Dag 116

 

“By those who come near Me I must be regarded as holy …” (Lev 10:3, NKJV)

Om te vertrek op hierdie avontuurreis om die stem van God te hoor, is een van die mees bevredigende aspekte van enigiets wat jy in jou lewe sal beoefen. Die blote gedagte dat die lewende God, die God van hemel en aarde, daarin belangstel om met jou te praat, en belangstel om te weet wat jy sê en dink (Deut 31:21; Ps 40:17), is ver bo my tinktinkiebrein se begrip. Dis wonderbaarlik dat Hy – wat só oneindig groter as ek is (Ps 147:5; 2 Kron 2:6) ‘n persoonlike verhouding met my verlang, dat Hy begeer om na my hart te spreek (Hos 2:14). En daarbenewens: Hy koester gedagtes aangaande my, “gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jer 29:11). As ek daaroor dink, voel ek dikwels soos Dawid: “wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Ps 8:4).

Binne hierdie konteks moet mens nooit die ontsettende genadegeskenk van persoonlike kommunikasie met die Lewende God geringskat nie. Abraham word in die Skrif “God se vriend” genoem (2 Kron 20:7; Jak 2:23), en die ongelooflike voorreg word ook ons deel as ons in verbondsverhouding met God loop. Daarom sê Jesus in Joh 15:15: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” 

Van Moses word in Eks 33:11 gesê: “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek.” As gevolg hiervan, maak Ps 103:7 hierdie ongelooflike uitspraak: “Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.” Moses was in staat om met God op ‘n intieme vlak te kommunikeer, en derhalwe – anders as die res van die volk – het Hy nie net gesien wat God doen nie, hy het vooraf geweet wat was die “weë van God”, sy planne.  

  Maar heelparty gelowiges raak met die loop van tyd so eie dat hul ook ‘n kleim afsteek op God, Hom as ‘t ware behandel as “almal se Pêl”. Inderdaad: wat ‘n vriend het ons in Jesus” maar dit maak Hom nie jou slaaf of lakei of gatgabba nie. Die meeste Christene bid heeltyd tot God en order Hom voortdurend rond om dit of dat te doen, asof Hy net gereed moet staan om in elke begeerte, gril of versoek van ons te moet voldoen. Geen verhouding kan bly staan as dit net gegrondves is in ‘n inkopielysie van wat jy graag wil hê of wat jy wil hê moet gebeur nie.

Die hoor van die stem van die Here is onlosmaaklik verbind aan die vrees van die Here. “The Lord is exalted, for he dwells on high; he will fill Zion with justice and righteousness. He will be the sure foundation for your times, a rich store of salvation and wisdom and knowledge; the fear of the Lord is the key to this treasure.” (Isai 33:5-6, NIV).

  

  • Sela:  Bid en vra vir “die gees van die vrees vir die Here” (Jes 11: 2)
  • Lees: 1 Sam 1; Ps 117 & 118; Hand 26
  • Memoriseer:  Hand 26:18
  • Vir dieper delf: Lees hfst 13 van John Bevere se boek: The fear of the Lord.