Dag 1155-1156

 

“die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig”

(2 Kor. 4:18, OAV)

Ons het in die vorige Manna tot die slotsom gekom dat daar geen Skrif is wat stel dat Jesus enigsins doderyk toe is ná die kruisiging nie.

Die vraag is dan: wat het met Hom in daardie tyd voor die opstanding gebeur?

In Dag 1142-1144 is uitgewys dat die uitdrukking “drie dae en drie nagte” baie bepaald nié dui op ‘n afgeslote tydsafbakening nie (en is al die eindelose gestryery of dit werklik drie dae en drie nagte was wat Jesus in die doderyk was, totaal irrelevant). Hierdie uitdrukking word dus gebruik as ‘n heenduiding na die krag van opstanding in die simboliese derde dag! Die profetiese Skrif wat dit onteenseglik uitwys, is Hos. 6:1-2: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.” Hierdie tyd moet geestelik verstaan word, en dit bevestig die vermoede dat die ruimte eweneens ook geestelik geïnterpreteer moet word. Die feit dat dit geestelik is, maak dit egter natuurlik nie minder reëel nie.

In die baie belangrike Manna van Dag 665-667 (lees dit asseblief weer!) is uitgewys dat daar duidelik twee realiteite bestaan – die een is die natuurlike realm, sigbaar en deur die sintuie kenbaar – dit is die tydelike realm, wat ons op grond van Rom 8:20 (WNT ) “unreality” genoem het. Die gebeurtenis in 2 Kon 6:15-17 rondom Elisa en Gehasi het baie insig gebied ten opsigte van hierdie geheimenis. Gehasi was in baie bedreigende omstandighede, buite homself van vrees, want hy kon net die kenbare, sigbare gevaar van sy “unreality” sien. “En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” Gehasi het met sy natuurlike, vleeslike oë gekyk, en die vyand gevrees. Die ander realm, wat Elisa raakgesien het, was net sigbaar vir die geestelike oog. Die interessante is dat Elisa toe gebid en gevra het dat Gehasi se geestelike oë tog oopgemaak moet word. Wat hy gesien het in dié ware realiteit van die geesrealm is die aanwesigheid van “perde en waens van vuur rondom Elisa”!

Vier belangrike gevolgtrekkende opmerkings hieroor:

  • Daar bestaan in die reëele geestelike realm ‘dinge’ wat transendent is, met ander woorde wat nie deur fisiese sintuie kenbaar is nie, wat dus die grense van die sintuiglike ervaring oorskry.
  • Hierdie dinge resemble die dinge in die sintuiglike realm. Gehasi kon herken dat hulle perde en waens is. Maar die dinglikheid van hierdie dinge in die geestelike realm is van ander aard en ‘substansie’. Hierdie ‘dinge’ is nie sigbare tyd en ruimte deelagtig nie (Kol. 1:16), funksioneer in ‘n ewige geestelike realm wat los van tydruimte is (want “die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” – 2 Kor. 4:18).
  • Die geestelike realm was georganiseer rondom die “seun van God” wat in daardie realm funksioneer.
  • Die fisiese sintuie kan nie in hierdie realm funksioneer nie, wel die geestelike sintuie, en spesifiek dan “die verligte oë van die verstand” (Efes 1:18). Let mooi op: dit is oë van die verstand, met ander woorde HOE JY VERSTAAN.

As jy hierdie waarheid vasmaak, sal baie dinge in die geestelike realm vir jou veel meer verstaanbaar word – as iets sigbaar is, is dit tydelik, want dit is verganklik. Dit wat ewig is, is per definisie onsienlik, want in die fisiese realm kan dit nie bestaan nie. Die hele argument indertyd oor hemel en hel het gedraai op hierdie argumentspunt, alhoewel dit nie spesifiek só uitgespel is nie.

Dit sou byvoorbeeld dan die geweldige belangrike implikasie inhou dat die tuin van Eden, asook die eerste twee geskape wesens, Mens en Mannin, onsienlik was! Dit korrespondeer natuurlik met Gen. 2:8 – “Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.” ‘n Paar belangrike opmerkings hieroor:

  • Die woordjie “paradys” kom nêrens in byvoorbeeld die OAV of KJV in die Ou Testament voor nie, maar wel drie keer in die Nuwe Testament (Luk. 23:43; 2 Kor. 12:4; Op. 2:7).
  • Die woordjie “Eden” weer kom nêrens in die OAV of KJV in die Nuwe Testament voor nie, maar wel 20 keer in die Ou Testament.
  • Op die oog af lyk dit dus asof die twee begrippe niks met mekaar te make het nie, asof “die tuin van Eden” en “die paradys” nie gelyk gestel kan word nie.
  • Daar word heelparty keer in die Bybel gepraat van “die tuin van Eden” (Gen. 2:15; 3:23-24; Eseg. 35:36; Joël 2:3), wat die indruk skep dat Eden die tuin was. Dit is egter nie so nie! Die ABP-vertaling maak dit baie duidelik: “And God planted paradise in Eden …” (‘paradys’ beteken bloot ‘tuin’ in Hebreeus).
  • 2:8 spesifiseer: daar is ‘n tuin/paradys geplant < in Eden < in die Ooste.
  • Ons weet uit vorige lering dat die woordjie “ooste” hier nie ‘n aanduiding is van rigting nie; die Hebreeus “qedem/qêdmâh” dui onder andere in sekere kontekste ook op die begrip “voortyd” (soos dit byvoorbeeld só in die Afrikaans vertaal is in Deut. 33:15). Die voortyd is eintlik ‘n kontradiksie in terme, want as iets vóór tyd is, bestaan dit noodwendig buite tyd. Daarom dat ons dit verkiesliker noem “’n ander realiteit”, “buite chronostyd”, wat duidelik moet tuishoort in die ewigheid.

Met dít in gedagte, is dit baie belangrik om te besef dat Jesus aan die moordenaar aan die kruis ‘n belofte gemaak (en aan ons ‘n verstaan gegee waar Hy gaan wees direk ná sy dood, in antwoord op ‘n versoek van dié man): “En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk. 23:42-43). Uit ons gelykstelling bietjie vroeër, is dit dan duidelik:  paradys < in Eden < in die Ooste/voortyd/ander realiteit buite tyd! In 2 Kor. 12:14 word Paulus “opgeruk” in die derde dimensie, wat hy ook “paradys” noem, waar hy die rhema-woorde van God hoor. En in Op. 2:7 staan: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is,” wat dan ‘n gelykskakeling maak tussen “paradys” en “tuin van Eden”. Jesus het na sy dood weer sy posisie as die Boom van die Lewe gaan inneem in die paradys < in Eden < in die Ooste/ander realiteit buite ons tydruimte!

  • Sela: Probeer Op. 22:2 & 14 nou verstaan.
  • Lees: 1 Joh. 1-5; 2 Joh. 1 – 3; Joh. 1
  • Memoriseer: Soveel van Joh. 1 as moontlik.
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Alle dinge: ‘n Verkenning van die Voortyd uit die Skrif