Dag 1151-1153

 

“dat sy siel nie in die doderyk verlaat is

en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie”

(Hand. 2:31, OAV)

Verlede week se Manna het die subtema oor Jona grootliks afgesluit, en dit het die opwindende verdere tipologiese parallel getrek tussen Jona, Jesus en Paulus. Laasgenoemde is belangrik nié net omdat hy (soos Jona) ook geroep is as ‘n apostel tot die heidene nie (‘n totale vreemde konsep vir die Jode op daardie stadium – Hand. 10:45; 14:27; 28:28; Rom. 3:29; Gal. 2:15; 1 Thes. 2:16), maar veral omdat hy ook die apostel was wat die openbaring van die Christus aan die heidene moes bring. In Kol. 1:25-27 word dit uitgespel dat hy geroep is om hierdie verborgenheid te verkondig, te wete: “die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene …, dit is Christus IN julle, die hoop van die heerlikheid”.

Dit is belangrik dat lesers besef wat die groter prentjie is waarbinne ons onsself tans in die Manna-ontvouing bevind. Ons is oorkoepelend besig om die gees van perversie te ondersoek, en het mettertyd uitgekom by die belangrike bevinding dat hierdie gees wat so dikwels in gelowiges werk hul roeping en geestelike outoriteit “verdraai” en hul so mislei om nie in die volheid van die opstandingskrag van Christus te beweeg nie. Dit veroorsaak ‘n “kleed … wat deur sonde bevlek is” (Jud. 1:23), wat nét deur ware geestelike outoriteit verwyder kan word Hierdie ware geestelike outoriteit kry met verloop van tyd beslag, en behels die hantering van verskeie aspekte in jou gewone lewe, asook jou geestelike funksionering. Dit bring mee dat hierdie gelowiges wat “die regte pad verlaat en verdwaal” (2 Pet. 2:15) het, soos Saulus na “Reguitstraat” (Hand. 9:11) begelei moet word.

Dit is dus eintlik bloot ‘n ware geestelike mantel wat jou van dié gees van perversiteit vrywaar. Ons het om geestelike mantelvorming beter te verstaan, ‘n uitvoerige studie begin doen oor die mantel van Elia, en dit het verskeie aspekte van die gestaltegewing van ‘n mantel belig. As onderdeel daarvan, het ons uitgekom by die gees van Isébel, en hoe sy bepaalde profete aan haar tafel vestig. Elia as prototipe moet ook hierdie Baälprofete IN hom hanteer, veral dié wat geestelik aan háár tafel sit.

Van daar af het ons op ‘n afdraaipaadjie gegaan wat ons gevolg het om meer te wete te kom oor die simboliese betekeniswaarde van ‘tafel’ in die Bybel, en daaruit voortvloeiend oor die nagmaal as instelling in die Christelike kerk. Daar is stilgestaan binne ‘n wyer tipologiese verstaan van die wyn/bloed van die Nuwe Verbond. Dit het rondom die wyer tipologiese verstaan van die brood gelei na Joh. 6, ‘n merkwaardige hoofstuk in die Bybel. Hierdie hele hoofstuk gaan oor die vestiging van ‘n nuwe konsep wat Jesus aan sy volgelinge wil verduidelik – die wonderbaarlike geheimenis van die rhema-woord. Alles wat in Hoofstuk 6 versigtig deur Johannes op streng literêre wyse in sy inmekaargeweefde verhaal van verskeie narratiewe gekonstrueer word, begelei die leser om dit raak te sien. Binne die komplekse, verruimende perspektief wat die hoofstuk bied oor die manna wat die Israeliete in die woestyn van geleef het, en Jesus se uitspraak dat ‘n mens nié van brood alleen kan leef nie, maar eerder van elke rhema-woord wat uit die mond van God kom (Matt. 4:4), is die vermeerdering van die rhema-woorde ook ‘n tema wat deur Joh. 6 vooropgestel word. en spesifiek rondom die wonderwerk van die vermeerdering van die broodjies.

Ten spyte daarvan dat die Israeliete Jesus aanvanklik nagevolg het as gevolg van die feit dat daar ‘n sug was na die sien en beleef van wonders en tekens, het Hy hulle begin verduidelik van hierdie “koring van die hemel” (Ps. 78:24), of dan: “die brood van die engele” (Ps. 78:25), of soos die ACV dit vertaal: “the bread of the mighty”. Op grond van die ABP se transtestamentêre vertaling, kan ons dit in Nuwe-Testamentiese terme noem: “die brood van die gestuurdes”! Sela.

Jesus se kategoriese uitspraak dat die mensdom geen wonder of teken verder gegee sal word nie, behalwe die teken van Jona, het gesorg vir die handvol Mannas die afgelope paar weke, waarin in detail verduidelik is dat elke rhema-woord nou ‘n wonderteken word! Die klem verkuif dus van bonatuurlike dinge wat as wonders en tekens kan dien, na Geesvervulde gelowiges wat in hul uniek-eie identiteit in Christus beweeg en gestalte gee aan Sy opstandingslewe hier op aarde (Rom. 5:10)! Hulle is die wondertekens waarvan Jona die tipologie is! Soos Jesus “uit die hemel neergedaal” (Joh. 6:38) het, daal die rhema-woorde eweneens uit die hemele, die geestelike realm, na die fisiese realm. Die enigste teken wat die wêreld ná Jesus gegee sal word, is die opstandingsliggaam van die Seun van die mens, Christus Jesus. As die gelowige met Christus gekruisig is (Gal. 2:20), impliseer dit noodwendig dat hy/sy ook met Christus uit die dode opgewek word, met geweldige implikasies vir die gelowige se liggaam: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Rom. 8:11). Hierdie geheimenis maak elkeen wat in Christus (nie Jesus nie) sterf, en in Christus opstaan (Efes. 2:6), ‘n wonderteken.

In die laaste Manna is ‘n baie opwindende tipologiese parallel getrek tussen Jona, Jesus en Saulus van Tarsis. Die tipologiese raakpunt tussen hulle is onder andere die duisternis waarbinne hul in die ‘doderyk’ opgesluit was. Uit die Skrifte is dit baie duidelik dat die twee begrippe van ‘duisterheid’ en ‘doderyk’ deurgaans op mekaar afgestem is. Dit is duidelik dat Jona én Saulus bloot in ‘n simboliese doderyk was (die een in ‘n vis, die ander met blindheid geslaan), maar dit vra absoluut besinning oor Jesus in die doderyk.

In die doderyk is mens dood, is uiteraard die veronderstelling. Uit Manna 689-691 weet ons ‘n paar spesifieke dinge van die doderyk:

  • “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie …” (Ps. 115:17).
  • 9:5 sê “die dooies weet glad niks nie”.
  • Die doderyk (= Hades) beteken in Grieks: “unseen, or imperceptible” – per definisie is dit onmoontlik om daar te kan sien of te kan verstaan. Ps. 146:4 (BBE) – “Man’s breath goes out, he is turned back again to dust; in that day all his purposes come to an end.” Pred. 9:10 stel dit duidelik– “daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk”.
  • Daar is ook geen geluid of klank in die doderyk nie – “let them be silent in Sheol”, sê Ps. 31:17.
  • Is die dooie mense bewus van wat aangaan op die aarde? Nee, in die doderyk is daar nie bewussyn nie, nee – al die dooies rus (1 Sam. 28:15).

Ás dit dan so is, hoekom is daar Skrifte in die eerste sendbrief van Petrus wat praat daarvan dat Jesus in die tyd wat Hy in die doderyk was, bepaalde evangelisasiewerk gedoen het?

  • “Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is …” (1 Pet. 3:18b-20).
  • “Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.” (1 Pet. 4:6).

Die algemene verduideliking is dat Jesus neergedaal het in die doderyk om die evangelie te bring aan almal wat vóór Hom (met ander woorde vóór sy sterwe aan die kruis en sy opstanding uit die dood) “sonder Christus was ,… sonder hoop en sonder God” (Efes. 2:12). In Hand. 4:12 word dit eksplisiet gestel – “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” As Jesus se reddingsaksie dan uiteraard nié beskikbaar was voor die kruisiging en die opstanding nie, en “daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd” (1 Tim. 2:5-6), en hulle het geleef VOOR dié tyd, wat dan van hulle redding? Dat daar geen ander weg van verlossing is vir enigeen, buiten deur Jesus Christus, die Seun van God, nie, is onteenseglik só:

  • “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” (1 Joh. 5:12)
  • “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Joh. 3:36)
  • “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6)

In hierdie lig gesien, is dit ‘n fantastiese uitkoms, naamlik dat die evangelie gebied is aan almal wat in die doderyk was [en dis almal, want niemand het “die offer van die liggaam van Jesus Christus” (Heb. 10:10) kón ontvang nie]. Sodoende kon hulle ‘n keuse uitgeoefen het ten opsigte van hule redding, iets wat vroeër geensins moontlik was nie. Dit dui dan op die absolute genade van God “wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1Tim. 2:4)!

Maar daar is onteenseglik ‘n paar probleme met hierdie siening, en ‘n mens moet dit absoluut verreken voor ons dit as ‘n waarheid kan aanvaar:

  • Die volle evangelie van Jesus Christus sluit nie net sy sterwe in nie, maar ook veral sy opstanding! Dis juis die opstanding uit die dood wat die kruks is van sy sterwe, anders het Hy nooit die dood oorwin nie. Ons weet Jesus het “gesterwe en opgestaan en weer lewend geword” (Rom. 14:9) en daardeur “die dood tot niet gemaak” (2 Tim. 1:10) vir die mensdom.
  • Die Skrif is duidelik dat Jesus fisies gesterf het, met ander woorde die totale omvang van wat ons as stefte ken en verstaan. Maar God het Hom opgewek uit die dood en laat opstaan, derhalwe Jesus se triomfantlike status in Op. 1:18 – “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” Hoe rym dit met die verse uit 1 Petrus hierbo?

In die volgende Manna word hierdie problematiese aspe verder uitgepluis.

  • Sela: Probeer die masskrif hierbo verklaar in die lig van die lering.
  • Lees: 7-13; 2 Tim. 1-4
  • Memoriseer: 12:22
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Vrees vir die Dood Hou jou in Slawerny