
“U dode sal herlewe …”
(Jes. 26:19, OAV)
Die oorkoepelende doel van waarmee ons in hierdie sub-tema tans mee besig is, is om uit te kom by hoekom Jesus spesifiek vir Jona voorgehou het as die enigste teken wat aan die mensdom gegee sal word. Jesus kon net sowel gesê het: Mý dood en opstanding uit die dood sal die enigste teken vir die mensdom wees. Hoekom enigsins ‘n Ou-Testamentiese verhaal as tipologie gebruik en die verstaanwaarde van sy stelling soveel moeiliker maak?
‘n Belangrike rede hiervoor is dat die boek van die profeet Jona (DUS NIE BLOOT NET ‘N GESKIEDKUNDIGE OPTEKENING NIE) op die Groot Versoendag gelees word, en dat dit bepaald aandui: “meer as Jona is hier!” (Matt. 12:42), maar duidelik óók: méér as net Jesus is hier! Die vorige Manna het afgesluit en uitgewys dat Jona tipologies gesproke nie net Jesus se redding in die eerste dimensie (Paasfees) aanbied nie; Jona word óók tipe van die Gees-vervulde mens van die tweede dimensie (Pinksterfees), waar die Heilige Gees begin om die hart van die aarde te bewoon IN Geesvervulde gelowiges. Ons hoop om voorts uit te wys wat die profetiese implikasies daarvan is, en dat dit alles te doen het met die derdedimensie-manifestasie (Fees van Tabernakels) van Jesus die Christus op aarde.
Die Heilige Gees word ná Pinkster uitgestuur in die wêreld in. As Jona in Hebreeus ‘duif’ beteken, en eintlik ‘n heenwysing is na die “hovering”-wyse van beweging (“an avian imagery” is dit in die vorige Manna genoem), en dit simbolies is van die Heilige Gees, het dit duidelik ‘n vaartuig, ‘n liggaam nodig, wat tipologies hier ‘n “groot vis” (Jona 1:17) is. [Die groot vis is nie noodwendig ‘n walvis nie, maar kan dui op enige groot seedier (Gen. 1:21), alhoewel die KJV dit as ‘n “whale” vertaal.]
Duidelik is hierdie walvis ‘n simbool van die Liggaam van Christus, waarbinne die Gees van God die vlees van die Christus deelagtig word. Dit is ‘n proses van voltrekking wat in die Fees van Tabernakels volvoer sal word. [In die verhaal van Jona word dít simbolies voorgestel deur die “booth” waaronder Jona skuil – in die Afrikaans “skerm”, maar in die Hebreeus “sûkkâh”, wat die grondwoord van die fees van Sukkot, of dan: Tabernakels, is.] Dit is hierdie “derde dag” waarbinne ons nou reeds begin beweeg het, maar wat eendag volvoer sal word.
Die profetiese boek Jona begin, interessant genoeg, met die woordjie “En”, wat impliseer dat dit deur iets voorafgegaan word. Hier binne word die jong Jona gesitueer as deel van die profete in die tyd van Elisa (2 Kon. 13:14-21); die ouer Jona hoort in die tyd van die profete Hosea en Amos. Daarom dat Fausset’s Bible Dictionary kan sê: “Hosea (Hos. 6:2) saw the prophetical meaning of Jonah’s entombment: ‘after two days will He revive us, in the third day He will raise us up …’”! Sela asseblief oor die implikasies hiervan.
Sela: Probeer die laaste sin beantwoord, veral in die lig van die masskrif hierbo.
- Lees: 1 Tim. 1-6
- Memoriseer: 1 Tim. 1:16 (let veral op: “God is geopenbaar in die vlees”)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Hoe ontvang ek die Gesalfde Saad van Christus?