Dag 1178

 

“Die wat afgode maak, sal net soos hulle word …”

(Ps. 115:8, OAV)

 

Daar kom ‘n tyd wat ‘n mens die crunch time van die geloof noem, wanneer jy soos Jakobus (2:18) moet sê: “Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.” Dit is op hierdie plek wat Elia hom bevind.

Elia se optrede getuig van deurdagte geestelike protokol. In 1 Kon. 18:25 spel hy met groot outoriteit die grondvoorwaardes van die geestelike kragmeting uit: “Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie.”

Hierdie is ‘n mooi voorbeeld van hoe Elia met groot respek, maar absolute outoriteit, met sy teenstanders omgegaan het, die parameters uitgespel het, en seker gemaak het hulle verstaan presies wat moet gebeur. Die Baälprofete was bes moontlik redelik gretig om vuur as teken te aanvaar, want in hulle aanbiddingskultus het beide die son én Mars albei ‘n belangrike rol gespeel as manifestasievorme van Baäl – en albei word ten nouste met vuur geassosieer. (Elia kon net sowel voorgestel het dat die ware God met water moet antwoord, byvoorbeeld, want dit  het toe al drie-en-‘n-half jaar lank nie gereën nie.) Maar Elia het geweet Jahwe transmuteer in vuur –  “Want onse God is ‘n verterende vuur.” (Heb. 12:29). Let wel – nie SOOS ‘n vuur nie, in sy Wese is Hy ‘n verterende Vuur.

In die volgende vers van die ontvouende sage, vers 26,  lees ons: “En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het.”

Die Skrifte is vol takserings van wat afgode presies is. Gaan lees byvoorbeeld Ps. 115, verse 4-7, en sien hoe die Psalmdigter uitwys dat hulle aanspraak maak om te lewe, maar in alle opsigte dood is. Maar meer – vers 8 sê: “Die wat hulle maak, sal net soos hulle word—elkeen wat op hulle vertrou.”  In Hab. 2:18-19 sê die profeet die afgod het “géén gees in sy binneste nie”, maar word desnieteenstaande “‘n leuenleraar”. Hoe kan dit wees?

Paulus verduidelik die ‘werking’ van alle afgode netjies in 1 Kor. 10:19-20: “Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.” Alle afgode is buiksprekers van duiwels/demone!

Elia kom dus nie te staan teen afgode nie, want ons weet “dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is— tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” (1 Kor. 8:4-6). Nee, Elia kom te staan teen die duiwelse magte. Maar hy weet baie goed waarvoor hy hom inlaat.

  • Sela: Internaliseer jou verstaan van afgode.
  • Lees: 34; Matt. 12; Ps. 64
  • Memoriseer: 12:6
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Om Heiligheid Volmaak te Maak in die Vrees van die Here