“Ek het alleen oorgebly …”
(1 Kon. 18:22, OAV)
Ons het lang, interessante afdraaipaaie geloop sedert ons in Manna Dag 1121-1122 laas weggedraai het van die meesterverhaal van Elia en Elisa in ons behoefte om meer te leer oor die gestaltegewing van ’n geestelike mantel.
In daardie Manna is toe uitvoerig verwys na die profete van Baäl wat aan die tafel van Isébel sit (1 Kon. 18:19), en wat die tipologiese implikasies vir elkeen in die Bruid is. Die volgende twee verse, 20 en 21, is reeds in vroeëre besprekings gedek. Ons fokus nou op vers 22: “Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baäl vier honderd en vyftig is.”
Twee dinge val op in hierdie uitspraak van Elia. Allereers dat hy nou alleen staan, en ten tweede die eksplisiete benoeming van die getal vier honderd en vyftig. Ons fokus vir eers op die eerste uitspraak: “Ek het alleen oorgebly …”
Op die eensame pad van roeping en verkiesing is dit van groot belang dat die gelowige weet dat die pad dikwels ‘n pad van isolasie is. Ten spyte daarvan dat verskeie mense dalk met jou saamloop, is dit die eensame paadjie in jouself om tot geloof te kom oor jou roeping, dit waaragtig te glo wat God oor jou geroep het, en van jou dink en verwag, wat so moeilik is om vas te maak. Daar is geweldig teensprake teen wat God oor jou geroep het, waarvan jou eie ongeloof waarskynlik die sterkste stem is.
Die doel van die isolasie is Goddelik gewil. Almal met groot roepings was aan die begin van hul roepings in afsondering, dink maar aan Moses, Josef, Johannes die Doper, Jesus, Paulus. Dit is dikwels in hierdie tyd dat die teenstander jou laat twyfel aan die legitimiteit van wat jý glo oor jou roeping. Jesus op die berg van versoeking (Matt. 4:1-11) is ‘n baie goeie voorbeeld van die vyand se strategie om jou in selftwyfel te laat val oor wat jy glo jou roeping (en gepaardgaande mantel) is.
Dit is ook in hierdie tyd dat jy dikwels voel dat die mense saam met jou nie verstaan wie jy is nie. Elia het ook erg daaraan gely. Later, in 1 Kon. 19:10 (wat hy verbatim herhaal in vers 14), spel hy dit in skerper terme uit: “Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.” As mens verby die selfbejammering, selfverheffing, en oënskynlike neerslagtigheid kyk, is daar ‘n baie diep oortuiging wat in Elia begin neerslag vind het, dit wat 1 Kor. 1:24 in die Message mooi vertaal: “(being) personally called by God himself”. Hierdie oortuiging is noodsaaklik vir die vervulling van jou roeping – al is ek alleen, ek sal waaragtig hierdie pad van my roeping en verkiesing blý stap, al stap ek alleen.
- Sela: Is jý waaragtig oortuig van die pad wat jy geroep is om te loop, al is jy al een wat daarin glo?
- Lees: 25; Matt. 6
- Memoriseer: 6:22 (Hoe skakel dit met die lering?)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Geestelike Outoriteit: om prinslike status
in te neem