“Want uit Jerusalem sal ‘n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion.”
(2 Kon. 19:31, OAV)
Elia, in sy geesteswandel in gehoorsaamheid, is besig om aan ‘n geestelike mantel beslag te gee. Een van die fasette daarvan waarmee ons tans besig is, is die bewussyn dat hy deel uitmaak van die sogenaamde oorblyfsel (of remnant) – dit beteken veral dat God IN HOM die saad van Sy universele bloudruk bewaar. Al het die res van die gelowiges deur ‘n gees van perversie ‘n ander pad gekies (Jes. 6:13), hy moet leer hý dra die “gees van die oorblyfel” (Hag. 1:14). Nou dat ons ’n duideliker omskrywing het van wie presies die oorblyfsel is, sal dit dalk loon om net vlugtig te kyk wat is die kontekste is waarin die Bybel hierdie woord inspan.
- Dit is baie opvallend dat ‘n paar Skrifte dit duidelik maak dat diégene wat tot die oorblyfsel behoort, dikwels op ‘n mespunt is rondom hul geloof, veral as gevolg van die aanspraak van georganiseerde godsdiens of afgodediens op hulle. In Esra 9:14 klink die profeet se pleidooi op: “sal ons weer u gebooie verbreek en ons verswaer met hierdie gruwelike volke? Sal U nie op ons vertoorn wees, totdat ons vernietig is, sodat daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie?” Sien ook Jes.1:9 – “As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie—soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.”
- Daar is deur die eeue ‘n ontsagwekkende poging van die koninkryk van duisternis “to make war with the remnant of her seed, those keeping the commandments of God, and having the testimony of Jesus” (Op. 12:17, ACV). [Let asseblief daarop – die gebooie wat hier gespesifiseer word, is nie die tien gebooie of die 613 ander Joodse wette nie – dit is die “nuwe gebod” van liefde – Joh. 13:34 1 Joh. 2:7-8; 2 Joh. 1:5].
- Daarom is dit van geweldige groot belang dat alle gelowiges gedurigdeur moet bid “vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is” (2 Kon. 19:4).
- God, en niemand anders nie, bewaar die oorblyfsel “ooreenkomstig die verkiesing van die genade” (Rom. 11:5). “Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (2 Kon. 19:31).
- Die oorblyfsel is nooit ‘n massa nie – “En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en ‘n seuntjie sal hulle kan opskrywe.” (Jes. 10:19).
- Almal met die gees van die oorblyfsel bou nie hul eie bedienings (= huise) nie, maar wel “die huis van die HERE van die leërskare, hulle God” (Hag. 1:14). Hulle vestig dus weer “die vervalle hut van Dawid” (Hand. 15:16-17).
- Daar is ‘n bepaalde erfenis vir die oorblyfsel: “Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.” (Sag. 8:12).
- Sela: Is jy deel van die oorblyfsel?
- Lees: 30; Matt. 9
- Memoriseer: 9:17
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Hoe Bou ‘n mens ‘n huis vir God?