Dag 1169-1171

 

 

“al die bome van Eden, die uitgesoektes en bestes van die Líbanon, almal waterdrinkers, … het ook saam met

hom neergedaal na die doderyk …”

(Eseg. 31: 16-17, OAV)

 

Soos Mens en Mannin is daar verskeie ander voorbeelde van mense wat die Skrif voorhou, en van wie gesê/gesuggereer word, dat hulle uit die tuin van Eden, of dan die voortyd, of die ander realiteit, uitgeval het (soms eksplisiet as bome gemetaforiseer). Ons het in die vorige Manna twee voorbeelde uitgewys, dié van die koning van Tirus en die koning van Babel. In hierdie Manna sal ons afsluit met ‘n paar van die menigvuldige voorbeelde van mense wat uit die voortyd/ander realiteit geval het.

  • 1:4 – “Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE.”
  • Daar was ’n tyd toe “die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het” (Job 38:7), waaronder ’n wese met die naam Satan (Job 1:6). Later lees ons Jesus sê in Luk. 10:18 – “Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.”
  • In Eseg. 31:3-18 word die verhaal vertel van Farao, die koning van Egipte. [volgens die IVP Bible Background Commntary is die Farao van wie hier gepraat word, ene Apries (Hophra), wat geregeer het tussen 589-570 v.C.]. Ons gaan ’n uitvoerige gedeelte uit die hoofstuk aanhaal, want dit bied ‘n uitstaande beskrywing van hoe mens en boom gemetaforiseer word, en boonop word die val uit die voortyd/ander realiteit eweneens besonder grafies weergegee. Om dit in reliëf te verstaan, word sekere subtemas ter wille van die Mannaleser in bepaalde kleure uitgehef: “Kyk, Assur was ‘n seder op die Líbanon, skoon van takke en ‘n skaduryke bos en hoog van groei; en sy top was tussen die wolke. Waters het hom grootgemaak; die watervloed het hom hoog laat groei, wat met sy strome gegaan het rondom die plek waar hy geplant was, en sy watervore uitgestuur het na al die bome van die veld. Daarom het hy hoër gegroei as al die bome van die veld, en het sy takke baie geword en sy takkies lank, weens die groot waters toe hy uitgeskiet Al die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke, en al die wilde diere van die veld het onder sy takkies aangeteel, en allerhande groot volke het onder sy skaduwee gaan sit. En hy het skoon geword in sy grootheid, in die lengte van sy takke, omdat sy wortel by groot waters was. Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie, en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie. Ek het hom mooi gemaak deur die menigte van sy takke, sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het. Daarom, so het die Here HERE gesê: Omdat hy hoog uitgegroei het, en hy sy top tussen die wolke verhef het en hoogmoedig geword het oor sy hoogte, sal Ek hom oorgee in die hand van die magtige onder die nasies; dié sal sekerlik met hom handel; vanweë sy goddeloosheid het Ek hom uitgedrywe. Vreemdes, die geweldigste nasies, het hom afgekap en hom neergewerp; op die berge en in al die dale het sy takke geval, en sy takkies is stukkend gebreek in al die klowe van die land; en al die volke van die aarde het uit sy skaduwee weggegaan en hom so laat lê. Al die voëls van die hemel het gaan sit op sy omgevalle stam, en al die wilde diere van die veld was op sy takkies; sodat al die bome wat by water staan, nie hoog sou groei en hulle top nie sou verhef tussen die wolke nie, en hulle magtiges nie sou gaan staan in hulle hoogheid, almal wat water drink nie! Want hulle is almal oorgegee aan die dood om te gaan na die onderste van die aarde, onder die mensekinders, na die wat in die kuil neerdaal. So sê die Here HERE: Op die dag toe hy na die doderyk neergedaal het, het Ek laat treur: Ek het om sy ontwil die watervloed oordek en die strome daarvan teruggehou, sodat die groot waters gestuit is; en Ek het om sy ontwil die Líbanon in swart gehul, en al die bome van die veld het gesmag om sy ontwil. Deur die geluid van sy val het Ek die nasies laat bewe, toe Ek hom na die doderyk laat neerdaal het saam met die wat in die kuil neerdaal; en al die bome van Eden, die uitgesoektes en bestes van die Líbanon, almal waterdrinkers, het hulleself getroos in die onderste van die aarde. Hulle het ook saam met hom neergedaal na die doderyk, na die wat verslaan is deur die swaard, ook sy helpers wat in sy skaduwee gesit het onder die nasies. Na wie lyk jy so in heerlikheid en grootheid onder die bome van Eden? En tog sal jy neergewerp word saam met die bome van Eden na die onderste van die aarde; tussen die onbesnedenes sal jy lê, saam met die wat verslaan is deur die swaard. Dit is Farao en sy hele menigte, spreek die Here HERE.” (Eseg. 31:3-18).

Hierdie kleuranalise maak dit vir ons moontlik om die teks met groter samehang te kan lees en die wyer implikasie daarvan te kan snap. Duidelik word mense hier as bome gemetaforiseer, en dit word ’n uitgebreide Homeriese metafoor waarin sprake is van takke, blare, wortel, skaduwee, en so meer (die onderdele het ook individuele simboliese betekenis). Die bome word aanvanklik geplaas in die paradys, die tuin van Eden, waar hulle leef deur die Lewende Water van die Gees en die primordiale waters van die Bruid. Die tuin van Eden, hier ook voorgehou as Líbanon (wat beteken: whiteness) weet ons nou al, kan ook gelyk gestel word aan die wolk van getuies, of die geestelike realm, of die ander realiteit/voortyd. Dit is uit hierdie posisie in Christus – waaruit alles geskep is (Heb. 11:3; 2 Pet. 3:5), dat die uitverkorenes geval het na die doderyk.

Die vraag dan nou is – as die Bruid uit die voortyd/ander realiteit geval het tot op die aarde, wat in die Skrif as die doderyk voogehou word, hoe staan jy op uit hierdie dode/doderyk? In Matt. 16:18  sê Jesus aan Petrus: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Ons weet reeds uit 1 Kor. 10:4 dat Christus is die Rots, dus wanneer jy opstaan in die Christus, die sogenaamde eerste opstanding, staan jy op uit die doderyk! Hierdie begrip is in Manna Dag 749-751 aan die hand van Open. 20:6 verduidelik: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” Die tweede dood is die geestelike dood van almal wat nié opgestaan het in Christus in hulle skeppingsdoel en roeping nie.

Die bekende Skrif van 1 Pet. 2:9-10 noem hierdie aspek van priesters en konings verder: “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig …”

Die Bruid is geroep uit die “donker” ruimte van die doderyk, waar selfs Líbanon (whiteness) volgens Eseg. 31:15  “in swart gehul” is; en hulle word geroep na sy wonderbare lig, “in Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Joh. 1:4). Die Bruid is geroep tot ’n ander ruimte IN HOM, ’n ruimte vol lig – inderdaad: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” (Joh. 1:9).

Paulus het in Fil. 3:10 die versugting dat hy “Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word”, en dan maak hy in vers 11 hierdie ongelooflike opmerking: “of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik”. As daar nou een mens is wat verseker die opstanding uit die dood kon bereik, sou dit verseker Paulus wees, mits ons die begrip verstaan soos wat dit al die jare verstaan is, naamlik dat jy bes moontlik uit die dood van jou fisiese liggaam uit opgewek word met die wederkoms. Maar dis nie waarna Paulus verwys nie – die Living Bible vertaal dit as: “the resurrection whilst I’m in the body”! Dit is die enigste interpretasie wat vers 12 moontlik maak: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp …” In vers 14 gee hy ‘n semantiese ekwivalent van die “die opstanding uit die dode”, naamlik “die hoë roeping van God in Christus Jesus”! Sela.

Let mooi op: die Skrif praat van ‘n eerste dood en ‘n tweede dood, maar nét van ‘n eerste opstanding! Daar is nie ‘n tweede opstanding nie. Die enigste opstanding is terwyl jy nog in die fisiese liggaam is!

Interessant dan wat die tweede dood behels – Op. 20:14 spel dit uit: “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”

            Briers Uys se uitgebreide lering oor die duisendjarige vrederyk [sien verwysing hier onder] het nou hier betrekking, alhoewel ons dit nog nie formeel in die Manna behandel het nie. Op. 20:14 word aangebied uit die konteks van die sogenaamde duisendjarige vrederyk, wat ons al hoe meer verstaan NIE noodwendig ‘n konkrete periode van vrede is ná Jesus teruggekeer het aarde toe nie. Hierdie gedeelte in Openbaring moet nie noodwendig verstaan word as ‘n tydverloop van eers die 1000 jaar van vrede, en dán die oordeel nie. Óf jy is in God se sabbatsrus, óf jy is daarbuite! Dit korrespondeer met ons slotsom aan die einde van Manna 1166- 1168: ons tradisionele onderskeid tussen die lewe en die dood/doderyk was verkeerd. Die onderskeid is eerder tussen die ander realiteit/voortyd/boesem van Abraham/paradys/derde dimensie/wolk van getuies TEENOOR die aarde/die doderyk/die hel/die realiteit. In eersgenoemde is daar net LEWE, al het die mense wat daarin is, reeds na die vlees gesterwe. In laasgenoemde is die dooies, al lewe hulle nog in die vlees. In eersgenoemde is jy dus in die rus van God, in laasgenoemde nié. As jy dus in die buitenste duisternis is, deel van die dood en doderyk, word jy deur die Bruid as poel van vuur geoordeel terwyl jy lewendig is!

Let op hoe Jesus dit in Luk. 20:34-38 verduidelik: “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Hy is tog nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.

Moet dit nie mis nie – al het Abraham, Isak en Jakob reeds fisies gesterf, het hul terwyl hul gelewe het reeds die eerste opstanding meegemaak (soos ook al die geloofshelde van Heb. 11). Hulle leef IN GOD, in die paradys, in die voortyd/ander realiteit, of wat ons dit dan nou ook wil noem. In hierdie lig word die problematiese teks van vroeër uit 1 Pet. 4:6.ewe skielik absoluut helder: “Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.”

Wat ‘n mooi onderskeid word hier dan nie getref nie: enersyds: die mens in die vlees in die doderyk, andersyds die mens in die gees in die geestelike realm/paradys/derde dimensie.

  • Sela: Verduidelik die laaste paragraaf aan iemand.
  • Lees: 19-24; Ps. 11 & 127; Matt. 3-5
  • Memoriseer: 127
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Briers Uys: Die val van die Koning van Babilon.