Dag 1160

 

“… duisternis sal die aarde oordek …”

(Jes. 60:2, OAV)

In die vorige Manna het ons ‘n afsluiting gebied van die lang, interessante paaie wat ons rondom die tema van die ware nagmaal, die brood van die lewe, geloop het, en dat dit dui op die wonderbaarlike geheimenis van die rhema-woord, en Jesus se uitspraak dat ‘n mens nié van brood alleen kan leef nie, maar eerder van elke rhema-woord wat uit die mond van God kom (Matt. 4:4). Die enigste teken wat die wêreld ná Jesus gegee sal word, is die verheerlikte opstandingsliggaam van die seuns van God.

In hierdie lig is Jesus se merkwaardige woorde in Joh. 6:32b-33 besonder veelseggend: “my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.” As Hy deur sy rhema-woorde neerdaal en aan die wêreld die lewe gee, beteken dit dat die wêreld as ‘t ware dood is. In die uitpluising van die onderwerp wat aangesny is in die gesprek oor Jona (ook Jesus en Saulus se ervaring van die “doderyk”), vra dit egter nog nadere toeligting, veral omdat al drie eksplisiet die “doderyk” beleef en veral metafories voorgehou het, maar hulle nié daar was nie. Wat presies sou die term ‘doderyk’ dan werklik beteken? Lees die volgende Skrifte wat dit op die een of ander wyse presies só te kommunikeer:

  • “Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke …” (Jes. 60:2)
  • “dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God” (Hand. 26:18)
  • “mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart …” (Efes. 4:18)
  • “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig …” (1Pet. 2:9).

Eweneens, die begrip “buitenste duisternis” word drie keer só deur Jesus gebruik, maar elke keer met verwysing na mense wat of ten minste gered en selfs wedergebore is – dit maak tog nie sin nie:

  • “Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matt. 8:12)
  • “Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matt. 22:13)
  • “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matt. 25:30)

Wat sou dit beteken?

  • Sela: Probeer self ‘n verduideliking gee van wat ondere met “duisternis” bedoel word in die Skrif.
  • Lees: 19-22 [As jy getrou was, het jy nou die Bybel sedert Dag 1 drie keer deurgelees!]
  • Memoriseer: 22:2
  • Delf dieper: Luister na die cd van Tom Gouws: Hoe Herstel ek Grond Deur vloeke te Kanselleer?