is. Ek daarenteen sal aan U offer met ‘n stem van lof; wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die HERE.” Hieruit moet ons die volgende raaksien:

  • Die vooropstelling van die opposisiepaar: “Ek het afgedaal …” en “U het my … uit die kuil opgetrek” dui onteenseglik op die neerdaal in die doderyk en die daaropvolgende opstanding. (Die oorspronklike taal is eksplisiet oor die feit dat Jona “gesterf” het deur woorde te gebruik wat in Engels die beste vertaal word as “pit, destruction, grave”, en “to be shrouded in darkness”. Die NJB vertaal dit raak as: “I sank into the underworld, and its bars closed round me for ever. But you raised my life from the Pit.” (“’pit’ is a synonym for grave” – The Bible Knowledge Commentary).
  • In die frase: “het ek aan die HERE gedink”, is dit veel meer as bloot ‘n gedagte wat daaroor uitgegaan het. Die woordjie in die Hebreeus wat hier gebruik word, is zâkar, wat in naamwoordvorm die eienaam was van die eersgeskapene wese genaamd Mens (Gen. 2:7). Wat op aarde sal die eerste mens op aarde moes kon onthou die oomblik as hy geskape is, behalwe dit wat in die voortyd gebeur het?! Wanneer jy in Christus sterf en in Christus opgewek word (tipologies tekenend van die tweede dood en die tweede opstanding – Op. 2:11; 20:6 & 14; en 21:8), begin jy onthou wie jy was in die voortyd. Dít is die substansie van jou roeping en verkiesing.
  • Die frase “en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel” verwys nie na die tempel in Jerusalem nie, maar is ‘n beeld wat gebruik word vir die hemele waar God woon (vergelyk Ps. 11:4; 65:4; Miga 1:2; Hab. 2:20). Hier word ook ‘n opposisionele paar van uiterstes voorgehou – daar is kommunikasie tussen die diepste “deep” (Jona 2:3) en die hoogste “hemel”. Dít wat die afstand oorspan, is gebed. ‘n Gebed is in wese nie net woorde wat ons tot God rig nie – soos met Hanna (wie se naam in die wortelwoord beteken: “to pray, make supplication or intercession”), word gebed die Bruid se identiteit van intimiteit met die Vader. Elkeen in die Bruid is ‘n lopende gebed. Hanna IS as ‘t ware “‘n huis van gebed” (Luk. 19:46). Hanna se inbeweeg in haar identiteit het die seun Samuel voortgebring, wie se naam beteken: “to hear God, to make a sound”. Hanna is ‘n prototipe van iemand wat alhoewel gelowig, onvrugbaar is. Haar inbeweeg in haar posisie en identiteit bring seunskap én ‘n nuwe priesterskap voort, wat die afstand tussen die dieptes en die hoogste hemele oorspan met sy woord! [Tipologiese insigte oor Hanna en Samuel verkry van die lering: ‘Your position as the Depths of the Earth’ deur Suné]
  • Soos die gebed van Hanna is die gebed van Jona streng gesproke nie ‘n smeekgebed nie, maar eintlik veel eerder “‘n stem van lof” (Jona 2:9), ‘n pryslied, ‘n doxologie, ‘n lofgesang, ‘n lied (“canticle“), sê Albert Barnes’ Notes on the Bible. Die Oxford English Dictionary stel hierdie lied ook gelyk aan “gedig”, veral omdat poësie in antieke tye gedreunsing is, vandaar die benaming “liriek” (Grieks “lyra”) wat in verband met poësie gebruik word. Tipologies dus kan Hanna en Jona se lofliedgebede ‘n uitdrukking wees van hulle spesifieke identiteite in God se gedig!. Hulle rhemawoord oorspan die afstand tussen “the deep” en “the Most High”! In hierdie lig word Paulus se uitspraak in Rom. 10:6b-8 nou absoluut helder: “Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig …” Elke verwysing na die woordjie “woord” hier is rhema! As Dawid in Ps. 77:5-6 sê: “I have considered the days of old, The years of ancient times. I call to remembrance my song in the night: I commune with mine own heart; And my spirit maketh diligent search.” Hierdie ‘song” is elkeen in die Bruid se identiek-eie identiteit wat in die voortyd (“the years of ancient times”) bestaan, en dit kom veral na vore in die donker, die krisistye van die lewe, hierdie “treasures of darkness, and hidden riches of secret places” (Jes. 45:3).
  • Die hoogtepunt van hierdie loflied is in Jona 2:9 as hy uitroep: “Die heil behoort aan die HERE.” Op die oog af is dit’n algemene geestelike uitspraak: “Salvation is of Jehovah.”, maar as jy na die oorspronklike taal kyk, word dit absoluut veelseggend, want die woordjie “salvation” in Hebreeus is “yeshû‛âh”! In hierdie diepste donkerte ontmoet Jona die toekomende Verlosser van die wêreld – sy Naam is Jesus. Hierdie versie word die swaartepunt van die totale verhaal van Jona.

Met dit alles in ag geneem, kan ons dan nou veel makliker die simboliese betekenis van die boek Jona te begin uitpluis:

  • Jona 1:1 stel ons voor aan “Jona, die seun van Amíttai”. Jona beteken “duif”.
  • Amíttai beteken “my truth” (BDB) of “established truth” (Strong).
  • Hy word gestuur na Ninevé, wat eintlik net beteken ““abode of Ninus”.
  • Hierdie Ninus het in die prehistoriese tye van Hellinistiese mitologisering ‘n bykans mitiese karakter aangeneem – Wikipedia sê van hom: “Many early accomplishments are attributed to him, such as training the first hunting dogs, and taming horses for riding. For this accomplishment, he is sometimes represented in Greek mythology as a centaur.”
  • Ninus was in die Recognitions (‘n onderdeel van die Clementynse literatuur) gelykgestel aan die Bybelse figuur van Nimrod, wat die Bybel in Gen. 10 vir ons voorgehou word en in vers 11 as die bouer en oprigter van Ninevé geëien word. Dis te verstane dan dat Ninevé derhalwe “abode of Nimrod” genoem sal word.
  • Nimrod beteken: “rebellion”. Alexander Hislop, in sy welbekende studie: The Two Babylons, maak Nimrod ‘n duidelike manifestaie van satan/die teëstander op die aarde. Let op dat hy kom uit die vervloekte voorgeslag van Gam (Gen. 9:22-25).
  • Let op hoe word hy beskryf in Gen. 10:8-9: “Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om ‘n geweldenaar op aarde te wees. Hy was ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE.” Die vooropstelling van dieselfde konsep drie keer in so ‘n kort gedeelte dui op ‘n uiterste beklemtoning ter wille van belangrikheid.
  • Ninevé is gesetel as die formidabele hoofstad van Assirië. In Miga 5:6 word Assirië “die land van Nimrod” genoem. Volgens The Complete WordStudy Dictionary is Nimrod ook “another name for Assyria, the ancient founder of the nation. It stands in Hebrew poetry in parallelism with Assyria.” En voorts: “Assyria/Asshur became a byword for violence and political terror tactics. It conquered and ruled by fear and brutality.” Fausset’s Bible Dictionary meld dat “Nimrod was the Bel, Belus, or Baal, i.e. lord of Babel, its founder.”
  • Maar Jona het nie na God geluister en na Ninevé toe gegaan nie – hy het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug. Tarsis beteken: “yellow jasper”, of dan chrisoliet, in Afrikaans. Tarsis is simbolies van die Bruid van Christus, of die Nuwe Jerusalem. Dit is te vinde in die borsplaat van die hoëpriester (Eks. 28:20; 39:13). Ons weet die borsplaat dui op die Bruid. Die kleur van die wiele in Eseg 1:16 en 10:9 was die kleur van chrisoliet. Ons weet Eseg. 1 is ‘n profetiese heenwysing na die formasies en werking van die Bruid. In Hoogl. 5:14 verwys die Bruid na die Bruidegom se hande as “ronde stawe van goud, ingevul met chrisoliet”. Die fondamentedelgesteentes van die Nuwe Jerusalem, die Bruid, word in Op. 21:20 beskryf as chrisoliet. In Eseg. 28:13 word die Koning van Tirus aangespreek wat uit sy posisie in die voortyd geval het, en daar word van hom gesê dat hy vroeër in die tuin van Eden (= die Bruid) bekleed was met onder ander chrisoliet.

Net op simboliese vlak is dit absoluut verstaanbaar dat Jona nie Ninevé toe wou gaan nie, maar met alle mag eerder na Tarsis toe. Maar daar is ‘n bepaalde proses waardeur elkeen moet gaan om in Sion gebore te word, en dit geskied “man vir man” (Ps. 7:5). Die “lyde van Christus” moet eers in jou oorvloedig (en spesifiek dié woord) word (2 Kor. 1:5); ons moet “die doding van die Here Jesus in die liggaam om(dra), sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word” (2 Kor. 4:10); “as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Rom. 8:17). Die kruks hiervan word die mooiste uitgespel in Fil. 3:10-11: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik”. Jy is nie net maklik, ipso facto, deel van die Bruid word nie; jy word letterlik daarin geskeur om te kan vermeerder. Daarom kan jy direk nie Tarsis toe vlug nie – dít is die eindbestemming. Allereers moet jy Ninevé se gode (wat van die vroegste tye in Génesis kom) onder die voete van Jesus gaan plaas. En ‘n paar dinge in die proses leer.

  • Sela: Waarom sou Jona se naam “duif” beteken?
  • Lees: 20:4 – 23:35; 24-28
  • Memoriseer: 28:28 (wat is die belangrikheid van hierdie vers vir hierdie lering?!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Suné Degenaar: Your position as the Depths of the Earth