Dag 118

 

“Maak my voetstappe vas in u woord …”  (Ps 119:133, OAV)

Ons leef in ‘n tyd waarin die status van die Bybel in ‘n baie groot mate betwyfel word, selfs deur gelowiges. Die 2007-sinodesitting van die NG Kerk het myns insiens nie soseer gegaan oor die status van gay persone in die kerk nie; veel eerder was dit ten diepste ‘n debat oor die status van die Woord van God. In ons postmoderne eeu is die daar min geleerdes (ook Godgeleerdes) wat enigsins glo dat daar ‘n Vaspenbare Waarheid is. Dit het tot gevolg dat soveel mense – ook omdat hulle nie weet hoe die Bybel vra om gelees te word nie – uiters deurmekaar is oor die geldigheid van Bybelse waarheid.

Die meeste mense sien die Bybel bloot as ‘n tydsdokument waarin die geskiedenis van die mensdom opgeteken is, weliswaar uit die (beperkte) perspektief en lotgevalle van ‘n spesifieke nasie, die Jode,  wat God skynbaar uitgekies het om Homself aan te openbaar. Hulle meen dit word met verskillende tipe genres, soos verskillende soorte narratiewe (stories) en gelykenisse, poësie (psalms), wysheidsliteratuur (spreuke) en dramatiese profetiese interludes deurspek wat dit hoogstens interessant maak. Maar – dit bly vir hulle ‘n tydsdokument wat uiters gedateer blý. 

Baie van die Ou-Testamentiese voorskrifte lyk regtig op die oog as redelik belaglik, sou hulle redeneer, want wie in ons moderne samelewing sou vandag saamstem dat hul dogter as slaaf verkoop kan word (Eks 21:7)?; mens geen werk doen op ‘n Saterdag nie (Eks 35:2)?; mense wat gestremd is, of te maer is , of ‘n gebreklike skaamdeel het, of ‘n boggel het, verbied om offers aan God te kan bring ( Lev 21:17-21)?; ‘n man of vrou wat ontrou is, met klippe doodgegooi word (Lev 20:10), ook rebelse kinders (Deut 21: 18-21)?; geen varktjoppie of knoffelbotterslakke mag eet nie (Lev 11:7 & 11)?; nie waatlemoene en pampoene op dieselfde stukkie grond plant nie?; en nie ‘n syhemp en ‘n katoenonderbroek gelyk dra nie (Lev 19:19)? Tog staan dit alles in die Bybel as streng voorskrifte, wit op swart. Wat en wie gee julle die reg om te pick and choose wat julle wil gehoorsaam, sal die kritici van die Bybel, met reg, sê.

As gevolg van onkunde, en veral as gevolg van die vermenging van die ou en die nuwe verbond, het mense dikwels ‘n geweldige verkeerde verstaan van die Bybel, en word wat as pure belaglikhede beskou word, gebruik om die Bybel te diskrediteer.

Duidelik is daar baie mense wat geestelike dinge belaster bloot omdat hulle dit nie ken nie (2 Pet 2:12; Jud 1:10). Paulus sê in 1 Kor 1:18 dat die Bybel dikwels ‘n dwaasheid is vir diégene wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Om dit egter as die krag van God te beleef, is dit essensieel dat jy PRESIES verstaan wat die Bybel is. 

  • Sela: Probeer vir jouself motiveer waarom die Bybel vir jou as gelowige belangrik is,
  • Lees: 1 Sam 3; Ps 119:56-120 ; Hand 28
  • Memoriseer:  1 Sam 3:7; Ps 119:105
  • Vir dieper delf: Gebruik Handbook to the Bible deur P&D Alexande,( eds) om feitelike kennis asook die geskiedenis van die Woord vir jouself te verifieer.