Dag 1176

 

“Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baäl vier honderd en vyftig is.”   

   (1 Kon. 18:22, OAV)

As deel van die oorblyfsel voel Elia homself dikwels alleen, geïsoleerd, veral as hy opgestel word teenoor vier honderd en vyftig profete van Baäl. Niks in die Bybel is toevallig nie, en derhalwe sal die getal Baälprofete ook spesifieke simboliese betekenis dra.

Die getal 450 verteenwoordig in die Bybel die oorwinnaars van Israel se erfenis in die land Kanaän (met ander woorde hulle wat uiteindelik Kanaän beërwe het). Tipologies kan dit dus voorgehou word as die “overcomer”-Bruid wat haar erfdeel in die derde dimensie verkry!

Maar hoe weet ’n mens wat so ’n lukrake getal beteken? Die enigste betroubare verwysingsbron hiervoor is die Bybel self, nie noodwendig getalwoordeboeke nie (laasgenoemde kan tot hulp wees, maar die betekenis van ’n getal moet altyd Bybels geverifieer wees).

In hierdie geval gaan soek die navorser na die voorkoms van die getal in die Skrif, wat in dié geval net twee keer elders voorkom. Die verspieders wat Kanaän binnegegaan het om meer van die land te wete te kom, het die beloofde land binnegegaan presies 450 dae na die nuwe jaar begin het. Maar die getal kom ook in Hand. 13:19-20 voor, en spesifiek ten opsigte van die uitroei van afgodedienaars in Kanaän en die vestiging van Goddelike heerskappy op die grond!

Dus – die 450 profete van Baäl het die erfenis van Israel opgeëis en dit nou ‘n erfdeel van die Kanaäniete gemaak. Die oorwinnaars van Israel kon nie hul erfdeel behou nie (bes moontlik omdat hulle hulself blind gestaar het teen byvoorbeeld die fisiese grootte van die reuse – Num. 13:33). Hierdie afgodediens op die grond van Kanaän het die beloofde land weer ‘n woestyn gemaak. Net soos Joshua en Kaleb die reuse IN DIE BELOOFDE LAND die stryd moes aansê, moet Elia terugkeer na die beloofde land om die erfenis terug te kry.

God stuur nie die Baälprofete om Elia te toets nie, maar Hy gee strategie om hul te oorwin, sodat Elia meer as ‘n oorwinnaar (Rom. 8:37) kan word.

Volgens Bybelse gematria het woorde wat dieselfde gematriese waarde het ‘n verband in betekenis. http://www.biblewheel.com bied vir ons ‘n uitvoerige uiteensetting van woorde in die Ou en Nuwe Testament wat, byvoorbeeld, ‘n gematriese waarde van 450 het – ek bied slegs enkeles (die in donkerswart uitgehef, is van besondere betekenis in hierdie konteks, in Hebreeus): “go, beget, transgression, redeem, peace, unclean, sanctify, judge, abundance, destroy, snare, tabernacle, confiscation, measure, frog, holy, unclean, humble (die direkte betekenis van Kanaän), dominion, land, witchcraft”. Die Nuwe Testament (gematria van 450 in Grieks), is steward, (feast of) tabernacles, en … rhema!

Die Baälprofete, 450 in getal, aksentueer God se agenda vir die oorblyfsel in die beloofde land ( = ook derde dimensie). Al die woorde wat in swart uitgehef is hier bo, bevestig die erfenis van die Bruid.

  • Sela: Probeer die ander woorde wat nie uitgehef is nie ook in jou verstaan integreer.
  • Lees: 31; Matt. 10
  • Memoriseer: 10:16
  • Delf dieper: Luister na die cd van Tom Gouws: Die Simboliese Interpretasie van Getalle in die Bybel