“die teken van die profeet Jona”
(Matt. 12:39, OAV)
Net voor ons kom by die afsluiting van die subtema oor Jona is dit belangrik om ter wille van volledigheid die direkte parallel te trek tussen Jesus en Jona. Die volgende tabel kan ons daarin help om die uitsonderlike ooreenkomste maklik raak te sien en die tipologie dan verder rondom die Christus te kan uitbrei:
JONA | JESUS | |
1. | Sy roeping was om die heidense Assiriërs van Ninevé die boodskap van God se oordeel te bring, én dat Yahwe die enigste ware God is, en die Bron van hul verlossing, en dat hul hul moet bekeer en in verbond met Hom moet kom [Jona 1:1; 3:1-2]. | Sy roeping was om die boodskap van God se liefde te bring aan Israel, maar ook aan alle heidense nasies, dat hulle hul moet bekeer en in ‘n verbond met Yahwe moet tree, ook dat Hý die Bron is van God se verlossing (sy Naam beteken: “Yahweh is salvation”) [Matt. 28:18-20]. |
2. | Terwyl die vreeslikste storm woed, slaap Jona rustig in die diepste deel van die boot [Jona 1:5]. | Terwyl die vreeslikste storm woed, slaap Jesus rustig in die diepste deel van die boot [Matt. 8:24-25; Mark. 4:37-38]. |
3. | Jona was bereid om sy lewe te gee vir die redding van al die matrose [Jona 1:12]. | Jesus was bereid om sy lewe te gee vir die redding van die hele wêreld [Matt. 20:28; Mark. 10:45; Joh. 1:29; 1 Tim. 2:6]. |
4. | Jona bevind homself in ‘n simboliese graf, die ingewande van ‘n groot vis, in “die binneste van die doderyk” [Jona 2:1-2; Matt. 12:40]. | Ná Jesus’ se dood is Hy in ‘n graf geplaas [Matt. 27:60; Mark. 6:29; Luk. 23:53] en “(het Hy) neergedaal … in die onderste dele van die aarde” [Efes. 4:9], in “die hart van die aarde” [Matt. 12:40] |
5. | In die vis bid Jona: “U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ‘n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.” [Jona 2:3]. | Dawid bid profeties die gebed wat die Messias aan die kruis sou bid: “Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my.” [Ps. 69:1-2] |
6. | Jona bid in die ingewande van die vis met vaste geloof dat God hom kan hoor, ten spyte van die teendeel wat sy sintuie hom wysmaak, naamlik dat hy totaal van God verwyder is: “Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. “ [Jona 2:4]. In geloof reik Jona na die hemelse tempel. | Toe Jesus aan die kruis die verwydering tussen Hom en God ervaar (hoofsaaklik as gevolg van die skuldlas van die totale wêreld wat Hy op Hom geneem het, dít wat almal van Hom verwyder het [Jes. 59:2; Efes. 2:14], roep Hy in geloof uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” [Mark 15:34]. Dan, in geloof, reik Jesus na die hemelse tempel [Heb. 8:5] en bid: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” [Luk. 23:46]. |
7. | Op die derde dag is Jona “opgewek” uit die buik van die groot vis [Jona 2:11; Matt. 12:40]. | Op die derde dag is Jesus opgewek uit die dode [Matt. 17:23; 20:19; 28:1-10; Mark 9:31; 10:34; 16:1-7; Luk. 9:22; 18:33; 24:7; 24:46]. |
8. | Ná sy “opstanding” het Jona sy roeping volvoer om die Assiriërs tot bekering en verlossing te begelei [Jona 3:1-3]. | Ná sy opstanding het Jesus sy roeping volvoer om die evangelie van redding te vestig en te sorg dat dit aan alle mense verkondig word [Matt. 28:16-20; Mark. 16:12-20; Luk. 24:13-53; Hand. 1]. |
9. | Jona predik dat Ninevé vernietig sal word in 40 dae as die mense nie hulle bekeer nie [Jona 3:4]. | Na sy opstanding het Jesus vir 40 dae die evangelie van die koninkryk van God aan mense geleer [Hand.1:3]. |
10. | Jona predik dat as mens nie jouself bekeer nie, lei jou sonde tot oordeel, maar dat verlossng ‘n geskenk van God is [Jona 1:1; 3:4-5, 9-10]. | Jesus predik dat as mens nie jouself bekeer nie, lei jou sonde tot oordeel, maar dat verlossng ‘n geskenk van God is [Matt. 5:21-22; Joh. 5:22-29; 8:34-36; Luk. 24:47; Joh. 3:17; 5:34; 10:19; Hand. 2:21]. |
11.
|
‘n Ander tydskedule rondom Jona – ná hy uit die water gekom het, het dit hom drie dae geneem om Ninevé te bereik; dan beweeg hy in die stad vir ‘n reis wat ‘n halwe dag duur (of dan 12 uur volgens Joh. 11:9), en preek dan vir 40 dae dat die stad vernietig sal word as hul hul nie bekeer nie [Jona 3:3-4]. | ‘n Parallele tipologiese tydskedule gebeur met Jesus – ná Hy uit die waters van die doop [Matt. 3:15-17] opkom uit die graf [Rom. 6:3-4; Kol. 2:12], preek Hy vir drie en ‘n half jaar vir die Jode, en waarsku hulle dat in een generasie (40 jaar) die stad en die tempel vernietig sal word [Matt. 12:41]. |
12. | Die heel eerste verwysing na Jona in die Bybel is in 2 Kon. 14:25 – “… volgens die woord van die HERE, die God van Israel, wat Hy gespreek het deur die diens van sy dienskneg Jona, die seun van Amíttai, die profeet, wat uit Gat-Hefer was”. Sy geboortedorp was dus ‘n plek [Jos. 19:12-13], waarvan die naam beteken: “winepress of the pit” (International Standard Bible Ency-clopedia), óf “the winepress of the well” (Fausset’s Bible Dictionary). | Jesus vergelyk Homself ook met die wingerd: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug …” [Joh 15:5]. In ander Mannas is verduidelik dat die wingerd eintlik ‘n simbool van Jesus die Christus is. Die “winepress” is die plek waar die druiwe gepars word, duidelik met die daarstelling van die Nuwe Verbond in die oog [Matt. 26:28], maar dit is ook die ruimte van die doderyk (= “pit”)! Hieruit ontspring terselfdertyd ook die Lewende Waters uit die fontein van die Heilige Gees [Joh. 7:37-38]. (Onthou Jona se naam beteken “duif” – [Mark. 1:10].) |
- Sela: Bedink die belangrike verband ussen die simboliese sterfte en die opstanding in die Gees.
- Lees: 1-3; 1 Pet. 1-5
- Memoriseer: 2:11
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Bruid is nog ‘n Geslote Fontein