“… aan jou sondes dink Ek nie …”
(Jes. 43:25, OAV)
Ons ondersoek tans die vraag: hoe kan die alwetende God in sy oneindige kennis, verstand en wysheid ooit enigiets vergeet, soos wat Hy in byvoorbeeld Jes. 43:25 hierbo sê?
In die Hebreeuse gedagtepatroon het die woorde ‘onthou’ en ‘vergeet’ ‘n dieper resonansie as in die Westerse gedagteassosiasies. Om te onthou, in Westerse denke, fokus hoofsaaklik op die beginsel van herinneringe oproep en gedagtes te koppel aan wat gebeur het. Om te vergeet, is om nié in staat te wees om ‘n bepaalde insident of gebeurtenis of assosiasie mentaal op te roep nie. Albei prosesse, onthou en vergeet, het dus met mentale vermoë of mentale onvermoë te doen, en word gemeet daaraan of daar inligting na vore kom, of dan nié.
Maar die Hebreeuse werkwoord zakhar reik veel verder as bloot ons verstaan van ‘onthou’. Dit sluit alles in wat die Westerling koppel aan onthou, maar het ‘n baie belangrike toevoeging tot die proses – dit sluit in die belangrike aksies wat geneem is om dit wat onthou moet word, moontlik te gemaak het.
Om dit te illustreer, kan ‘n mens Gen. 8:1 (ACV) gebruik – “And God remembered Noah, and all the beasts, and all the cattle that were with him in the ark. And God made a wind to pass over the earth, and the waters subsided.”
Op die oog af klink dit asof God eintlik vergeet het arme Noag en sy gesin en al die diere in die ark dobber steeds rond op die vloedwaters. Maar die woordjie ‘onthou’/’remember’ was nie ‘n blote, lukrake gedagteflits van God nie; dit was seer sekerlik ‘n herinnering aan die verbond wat God met Noag gesluit het alvorens al hierdie kataklismiese dinge gebeur het.
Later in Genesis lees ons: “And God remembered Rachel. And God hearkened to her, and opened her womb.” (Gen. 30:22, ACV). Die woordjie “remember” fokus op die verbond wat die gebeurtenis onderlê, nie noodwendig die mentale aktiwiteit om dit in herinnering te roep nie. In Ragel se geval, beteken “remember” streng gesproke “to intervene”, en dit fokus spesifiek op wat God gedoen het, nie noodwendig dat Hy dit ewe skielik onthou nie.
Die Hebreeuse woorde wat vir ‘vergeet’ gebruik word: shakach en nashah, het insgelyks ook wyer betekenisimplikasies. Dit beteken om iets te ignoreer, te verwaarloos, afskeep, aflê, prysgee, om ‘n persoon of ‘n verbond te negeer. Sien as voorbeeld Deut. 6:12 – “neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie”. Die Israeliete het intensioneel die verbond geïgnoreer, nie noodwendig dat hul hul dit bloot vergeet het nie, soos byvoorbeeld Deut. 4:23 dit meer eksplisiet uitspel: “Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet … nie.”
As Dawid in Ps. 13:2 bid: “Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?”, het dit niks met ‘vergeet’ te doen nie, maar veel eerder is dit ‘n uitroep tot God waarom Hy nie iets doen om sy situasie te verander nie
Dit is geweldig interessant dat in die Woord van God die woordjie “vergeet” nie eens een keer gebruik word saam met die woordjie ‘sonde’ nie; die kombinasie is eerder met ‘sonde’ en die frase ‘nie onthou nie’. Die idee van “sonde onthou” onderlê die idee dat God volgens mentale vermoë funksioneer, en dit skep ‘n negatiewe persepsie, amper asof God elke persoon wat sondig sal gee wat hom/haar toekom; Hy sal sonde straf, nie net in sy gedagtenis hou nie, soos byvoorbeeld in Hos. 9:9 voorgehou word: “Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gíbea. Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid, besoeking doen oor hulle sondes.” Hierdie is ‘n mooi voorbeeld van parallelisme in die Hebreeuse taal:
Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid,
(Hy sal) besoeking doen oor hulle sondes
Dis nou maklik om te sien dat “dink” (remember) en “besoeking doen” met mekaar gelyk gestel word. Die implikasie is geweldig belangrik – God kan nie net van sonde vergeet nie; dit moet in geregtigheid verreken word. Eks. 34:6b-7 spel dit onomwonde uit: “HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie”. (Sien ook byvoorbeeld Eseg. 33:15-16.)
Die implikasie hiervan vir gelowiges is eweneens belangrik. Ons sê dikwels van iemand wat ons seergemaak het: Ek sal hom dit vergewe, maar ek sal dit nooit kan vergeet nie. Jesus stel egter vergifnis as ‘n absoluut noodwendige wetmatigheid in die lewe van gelowiges as hy in Matt. 6:15 dit soos volg voorhou: “Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Én vergifnis moet daarbenewens ‘n perpetuele handeling wees – “tot sewentig maal sewe toe” (Matt. 18:22), letterlik oneindig binne die getallesimboliek.
Baie gelowiges is bereid daartoe, maar sukkel geweldig om die oortreding teen hulle bloot te vergeet, en die feit dat hulle dit onthou (remember) pla hulle gewoonlik, en hulle voel dikwels diep in die hart se diepste kamers het hulle heel moontlik nie werklik vergeef nie.
Maar as ‘n mens dan die Hebreeuse gedagtepatroonbeginsel rondom ‘onthou’ en ‘vergeet’ ook op jou van toepassing maak, dan is ‘vergeet’ nie net ‘n mentale proses nie, maar is dit altyd eerder gekoppel aan ‘nie onthou nie’, met ander woorde met die doelbewuste keuse om die oortreding teen jou te takseer in terme van ‘n bepaalde verbondskoppeling. Die gelykenis van die onregverdige dienskneg (Matt. 18:23-35) handel spesifiek oor hierdie beginsel, en die slotsom wat Jesus voorhou: “En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.” (verse 34 & 35).
As jy daaroor dink – dit bewys veel meer liefde om deur iemand seergemaak te word en te kies om dit nie te onthou nie (al onthou jy dit steeds), keer op keer, eerder as wat die insident totaal uit jou gedagteprosesse uitgewis is vir ewig. Hoe meer ons mekaar só kan liefhê, hoe makliker word die litteken van verwondheid deel van die vergeet. Maar dit kan net gebeur as ons onthou én vergeet altyd koppel nie aan blote mentale prosesse nie, maar aan verbondverhoudinge – 1 Joh. 4:21 spel dit eenvoudig uit:”En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.”
Dink aan “remember” as die teenoorgestelde van “dismember.” Laasgenoemde is om inge uitmekaar te skeur, to un-do. Eersgenoemde is om dinge eer heel te maak, een te maak, te versoen, to re-do. Albei vereis intensionele aksie.
- Sela: Maak seker jy het almal wat jou in jou lewe te na gekom het, vergewe.
- Lees: 39-41; Matt. 16-17; Ps. 40
- Memoriseer: 40:7 (hoe sluit dié vers aan by die lering?)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Grondslae van Berading en Bevryding – ‘n Nuwe Manier van Dink