Dag 1166-1168

 

“die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome”

(Jes. 65:22, OAV)

 

Ons het in die vorige Manna bevind mense word in die Skrif simbolies deur bome voorgestel, maar baie spesifiek, is die Bruid die bome wat in Eden geplant is. Ons weet nou duidelik Mens en Mannin het sekerlik gesterf, is as ‘t ware ontwortel en só het hul uit die tuin van Eden geval. Maar die vraag is: waarheen val die mens (en die ander bome) toe hy/hul uit Eden val? Volgens Eseg. 31:16-17 het die bome van Eden geval tot “die onderste van die aarde”, oftewel: die “doderyk”.

            Die vorige Manna is afgesluit met ’n vreemde gelykstelling, waaraan ’n mens aanvanklik langtand kou – die “doderyk” waarheen die bome van Eden geval het wanneer hulle “sekerlik sterf”, blyk die aarde te wees!

Laat ons dan die sogenaamde “doderyk” in hierdie konteks van naderby beskou in die Skrif:

  • In Jes. 9:2 staan: “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.” Hierdie is ’n profetiese belofte oor die spesifieke streek, “die land Sébulon en die land Náftali … die oorkant van die Jordaan, die streek van die heidene” (vers 1), “Galilee of the nations” (ASV) waar Nasaret geleë is, waar Jesus sou leef en werk. Jesus het met ander woorde in die land van doodskaduwee (naamlik die aarde) as ‘n lig verskyn! Hierdie streek word tipologie van die ganse aarde waarheen Jesus as Redder gestuur is – sien Matt. 4:12-16: “En toe Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis gesit was, het Hy na Galiléa teruggegaan. En Hy het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene—die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.” Dis absoluut veelseggend dat vers 17 stel, nádat dié profesie van Jesaja as vervuld geproklameer is: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Uiteraard is die boodskap vir alle heidene gewees (die Jode ingesluit), met ander woorde “almal wat daar ver is” (Hand. 2:39). 2:13 het dus waar geword: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.”
  • Dawid bid in Ps. 18:5-6: “Want die golwe van die dood het my omring, strome van onheil het my oorval. Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom.” In vers 19 lees ons “En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered”. Lees asseblief mooi: Ná redding of verlossing WORD die doderyk ’n ander ruimte!
  • In Job 26:6 maak hy die opmerking: “Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie— “ Die ACV-vertaling stel dit só: “Sheol is naked before [God], and Abaddon has no covering.” Die doderyk is “naak”, soos Adam en Eva na die sondeval was. (Onthou die gelykstelling tussen Adam en adama, die grond waaruit hy geneem is.)
  • 9:17 – “Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.” Hierdie Skrif maak dit absoluut eksplisiet – die doderyk is die plek waar die goddelose woon! Let wel, nie dié wat fisies gesterf het nie, maar dié wat geestelik dood is.
  • Dawid het duidelik hierdie konsep van die aarde as die doderyk verstaan. In 86:12-13 bid hy: “Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer; want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.” Die doderyk is iets waarmee Dawid daagliks worstel in sy gebede voor God! Hy doen dit terwyl hy in die lewe staan! Lees ook Ps. 116:8 wat stel: “U het my siel gered van die dood.” Dáárom kan hy in Ps. 116:9 sê: “Ek sal wandel voor die aangesig van die HERE in die land van die lewendes.”

Dit is van groot belang dat ons dit vasmaak – almal wat uit die voortyd/ander realiteit geval het, land op die aarde, en dit word as gevolg van die vervalle toestand gelyk gestel met die doderyk. Maar deur Jesus Christus as Redder en Verlosser skep God ’n nuwe verlossingsruimte op aarde waarbinne die gereddes hul nuwe lewe leef in die land vandie lewendes – “in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28)! Inderdaad: “Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms …” (Deut. 33:27).

In die punte hier onder leer ons nou allerhande dinge as ons na hierdie toestand op aarde kyk as ’n metaforiese doderyk:

  • Ons het uitvoerig in vorige Mannas aandag gegee aan Jona, en dis op grond van sy ervaring dat ons op hierdie spoor geland het. Maar net om jou gedagtes te verfris – Jona noem die plek binne die vis (met ander woorde die plek waar hy steeds lewendig is, maar deur God verlate voel, die doderyk! “En Jona het tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp—U het my stem gehoor.” (Jona 2:1-2).
  • In Job 7:9 sê hy: “Die wolk verdwyn en gaan heen—so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.” In Manna Dag 1157 – 1158 is die betekenisreikwydte van die wolk (van getuienis) uitvoerig gebied – die geestelike realm word onder baie name in die Skrif aangebied: boesem van Abraham, paradys, tuin van Eden, derde dimensie, of dan: die wolk van getuienis. Sela asseblief! Iemand in die doderyk word nou deur Job vergelyk met die wolk wat verdwyn! Met ander woorde: ‘n plek waar die wolke verdwyn (waar daar dus geen wolk van getuienis is nie), word met die doderyk vergelyk!
  • Kyk wat sê Job 24:19 – “Droogte, ook hitte, roof die sneeuwater weg—so die doderyk die wat gesondig het.” In die doderyk is geen sneeu (wat een van die manifestasies van die primordiale water van Bruidskap verteenwoordig) nie – dié wat sondig (= hul merk mis) bewoon die doderyk. [Die lering is op cd beskikbaar, maar is nog nie in die Manna behandel nie.]
  • Dawid proklameer in Ps. 6:5 – “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” In die Engels word dit gestel as: “there is no remembrance (zachar, to remember) of thee: in the grave”. In die staat van die doderyk kan jy nie onthou van die voortyd/ander realiteit nie.
  • In 30:3 stel Dawid dit onomwonde: “HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal.” Let wel – Dawid spreek hierdie woorde terwyl hy leef! Hy spel uit dat hy reeds uit die doderyk is! Hy moes met ander woorde daar begin het in sy lewe op aarde.
  • Job 17:13-16 leer ons veel oor hierdie toestand op aarde: “As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei, die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster, waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit? Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.” Die doderyk is die plek waar wurms (= rimmah-woorde, die teenpool van rhema-woorde) my vader, my moeder en my broers is!” [Hierdie lering oor rimmah-woorde is beskikbaar op cd, maar is nog nie in die Manna behandel nie.] In teenstelling met Jesus se uitspraak in Matt. 12:50 – “Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder”, word almal in die doderyk familie van die wurms, diégene wat in hul anti-christus-identiteite loop. Onthou dat wurms teer op “sekerlik gestorwe” vleis! Oor die koning van Babel in die doderyk (= aarde) word byvoorbeeld in Jes. 14:11 gesê: “Jou trots is neergewerp in die doderyk, …; onder jou is wurms as ‘n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking.”

Soos Mens en Mannin is daar verskeie ander voorbeelde van mense wat die Skrif voorhou, en van wie gesê/gesuggereer word dat hulle uit die voortyd of ander realiteit uitgeval het (soms eksplisiet as bome gemetaforiseer). Ons gaan met hierdie Manna volstaan met net twee voorbeelde, dié van die koning van Tirus en die koning van Babel. In volgende week se Manna sal ons al die ander menigvuldige voorbeelde voorhou van mense wat uit die voortyd/ander realiteit geval het.

  • Die Koning van Tirus, van wie in 28:12-18 berig word, is so ’n spesifieke geval. [Ons weet uit Manna Dag 1022-1024 nou reeds dat hierdie persoon is nie die Satan wat sogenaamd uitgeval het uit die hemel – soos godsdienstige oorlewering dit vir lank voorgehou het – nie, want daar word eksplisiet in vers 2 gesê: “terwyl jy tog ‘n mens is en geen god nie”. Daar is uiteraard ’n groot ooreenkoms tussen die “prins van Tirus” en die “koning van Tirus” – albei sal noodwendig van dieselfde aard/status wees. In die oorspronklike taal is “koning” (melek) en “prins/vors” (nagiyd) onteenseglik verwant. In 1 Kron. 29:22 word Salomo, byvoorbeeld, tot albei posisies aangestel.] Oor die Koning van Tirus word in Eseg. 28:13 gesê: “Jy was in Eden, die tuin van God …”, maar in vers 17 word uitgespel: “Ek het jou op die grond gewerp …”
  • Nog ‘n duidelike voorbeeld is die koning van Babel wat tot ‘n val kom: “Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ‘n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!” (Jes. 14:9-12). In die daaropvolgende verse word dit nog meer eksplisiet gestel: “Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie? …   maar jy is gewerp …” (Jes. 14:15-19).

Hierdie openbaring word ontsaglik belangrik as dit jou teen dié tyd laat besef dat ons onderskeid tussen die lewe en die dood/doderyk verkeerd was. Die onderskeid is eerder tussen die ander realiteit/voortyd/boesem van Abraham/paradys/derde dimensie/wolk van getuies TEENOOR die aarde/die doderyk/die hel/die realiteit. In eersgenoemde is daar net LEWE, al het die mense wat daarin is, reeds na die vlees gesterwe. In laasgenoemde is die dooies, al lewe hulle nog in die vlees. Sela.

  • Sela: Verduidelik die laaste paragraaf aan iemand.
  • Lees: 11-18; Efes. 6; Ps. 47; Matt. 1-2
  • Memoriseer: 6:17
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die gees van Diepe slaap – Dodelike susmiddel         vir die Bruid