“Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind …” (Jer 29:12-14, OAV)
Om te spreek, veronderstel uiteraard ook (‘n) hoorder(s). Van Génesis tot Openbaring openbaar God Hom as ‘n God wat spreek. Dit veronderstel dat dit wat aangespreek word, luister en (ge)hoor(saam). Gen 1:3 verduidelik die aanvang van die skeppingsproses soos volg: “En God het gesê …” Hier het Hy die duisternis aangespreek, later in vers 6, 9 en 20 spreek Hy die waters aan, in vers 11 en 24 die aarde, in vers 14 die uitspansel, en so meer. En wanneer Hy dan enige van die entiteite aanspreek, hoor hulle en reageer.
In vers 26 spreek God Homself aan en Hy bring die mens voort! Daarna het Hy die mens as die draer van “die beeld van sy Skepper” (Kol 3:10) toegerus om ook te heers deur te spreek (Gen 2:19). Daarom spel Job (in 12:8) dit byvoorbeeld uit: “spreek die aarde aan”.
Selfs die hemele “vertel” en die uitspansel “stort ‘n boodskap uit” (Ps 19:2); só ook die dag, en die nag weer kondig kennis aan (vers 3). Die aarde sug in baringsnood (Rom 8:22), en die stem van die bloed roep uit die aarde uit (Gen 4:10). Alles van God se skepping kommunikeer!
Dit alles dui in die wydste moontlike sin daarop dat God se wesensaard, tesame met sy ganse skepping, daarop gerig is om te kommunikeer. Soos dit nie goed was vir Adam om alleen te wees nie (Gen 2:18), net so was dit nie vir die Seun van die mens goed om alleen te wees nie. Die verhaal van die skepping van die mens is die liefdesverhaal van God se begeerte om vir sy Seun iemand te gee, vlees van Sy vlees en been van Sy been (Efes 5:30), sodat Hy nie meer alleen sou wees nie (Joh 12:24, LB).
In die laaste hoofstuk van Openbaring roep die Gees en die Bruid uit (vers 17), ‘n uitroep na die dispensasie waar daar nie meer afstand tussen die mens en God sal wees nie, daardie tyd waarvan Open 21:3 praat: “En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.”
Hierdie hele lering het ten doel om die wesensaard van God as ‘n God wat kommunikeer vas te maak. Lees weer Jer 29:12-14 hierbo. Ons sal aanroep, tot Hom nader en bid, EN HY SAL LUISTER! Dis ‘n tweerigtingkommunikasie, maar dan met hierdie geheimenis ten grondslag daarvan: “En ek sal My DEUR julle laat vind.
- Sela: Lees ook 2 Kron 15:4 hiermee saam. Wat is die implikasie hiervan? bedink mooi.
- Lees: Rut 3; Ps 115; Hand 24
- Memoriseer: Hand 24:14
- Vir dieper delf: Luister na Prince Olesegun se cd-lering: Speaking into the heavenlies.