“‘n skaduwee … van die toekomstige dinge;
maar die liggaam behoort aan Christus”
(Kol. 2:17, OAV)
In die vorige Manna is verduidelik dat die profetiese figuur van Jona nie net op Jesus dui nie, maar veral op die Christus, en dat in die profetiese boek Jona al drie dispenasies van Pase, Pinkster en Tabernakels pragtig beslag kry. Duidelik is hierdie walvis ‘n simbool van die Liggaam van Christus, waarbinne die Gees van God die vlees van die Christus deelagtig word. In hierdie Manna wil ons net vir ‘n wyle stilstaan by die vaartuig, die Liggaam, hier voorgehou as die “groot vis”.
Ons Mannalesers sal onthou hierdie hele ekskursie rondom Jona is deel van die groter gesprek rondom die ware nagmaal, en hoe ons dit begin ontgin he na aanleiding van Johannes 6 se verduideliking van wonders en tekens, met verwysing na die manna en die broodbrokkies van die lewe waaruit Jesus as die Brood van die Lewe bestaan.
In Joh. 6, in die tweede deel van vier dele waarbinne ons die hoofstuk ingedeel het, is daar die verhaal van die storm op die see (wat baie sterk herinner aan Jona se angswekkende storm op die see) – daar word melding gemaak van Kapérnaüm. Ons lees op drie plekke in Joh. 6 van Kapérnaüm:
- Vers 17 – “En nadat hulle in die skuit geklim het, het hulle oor die see gevaar na Kapérnaüm; en dit was al donker, en Jesus het nog nie by hulle gekom nie.”
- Vers 24 – “Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie en sy dissipels ook nie, het hulle self ook in die skuite geklim en na Kapérnaüm gegaan om Jesus te soek.”
- Vers 59 – “Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het.”
Wat duidelik is uit die eerste twee verwysings na Kapérnaüm is dat daar telkens sprake van mense is wat dáár na Jesus getrek word en dat hulle Hom dáár soek. In die derde verwysing “assemble” die mense weer rondom hom, maar hier is dit baie belangrik m te weet dat Hy hulle hier leer oor die lewende brood wat uit die hemel neerdaal: “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe.” (Joh. 6:57-58).
Hy praat dus oor die rhema-woorde.
Kapérnaüm is dus duidelik ‘n simboliese heenwysing na dít wat Jesus in Joh. 12:32 uitgespel het dat Hy “as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek”. Ná Hy opgestaan het en die dood oorwin het, en opgevaar het, sal dié opstandingskrag alle mense na Hom getrek, en daarvan word Kapérnaüm die simbool. Die pleknaam Kapérnaüm beteken: “the covering of the Comforter”! Die “Comforter”, weet ons, is die Heilige Gees (Joh. 14:16; 26; 15:26). In Joh. 16:7 spel Jesus die belangrikheid van die Trooster soos volg uit: “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur …” In Joh. 14:26 spel Jesus dit uit: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”.
MAAR die Heilige Gees het ‘n vaartuig nodig. In vleeslike gestalte het Jesus gesê Hy moet die aarde verlaat, anders kan die Heilige Gees nie kom nie. Tog het Hy gesê Hy sal ons nie as wese hier agterlaat nie (Joh. 14:18). Een van die grootste gebreke in die Christendom is die misverstaan van Joh. 16:16-18 waarin Jesus een saak heeltyd vooropstel:
- “‘n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.”
- “Sommige van sy dissipels het toe onder mekaar gevra: Wat is dit wat Hy vir ons sê: ‘n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader?”
- “Hulle het dan gevra: Wat is dit wat Hy sê: ‘n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie.”
Vyf keer herhaal in die bestek van drie sinne! Jesus het alles in sy vermoë gedoen om voorop te stel wanneer Hy gaan terugkeer – ‘n klein tydjie. Wat presies is ‘n kort tydjie? 2000+ jaar? Nee, dis gekkigheid! Getrou aan die orde van God se feeste, is dit die vyftig dae tussen die Paasfees (waartydens ons Paaslam geslag is – 1 Kor. 5:7) en die Pinksterfees (40 dae van die opstanding tot Hand. 1:3 plus 10 dae van vas en gebed – Hand. 2:1, toe die Heilige Gees uitgestort is). Wat sê Jesus oor die identiteit van hierdie Trooster – Hy spel dit onomwonde uit: “die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18). Jesus is weg in die vlees; Hy is terug in die gees – dáárvoor het Hy, ‘n nuwe Vaartuig, ‘n nuwe Liggaam nodig. Daarom bid Jesus: “U het vir My ‘n liggaam berei.” (Heb. 10:5)! Jesus sal Homself manifesteer op aarde deur die Liggaam waarbinne die Gees van God nou vaardig is, dié Gees wat OOK die Here Jesus is.
In die voorbeeld van Jona word die Liggaam gesimboliseer deur die vis. Interessant dan dat die naam Ninevé ook beteken: “City of Fish” – veral omdat hulle die visgod aanbid het – (kyk na die webwerf: http://www.gods-kingdom-ministries.net/teachings/books/the-laws-of-the-second-coming/chapter-12-the-sign-of-jonah/).
As tipologiese parallel kan die figuur van Josua dien, die persoon wat Israel gelei het tot in die beloofde land, of tipologies: die derde dimensie – Deut. 31:23. In Hebreeus beteken sy naam dieselfde as Jesus s’n, Yashua, en in Deut. 1:38 word hy genoem: “Josua, die seun van Nun”. ‘Nun’ beteken ook ‘vis’!
Vir transisie van tweede na derde dimensie is die tipologiee vis as vaartuig nodig. Ons weet reeds teen hierdie tyd dit is ook die 153 visse wat gevang is in Joh. 21:11, wat volgens die Hebreeuse gematria dui op die ‘seuns van God’: בני האלהים = 153.
Dis dan in hierdie lig te verstane waarom Jesus in Matt. 4:18-20 se inslag vir die kies van sy dissipels soos volg was: “En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ‘n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg.”
Die tipologie van die Jona-vis as Liggaamvaartuig kulmineer pragtig as ons uitvind dat
Besáleël, die kunsvaardige wat van God die Gees van wysheid en verstand ontvang het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die tabernakel te verrig (Eks. 36:1-2), se naam ook ‘n gematria van 153 het! Sy naam beteken: “die skaduwee van God”! Die “seuns van God” bedien/is op aarde die skaduwee van Jesus die hemelse tabernakel (Heb. 8:5). Sela – “‘n skaduwee … van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:17).
- Sela: Probeer Joh. 1:14 en Op. 21:3 in die lig van die lering verstaan.
- Lees: 1-3; 1 Pet. 1-5
- Memoriseer: 2:11
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die gees van kunsvaardigheid (o.a. oor Besáleël)