Dag 1159

 

“Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe …”

(Spr. 11:30, OAV)

Ons het lang, interessante paaie geloop om by hierdie sametrekkingspunt uit te kom. As ons vir ‘n oomblik net verder stilstaan by Op. 2:7 – “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.” Alhoewel nie een Skrif eksplisiet Jesus benoem as Boom van die Lewe nie, het verskeie mense met openbaringkennis ook hierdie gelykstelling sonder teenspraak gemaak, teoloë so ver verwyderd van mekaar soos byvoorbeeld Charles Spurgeon en Rick Joyner. As ons dit aanvaar, is dit ‘n belangrik dat die “overcomers” van die derde dimensie verstaan wát presies dit impliseer.

Wat eet ‘dié wat oorwin’ presies – hulle eet tog nie die boom nie; aan hulle word die vrug van die boom gebied (en die blare word aan die ongeredde nasies vir genesing gegee).           Dwarsdeur die Ou Testament speel die “first-fruits” ‘n baie belangrike rol ten opsigte van die offers wat vir die feeste gebring moet word. In Jer. 2:3 word die konsep gemetaforiseer en gelyk gestel aan die verbondsvolk Israel. Ons het vroeër uitvoerig verduidelik hoedat Israel as volk dit toe verloor is, en dat die Seun sy Bruid nou die “first-fruits” noem. Dis dan te verstane dat die tipologie van die Fees van Tabernakels, die Derde Dag, ten nouste gemoeid is met die eerste vrug van die oes (Eks. 23:16; 34:22)

In 1 Kor. 15:20 verduidelik Paulus dat Jesus deur sy dood en opstanding die Nuwe-Testamentiese eerstelingvrug van dié wat gesterf het, geword het. Máár, sê verse 22-23, elkeen wat “in Christus” sterf en opstaan, word ook “first-fruits” genoem – “elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms”. Dit bevestig Jak. 1:18 – “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.” Die Bruid IS nie net die eerstelingvrug van die 1444000 (Op. 14:4) nie, hul DRA ook die vrug: “having the first-fruit of the Spirit” (ALTNT).

Waaraan groei hierdie eerstelingvrug? Aan die Boom van die Lewe, natuurlik. Elkeen wat “overcome”, sê Op. 2:17, het die reg om in te gaan in die derde dimensie en om van die Boom van die lewe se vrug te eet. Hulle eet dus uiteraard van die vrug van Jesus se goddelike natuur, wat ons ook die “vrug van die Gees” (Gal. 5:22; Efes.5:9) noem, MAAR hul eet ook van die vrug van die Christus, met ander woorde hulle eet mekaar se Christus-rhema-identiteit! En as dit gebeur, word hul bome van die lewe in eie reg, soos Spr. 11:30 dit pragtig uitspel: “Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe …”

Sien asseblief die tipologiese parallel met Joh. 6 se vestiging van die nuwe konsep wat Jesus aan sy volgelinge wou verduidelik – die wonderbaarlike geheimenis van die rhema-woord, en Jesus se uitspraak dat ‘n mens nié van brood alleen kan leef nie, maar eerder van elke rhema-woord wat uit die mond van God kom (Matt. 4:4). Die enigste teken wat die wêreld ná Jesus gegee sal word, is die verheerlikte opstandingsliggaam van die seuns van God. Eseg. 4712 het van hulle geprofeteer:. “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie…”

  • Sela: Is jy ‘n eerstelingvrug? En ‘n boom van die lewe?
  • Lees: 12-18
  • Memoriseer: 14:4 (let op die sinchronisasie!).
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die 144 000. Is jy deel vd Oorblyfsel?