“ … His soul was not left to hades”
(Hand. 2:31, YLT)
In ‘n poging om presies te verstaan watter verband die Skrif lê tussen die begrippe ‘duisterheid’ en ‘doderyk’ het ons in die vorige Manna oor ‘n kwessie gestrompel wat absoluut verreikende implikasies kan inhou vir ons dink oor baie dinge van ons geloofslewe. Vreemd hoe mens net maklik dinge aanvaar, maar as jy dit nader ondersoek, met die klein geloofsbeiteltjie begin kap, daar ‘n onverwagse bars skielik oopgaan en ‘n totale ander wêreld anderkant die oënskoulik onbenullige kwessie sigself begin vertoon.
Vir jare predik ek met groot oortuiging op grond van 1 Pet. 3 en 4 dat Jesus in die tyd wat Hy in die doderyk was, die evangelie van redding aan almal in die doderyk aangebied het wat nooit die voorreg sou kry om dit te hoor en aan te neem nie (bloot omdat dit histories gesproke nie beskikbaar was nie). Ek wíl dit graag ook glo, want “die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). Wat van al die mense wat “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efes. 2:12) gesterf het – hierdie was ‘n wonderlike oplossing vir hulle, én my verstaan van die regverdigheid van God. Helaas hou die argument nie water nie.
Anders as Jona en Saulus, wat bloot metafories ‘dood’ was, is dit ontsettend belangrik dat Jesus wel fisies gesterf het, want as dit nie so was nie, kon Hy nie uit die dood opstaan en die dood oorwin nie: “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.” (Rom. 6:9).
As ons dan konsensus het dat Jesus wél “die gees gegee” (Joh. 19:30) het, “die laaste asem uitgeblaas” (Mark. 15:37) het, is die algemene verstaan dan dat Hy doderyk toe moes gaan – Hy het, soos die Apostoliese Geloofsbelydenis sê: “neegedaal na die doderyk”. Of nie? Hand. 2:31 stel dit egter onomwonde ten opsigte van Jesus: “his soul was not left to hades” (YLT) – sy siel was nooit “in die doderyk” nie!
Die enigste versies in die Skrif wat enigsins die idee van die doderyk miskien kon bevestig, is Efes. 4:9-10: “Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.” Let wel – hier word in hierdie verse nie één keer verwys na die doderyk nie. Die uitdrukking “die onderste dele van die aarde” word gemaklik verkeerdelik onmiddellik met die doderyk en/of hel geassosieer, maar dis geensins wat dit metafories beteken nie, soos dit uitvoerig in Dag 1142-1144 verduidelik is. Die uitdrukking “in die onderste dele van die aarde” kan absoluut verantwoord vertaal word as “midde-in die aardse bestaan”. The New English Bible bied tereg dan hierdie vers aan as: “Now the word ‘ascended’ implies that he also descended to the lowest level, down to the very earth.’”
Slotsom: daar is geen Skrif wat stel dat Jesus enigsins doderyk toe is nie.
- Sela: Waar was Jesus dan?
- Lees: Judas 1; 2 Pet. 1-3
- Memoriseer: 2 Pet. 1:4
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Ascending Descending.