Dag 1179

 

“Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.”

(Spr. 21:31, OAV)

 

In aanloop tot die klimaks van hierdie groot battle of the spiritual giants lees ons dat daar toe nou al ‘n lang tyd verloop het rondom die Baälprofete se geestelike oorlogvoering, en daar het nog net mooi niks gebeur nie. ‘n Mens kan jou hulle angstigheid goed indink – onder die wakende oog van die profeet haal hulle alle inkantasies uit die onheilige heilige boeke, en absoluut niks gebeur in die geestelike realm nie.

Hierin setel ‘n baie belangrike les vir Nuwe Testamentiese gelowiges – ware geestelike outoriteit stuit per definisie alle vorme van geestelike teenstand. Onthou – tot nou toe het Elia niks gedoen nie – hy het bloot in sy posisie in Christus gestaan en die spektakel dopgehou. Daar word dikwels allerhande onBybelse geestelike maneuvers vir mense geleer tydens geestelike oorlogvoering, maar dit is dikwels niks meer as geestelike gimmicks nie. Elia staan bloot vas in sy geestelike mantel, en die demone is hulpeloos! Dit is ‘n duidelike tendens dwarsdeur die Skrif:

  • “Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk …” (Eks. 14:13)
  • “want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee” (Deut. 20:4)
  • “hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die HERE het aan die hele Israel ‘n groot oorwinning besorg (1 Sam. 19:5)
  • “en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het” (2 Sam. 8:6)
  • “het hy hom opgestel in die middel van die stuk land en dit afgeneem en die Filistyne verslaan, sodat die HERE ‘n groot oorwinning bewerk het” (2 Sam. 23:12)
  • “En Naäman, … was ‘n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die HERE aan die Arameërs ‘n oorwinning gegee …” (2 Kon. 5:1).
  • “Maar hy het hom in die middel van die stuk land opgestel en dit afgeneem en die Filistyne verslaan, sodat die HERE ‘n groot oorwinning bewerk het” (1 Kron. 11:14)
  • “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.” (2 Kron. 20:17). Die mooiste hiervan miskien is:
  • “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.” (Spr. 21:31)

Elia weet reeds presies die uitkoms van die verwoede stryd, soos dit met ware profete die geval is – “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” (Amos 3:7). Wáárom sal hy hom laat opjaag?

  • Sela: Is Amos 3:7 ook waar van jou?
  • Lees: 35; Matt. 13;
  • Memoriseer: 13:12
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Poort van Gad