Dag 1142-1144

 

“… meer as Jona is hier!”

(Matt. 12:42, OAV)

Hierdie week se Mannas moet weer eens asseblief saamgelees word met al die voorafgaande Mannas waarin ons besig is om die verhaal van Jona tipologies uit te pluis. Die oorkoepelende doel is om uit te kom by hoekom Jesus Jona voorgehou het as die enigste teken wat aan die mensdom gegee sal word. Jesus kon net sowel sê: My dood en opstanding uit die dood sal die enigste teken vir julle wees. Hoekom enigsins ‘n Ou-Testamentiese verhaal as tipologie gebruik? In vorige Mannas is uitgewys hoekom Jona as profetiese boek op die Groot Versoendag gelees word, en wat die profetiese implikasies daarvan is, en dat dit alles te doen het met die manifestasie van Jesus die Christus op aarde.

In verlede week se Manna is in besonderhede verduidelik wat die simboliese betekenisse is van Ninevé en Taris, die twee teenpole waarbinne Jona gesitueer word. Vir die oomblik veral van belang is Ninevé, die stad gebou deur die geweldenaar Nimrod. John Darby’s Synopsis som die gesprek daaroor goed genoeg op: “Nineveh represents the world in its natural greatness, full of pride and iniquity, regardless of God and of His authority.”

Dis absoluut insiggewend wat Jesus sê in die vers ná Matt. 12:39, waarin Hy vir sy navolgers sê ‘n slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Vers 40  spel dit dan uit: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”

‘n Mens maak onmiddellik die gelykstelling dat “die hart van die aarde” is die doderyk, en op grond van Jona 2:2 sou só ‘n gelykstelling geregverdig wees: “uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp”.

As dit tipologies gaan oor Jesus wat ná sy sterwe aan die kruis na die doderyk moes gaan, weet ons teen hierdie tyd dit is nié die sogenaamde ‘hel’ is soos sommige geloofstradisies dit wil hê nie (gaan lees weer die Manna Dag 689-691). [In die Apostoliese Geloofsbelydenis se 12 artikels is daar al die jare bely dat Jesus “ter helle neergedaal het” nadat Hy gesterf het. In een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke, te wete die Heidelbergse Kategismus, word in vraag 44 die sinsnede “ter helle neergedaal” verduidelik. Volgens hierdie belydenisskrif moet ons verstaan dat die sinsnede “ter helle neergedaal” bedoel dat Jesus “onuitspreeklike angs, smarte en verskrikkinge deur sy hele lewe gely het en veral aan die kruis en dat Hy ons van die helse angs en pyne verlos”. Uiteraard het Hy vooraf en aan die kruis uitsonderlik gely, maar tog glad nie ná Sy dood nie!]

Efes. 4:9 word dikwels gebruik om Jesus se neerdaal na die doderyk te verduidelik: “Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?” Daar lê ‘n ontsaglike diepte (letterlik én figuurlik) in hierdie sinnetjie. Laat ons net ‘n kort tydjie daarop reflekteer. Die Bible Believer’s Commentary skets duidelik die problematiek van hierdie saak: “But this raises a problem! How could the Messiah ascend to heaven? Had He not lived in heaven with God the Father from all eternity? Obviously, if He was to ascend to heaven, He must first come down from heaven. The prophecy of His Ascension in Ps. 68:18 implies a prior descent. So we might paraphrase verse 9 as follows: ‘Now when it says in Psalm 68 “He ascended”—what does it mean but that He also first descended into the lower parts of the earth.’ We know that this is exactly what happened. The Lord Jesus descended to Bethlehem’s manger, to the death of the cross, and to the grave. The lower parts of the earth have sometimes been taken to refer to hades or hell. But that would not fit in with the argument here: His Ascension necessitated a previous descent to earth but not to hell. In addition, the Scriptures indicate that Christ’s spirit went to heaven, not hell, when He died (Luk. 23:43, Luk. 23:46). The New English Bible translates this verse: ‘Now the word “ascended” implies that he also descended to the lowest level, down to the very earth.’”

Alhoewel daar verskeie vrae is wat smeek om gevra te word, en eweneens verskeie antwoorde wat nóg nie oor hierdie geheimenis gebied is nie, moet ons nou net op een saak fokus, naamlik wat presies dit inhou dat Jona (en derhalwe Jesus) “drie dae en drie nagte in die hart van die aarde” was. Uit die lang relaas hierbo is dit duidelik dat dit simbolies NIE op die doderyk dui nie, maar ‘n metafoor is van die Seun van die Mens, Jesus, se neerdaal na die

“die hart van die aarde”. Hand. 2:27 en 31 maak dit vir on duidelik: “Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie …  (Toe Dawid daaroor geprofeteer het in die Psalms …) … het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.”

Die problematiese frase hier is die simbolies-poëtiese formulering van “in die hart van die aarde”. ‘n Goeie eksegetiese beginsel rondom die verstaan van Skrif is om dit te vergelyk met soortgelyke segginge elders in die Bybel. Hierdie uitdrukking kom egter nét in Matt. 12:40 voor, en nêrens anders nie, en daarom moet ons na soortgelyke formulerings kyk.

Die frase “in die aarde” kom 66 keer voor in die Bybel, maar nie een daarvan verwys na die doderyk of die graf nie. In Matt. 6:10 waar Jesus die ‘Onse Vader’ bid, vra Hy byvoorbeeld: “Thy will be done in earth as it is in heaven.” (KJV) Natuurlik vra Hy nié dat God se wil soos dit in die hemel bestaan gedoen moet word in die graf/dodeyk nie! Dit beteken duidelik dat God se wil moet geskied tussen die mense op die aarde.

‘n Eweneens goeie voorbeeld is die tweede gebod in Eks. 20:4 – “Thou shalt not make unto thee any graven image, or any likeness of any thing that is in heaven above, or that is in the earth beneath, or that is in the water under the earth.” (KJV). [Oplettende lesers sal sien ons gebruik die KJV in plaas van die Afrikaanse vertaling omdat die voorsetsel “in” deurgaans in die Afrikaans verkeerdelik met “op” vertaal word.] Dit is tog absoluut duidelik dat ons nie verbied word om enige beeld te maak van iets wat “in die graf/doderyk” is nie, maar wat OP die aarde is (soos die Afrikaanse vertaling in sy verkeerdheid dan tog reg is!)

In Matt. 12:40, ons bronteks oor Jona, is die woordjie vir ‘hart’ in Grieks kardia, wat benewens die voor-die-hand-liggende sielsdimensiefasette van menswees beskryf, ook volgens Thayer beteken: “the centre of all physical and spiritual life”, maar ook “the middle or central or inmost part of anything, even though inanimate”, bv. die hart van ‘n saak.

Die ander swaartepunt in die frase “in die hart van die aarde”, is die woordjie “aarde” (Grieks: gē). Thayer verduidelik die semantiese reikwydte van hierdie woordjie soos volg: “arable land, the ground, the earth as a standing place, the main land as opposed to the sea or water, the earth as a whole, the earth as opposed to the heavens, the inhabited earth, the abode of men and animals, a country, land enclosed within fixed boundaries, a tract of land, territory, region”. Dus kan die frase “in die hart van die aarde” sonder veel teëspraak vertaal word as “midde-in die aardse bestaan”. Dus – soos Jona in die maag van die walvis was, só sal Jesus in die wêreld beweeg, in al die fasette van die gewone aardse bestaan, in die hart van al die ordinêre ondermaanse, dáár waar “die oorspronge van die lewe” (Spr. 4:23) is.

En al was Jona slegs drie dae en drie nagte in die maag van die walvis, sê hy in Jona 2:6 – “Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit …”! Die Engels noem dit “forever”  of “eternal” of “everlasting”. Dus dui die uitdrukking “drie dae en drie nagte” baie bepaald nié op ‘n afgeslote tydsafbakening nie (en is al die eindelose gestryery of dit werklik drie dae en drie nagte was wat Jesus in die doderyk was, totaal irrelevant). Hierdie uitdrukking word dus gebruik as ‘n heenduiding na die krag van opstanding in die simboliese derde dag! Die profetiese Skrif wat dit onteenseglik uitwys, is Hos. 6:1-2: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.”

Dwarsdeur die Skrif word die derde dag voorgehou as die dag van geestelike transisie, die inbeweeg in die volheid van God se agenda. Kyk net na die volgende eksemplariese voorbeelde in die Ou Testament: Gen. 22:4; 31:22; 34:25; 40:20; 42:17 & 18; Eks. 19:15 & 16; Num. 31:19; 2 Kon. 19:9; 2 Kon. 20:5; Est. 5:1; Jer. 38:14; Dan. 8:1; 10:1; Amos 4:4; en in die Nuwe Testament: Matt. 16:21; 17:23; 20:19; 26:61; 27:40; 27:63-64; Mark. 8:31; 9:31; 10:34; 14:58; 15:29-30; Luk. 9:22; 18:33; 24:7 & 21; 24:46; Joh. 2:19-22.

In Eks. 19:11 word die mooiste tipologie rondom die derde dag gebied: “Want op die derde dag sal die HERE voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.

Duidelik is Jona ‘n tipe van Jesus wat op die derde dag ‘n nuwe bedeling ingelei het wat die ganse mensdom “lewend (sal) maak” en hul uit die doderyk van die gevalle aardse bestaan en lewe sal laat opstaan (soos Hos. 6:1-2 dit raak verduidelik). MAAR: “meer as Jona is hier!” (Matt. 12:42). Jona word ook ‘n tipe van die Christus – daar is méér as Jona of Jesus hier ter sprake, en dit is hierdie essensiële aspek wat Bybellesers geensins verreken in die verstaan van die uitspraak van Jesus dat Jona die enigste teken is wat in die Nuwe Verbond gegee sal word.

Jona beteken ‘duif’, weer eens ‘n simboliese heenduider. Die Heilige Gees is nie ‘n duif nie, bloot “soos ‘n duif (Matt.3 :16). Trouens, na my mening is dit nie soseer die uiterlike spesifikasie van die duif wat belangrik is nie (want gees het uiteraard nie vorm nie), maar spesifiek die bewegingsaspek daarvan. Reiken et al noem dit byvoorbeeld “avian imagery” (Dictionary of Biblical Imagary, p. 217). Dit word byvoorbeeld sterk ondersteun deur ‘n Skrif soos Gen. 1:2 – “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.” (Kyk ook byvoorbeeld Deut. 32:11, waar ‘n arend voorgehou word wat “oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei”.) Duidelik het die Bruid spesifiek ‘n simboliese duiding van die Bruid, spesifiek uit Hooglied (1:15; 2:14; 4:1; 5:2 & 12; en 6:9). Met dit in gedagte, maar met klem op die bewegingsaspek, is dit insiggewend dat die Griekse vertaling van die Hebreeus in byvoorbeeld die Apostolic Byble Polyglot noem: “spirit of God bore upon the water:, met Strong.wat die woordjies “bore  … upon” verder verklaar: “to bear upon (or further), that is, adduce (personally or judicially [accuse, inflict]), superinduce: – add, bring (against), take.”

Jona bied nie net as Jesus redding in die eerste dimensie nie, hy word ook tipe van die Geesvervulde mens van die tweede dimensie, waar die Heilige Gees begin om die hart van die aarde te bewoon, veral in die lig van Ps. 139:15 – “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.” Meer as Jona is hier.

  • Sela: Probeer die metafoor van die Christus verstaan in die Jona-verhaal.
  • Lees: Phil. 1; Kol. 1-4; Efes. 1-6; Fil 1-4
  • Memoriseer: 4:9-13 (baie belangrik vir die lering)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Hanno Pienaar: Jona: Om te besef wie jy is in Christus.