Dag 117

 

“Toe sê die Gees vir Filippus …”  (Hand 8:29, OAV)

In die vorige paar leringe het ons deurentyd die “gebruiksvoorwaardes” rondom die hoor van die stem van die Here probeer uitspel. Gal 4:6 stel dit onomwonde dat die Heilige Gees gegee is as die stem van God in ons: “En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur …” Na jou wedergeboorte het jou gees lewend geword en is jy “verseël met die Heilige Gees” (Efes 1:13) en derhalwe sê 1 Kor 6:17: “Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.” Soos dit in Rom 8:16 gestel word: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is …” Daarom dan dat Jesus aan sy volgelinge hierdie belofte gegee het in Joh 16:13: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

Om hierdie rede kan ons soos Paulus sê: “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.” (1 Kor 2:13). Inderdaad, soos Jesus dan ook geleer het: “want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek” (Mat 10:20). Ons kan dus wanneer ons in gemeenskap met God loop, soos Agabus in Hand 21:11 onomwonde sê: “Dít spreek die Heilige Gees …”

Soos reeds vroeër gemeld: die Heilige Gees spreek soos ‘n “still small voice”, ‘n gedagte wat opkom, in jou gees. Wanneer jy dit hoor, moet jy dit met geloof verenig dat dit God se stem is, en dan gehoorsaam. 

Dit is belangrik om te sê dat die stem van die Gees van God in ons altyd die vrugte van die Gees demonstreer; dit sal dus altyd getuig van liefde, blydskap, vrede, lank-moedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Dit sal nooit spreek teen die Woord van God nie – immers “die swaard van die Gees” IS “die Woord van God” (Efes 6:17). Ons toets dit wat ons by God hoor deurgaans aan die breë beginsels van die Woord van God.

Onthou dit wat Rom 8:14 uitspel: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is seuns van God.” En: “ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Hand 5:32).

  • Sela: Dit is van groot belang dat jy van vandag af dit ‘n ernstige saak maak om self die stem van die Here te hoor. En wees ywerig om gehoorsaam te wees (2 Kor 5:9)!
  • Lees: 1 Sam 2; Ps 119:1-56 ; Hand 27
  • Memoriseer:  1 Sam 2:35
  • Vir dieper delf: Lees Jack Deere se uitmuntende  Surprised by the power of the Spirit.