Dag 1165

 

“Van al die bome van die tuin mag jy vry eet …”

(Gen. 2:16, OAV)

In die vorige Manna is ten slotte bevind dat die mens met die sondeval uit die ewige God van die ewigheid/voortyd/ooste, wat ’n bewoonbare ruimte van ’n ander realiteit is, geval het.

Voor ons die ruimte waarheen hul geval het in groter deeglikheid bestudeer, moet ons eers ’n ander dwingende leidraad oor die saak ondersoek. In Gen. 2:16 sê God: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet …” Mens en Mannin mag van die Boom van die Lewe geëet het, MAAR OOK van die res van die bome in die tuin. Wat sou hierdie bome simbolies beteken?

’n Boom dui volgens Jes. 61:3 op ‘n mens wat “‘n planting … van God …(in) geregtigheid” (is). Deut. 20:19 (KJV) spel dit netjies uit: “When thou shalt besiege a city a long time, in making war against it to take it, thou shalt not destroy the trees thereof by forcing an axe against them: for thou mayest eat of them, and thou shalt not cut them down (for the tree of the field is man’s life) to employ them in the siege …” In Jes. 65:22 word dit eksplisiet voorgehou: “die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome”. ’n Interessante gelykstelling is in Mark. 8:23-24: “Hy neem toe die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp; en nadat Hy in sy oë gespuug en hom die hande opgelê het, vra Hy hom of hy iets sien. En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop.”

Hout dui simbolies op vlees, en mense word dus simbolies deur bome voorgestel, maar baie meer spesifiek is die Bruid hierdie bome wat in Eden geplant is.

Ons weet nou duidelik Mens en Mannin het sekerlik gesterf, is as ‘t ware ontwortel en só het hul uit die tuin van Eden geval. Maar die vraag is: waarheen val die mens (en die ander bome) toe hy/hulle uit Eden val?

In Eseg. 31:16-17 is daar ’n duidelike sleutel: “Deur die geluid van sy val het Ek die nasies laat bewe, toe Ek hom na die doderyk laat neerdaal het saam met die wat in die kuil neerdaal; en al die bome van Eden, die uitgesoektes en bestes van die Líbanon, almal waterdrinkers, het hulleself getroos in die onderste van die aarde. Hulle het ook saam met hom neergedaal na die doderyk, na die wat verslaan is deur die swaard, ook sy helpers wat in sy skaduwee gesit het onder die nasies.”

Die bome van Eden het dus volgens hierdie weergawe geval tot “die onderste van die aarde”, oftewel: die “doderyk”.

            Wat is die definisie van die doderyk? Dit is ’n ruimte of domein waar dood/die dode hul bevind. Wat het ons in die vorige Manna geleer van dood/sterflikheid/tydelikheid? Alles wat tydelik en sterflik is, IS SIGBAAR. Waar is die doderyk dus waarheen die bome van Eden geval het wanneer hulle “sekerlik sterf”? Op die AARDE! In die volgende Manna meer.

  • Sela: Wat sou die implikasie hiervan wees?
  • Lees: 8; Gen. 9-10; Efes. 5
  • Memoriseer: Skryf ‘n lied met Ps. 8 as basis
  • Delf dieper: Luister na die cd-van Briers Uys: Die boom vd lewe in die middel van die tuin van Eden.