“Verder is ‘n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ‘n gefluister daarvan opgevang …” (Job 4:12, OAV)
Die woordjie wat as “’n gefluister” hierbo vertaal word, sou in die Engelse ekwivalent kon beteken: an inkling, dus ‘n “hint” (soos Webster sê). Die hoor van die stem van God kan hard en duidelik wees (en ons het ‘n paar goeie voorbeelde daarvan in die Skrif: Open 1:15; 1 Sam 3:4-14; Num 7:89; Mat 3:16-17; Hand 11:13-15; Mat 17:5; Joh 12:28-30, onder andere), maar dis die absolute uitsondering. Die Heilige Gees wat in ons spreek, is sag; dis nooit outoritêr, dwingend, manipulerend, of haastig nie. Hy praat een keer, dalk nog ‘n keer as jy hardhorend of ongehoorsaam is, maar nooit met obsessiewe herhaling nie. Die belangrikste waarmerk of jy weet dat dit Hy is wat in jou spreek, is dat jy vrede in jou gees ervaar (selfs al vra Hy jou iets wat jou hart op daardie oomblik tamboer laat slaan!)
Soos ons al vantevore uitvoerig beredeneer het uit die Skrif, is dit van baie groot belang dat jy dit wat jy hoor, met geloof verenig. Dis vir God baie belangriker dat jy gehoorsaam is as dat jy soseer reg moet hoor. Een van die belangrikste geestelike beginsels wat ek met die loop van my wandel met God geleer het, is dat AL HOOR EK DALK VERKEERD, GOD VIR MY DIE UITKOMS VAN MY UITSTAP IN GEHOORSAAMHEID ALTYD TEN GOEDE SAL LAAT MEEWERK.
Dis baie belangrik dat wanneer jy die stem van die Here hoor – en dit is amper asof dit ‘n gedagte is wat net van êrens af skielik surface – jy in geloof moet uitstap, selfs as die uitkomste daarvan dan nie is soos jy verwag het dit moet wees nie. Gehoorsaamheid is veel belangriker as eksterne geloofshandelinge. 1 Sa 15:22 stel dit soos volg: “Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” Op vier plekke in die boek Jeremia (7:23; 11: 4 & 7; 26:13) word die opdrag herhaaldelik gegee dat die gelowige moet die stem van God gehoorsaam. Daarom dat in Eks 19:5-6 dit só uitgespel word: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.”
As jy daardie amper ontwykende sagte stemmetjie onderskei, maak dit vas, verenig dit in geloof, en voer dit uit.
- Sela: Dis baie belangrik dat jy vandag leer om nie meer die Gees van God wat in jou spreek uit te blus (1 Thes 5:19) nie. Vra om vergifnis dat jy dalk in die verlede dit gedoen het, en vra God om jou verhardheid van hart (Heb 3:15) te verander.
- Lees: Rut 4; Ps 116; Hand 25
- Memoriseer: Ps 116:15
- Vir dieper delf: Lees hfst 18 “Joining God requires obedience” van Blackaby & King se boek Experiencing God.