Dag 1162

 

“As dan die lig in jou donkerheid is …”

(Matt. 6:23, OAV)

 

Die begrip ‘buitenste duisternis’ in tans onder die loep, die eerste van drie kere dat dit voorkom in die Skrif, in die gelykenis van die huweliksfees en –kleed in Matt. 22:1-14. Uit die vorige Manna weet ons dan dat op grond van vers 14 dit hier gaan oor almal wat geroep is, maar nie op die roeping geantwoord het nie; hulle is dus nie uitverkies nie, want hulle het nie gekies nie (1 Pet. 1:2).

Uit die gelykenis kan duidelik verstaan word dat diegene wat allereers uitgenooi is na die bruilofsmaal (die Jode), dit nie wou bywoon nie, en dat die uitnodiging toe as ‘t ware aan die ganse gebroke wêreld gerig is. Dit is duidelik – die evangelie van redding – “wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel” (Kol. 1:23) – is vir almal. Maar eventueel is daar ‘n baie belangrike voorwaarde wat aan die bruilofsgaste gestel word – hulle moet die regte bruilofskleed dra. Gaan lees weer Dag 27 & 28 oor die simboliese priesterskleed wat die geroepenes moet aantrek. Vir die priester wat in die tweede dimensie moet ingaan, is die bekleding ‘n absolute voorwaarde. As daar dan iemand is sónder die kleed, sê die gelykenis, sal hy in die buitenste duisternis gewerp word; daar sal geween wees en gekners van die tande. Dit kan egter nie die kleed van die die eerste dimensie wees nie, met ander woorde die wit lendekleed van redding nie – hy het immers die keuse gemaak om na die bruilof te kom (met ander woorde Jesus as Verlosser aan te neem – Joh. 1:12).

Die uitdrukking: “Daar sal geween wees en gekners van die tande.” kom ook voor in Matt. 3:42 & 50, en daar word dit eksplisiet gekoppel aan die feit dat “hulle in die vuuroond (ge)gooi word”.

In Dag 767-769 is Jesus se woorde in Mat. 3:9-12 uitvoerig verduidelik hoe Hy sê hierdie vuuroond op aarde die eerste- en tweededimensiegelowiges sal suiwer. In die vuuroond van die Bruid word alle ongelowiges, maar ook eerste- en tweede-dimensiegelowiges met vuur getoets.

Dit is dus duidelik dat as die eerste- en tweede-dimensiegelowiges wat na die bruilof genooi is, aanvaar het, maar nog nie volledig bekleed is nie, eintlik in die vuuroond van die derdedimensiegelowiges as Goddelike standaard gewerp word, is die doel dat hulle gereinig en gesuiwer sal word. Om in die vuuroond gegooi te word, kan dus metafories absoluut gelyk gestel word aan ‘om in die buitenste duisternis gewerp’ te word! Jy beland nie daar omdat daar soseer duisternis dáár is nie, maar juis omdat die duisternis ten spyte van jou redding en wedergeboorte steeds in jóú is! “Die lamp van die liggaam is die oog [duidelik “verligte oë van die verstand – Efes. 1:18]. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Matt. 6:22-23).

  • Sela: Is die lig in jou dalk donker? Sela.
  • Lees: 3-4; Efes. 2
  • Memoriseer: 2:8
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Buid as Vuuroond