“die lastering teen die Gees sal die mens nie vergewe word nie”
(Matt. 12:31, OAV)
Terwyl ons besig is met die frase: “aan jou sondes dink Ek nie …”, sal dit toepaslik wees om vir ‘n wyle ‘n onverwante, maar belangrike tema aan te sny – in die volksmond die sogenaamde “sonde teen die Heilige Gees”. Die enigste iets wat God nié vergewe nie, is klaarblyklik hierdie oortreding. Dis een van die vrae waarmee soveel gelowiges intens mee worstel, dikwels bloot omdat hulle nie presies verstaan wat dit beteken nie.
In ‘n preek oor die onderwerp skryf Dr. Victor Shepherd die volgende:”I have been a pastor for 27 years. In that time I have had scores of people huddle in my study and confess what they could barely bring themselves to mention: falteringly they have croaked out what they regard as heinous, so heinous as to have been mentioned to no one else. They have poured out vile mixtures of vice, immorality, folly, even criminality. And I have told them with conviction that as wide and deep as their depravity is, God’s forgiveness is wider and deeper still. And I have assured them that however inexcusable, horrific, and even despicable the sin they have committed, they have not committed the ‘sin against the Holy Spirit’. And I have told them that Jesus Christ himself authorizes me to press all of this upon them.” (http://www.victorshepherd.on.ca/sermons/the%20sin%20against%20the%20holy%20spirit.htm)
Hierdie hoogs kontroversiële uitspraak van Jesus word in twee evangelies gerapporteer:
- “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.” (Matt. 12:30-32)
- “Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel— omdat hulle gesê het: Hy het ‘n onreine gees.” (Mark. 3:28-30)
Allereers is dit belangrik om uit te wys dat daar nie staan “sonde teen die Heilige Gees” nie. Op hierdie stadium weet ons deeglik die begrip ‘sonde’ dui daarop om jou merk te mis, of dan: jou roeping en skeppingsdoel. Hier word baie duidelik uitgespel dat dit eintlik primêr gaan oor “lastering”: “maar wie teen die Heilige Gees gelaster het”. Daar is ‘n groot verskil tussen “sonde” en “lastering”, veral omdat daar in Matt. 12:31 spesifiek duidelik onderskeid daartussen gemaak word.
Die Griekse woordjie vir ‘lastering’, volgens Strong, beteken: “vilification (especially against God): – blasphemy, evil speaking, railing”. Laster is byvoorbeeld nie ‘n enkele lasterlike opmerking of gedagte nie, maar ‘n kontinue lewenshouding waardeur God en sy werke verdag gemaak word. Uit Mark. 7:21-23 weet ons Jesus het gesê “lastering” kom “van binne, uit die hart van die mens”, dus is dit ‘n hartsgesindheid.
As ons die konteks waarbinne Jesus hierdie uitspraak maak, verreken, is dit soos volg: Jesus het wonderwerke verrig, en die Fariseërs wat besig was om dit gade te slaan, het gesê dat Jesus hierdie wonderwerke doen uit die koninkryk van duisternis: “Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.” (Matt. 12:24). Die Fariseërs het die krag en die outotiteit van die werking van die Heilige Gees toegeskryf aan “Black magic … some devil trick he’s pulled from his sleeve” (MSG). Die Fariseërs, “who, though they knew the miracles of Christ were wrought by the Spirit of God, yet maliciously and obstinately imputed them to the devil, with a view to obscure the glory of Christ, and indulge their own wicked passions and resentments against him” (John Gill’s Exposition of the Entire Bible).
Ron Rhodes, in sy boek Commonly Misunderstood Bible Verses, verduidelik dit soos volg: “The Holy Spirit brings conviction upon people and leads their hearts to repentance, making people open and receptive to salvation in Jesus Christ. So the one who blasphemes the Holy Spirit effectively separates himself from the only one who can lead him on the path to salvation in Jesus Christ.” Die twee Bybelse grondslae waarop hierdie perspektief op die lastering teen die Heilige Gees gebaseer is, is die volgende:
- “die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Joh. 14:17).
- “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.” (Joh. 15:26).
Wat impliseer dit dan vir die gelowige wat bang is hy/sy het teen die Heilige Gees gelaster?
- Lastering teen die Gees van God is dus nie ‘n oortreding wat ‘n enkele keer of selfs vir ‘n tyd lank in jou lewe gebeur het nie – dit gaan nie oor ‘n oortreding nie, maar ‘n langtermynweerstandigheid teen die Heilige Gees, met ander woorde wanneer jou lewe standhoudend getuig teen “die Gees van die lewe in Christus Jesus” (Rom. 8:2). [Getuig in hierdie vreemde negatiewe konteks bring mee dat belastering beter verstaan word.] Die maklikste om te bepaal of iemand enigsins teen die Heilige Gees gelaster het, is die volgende geestelike lakmoestoets – as dit jou enigsins pla of jy teen die Heilige Gees gelaster het, het jy nié. As jy wél teen die Heilige Gees gelaster het, sou dit jou geensins gepla het nie.
- Ongeredde én geredde mense kan in ‘n staat van frustrasie, woede, moedeloosheid of watter emosie of hartsgesindheid ook al God, Jesus of die Heilige Gees vloek. Selfs in so ‘n geval kwalifiseer dit nie as “lastering teen die Heilige Gees” nie, want dit sal ook vergewe kan word deur die bloed van Jesus. 1 Joh. 1:7b stel dit onomwonde: “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde”. Ook die versekering wat Efes. 1:7 bied – “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade …” 1 Kor. 6:11 spel dit uit: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” Ons kan dus vertrou wat Jesus gesê het in Matt. 12:31 – “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word …”
- Daar is ‘n demoniese gees wat in ongelowiges én gelowiges kan wees wat die gees van koprolalie genoem word. Die woordeboekdefinisie van koprolalie is: “the involuntary swearing or the involuntary utterance of obscene words”. Hierdie gees in mense laat die persoon wat dit bewoon onwillekeurig God, Jesus of die Heilige Gees vloek, slegsê of laster. Die persoon het nie beheer daaroor nie. [Soms het ‘n bepaalde neuropsigologiese disposisie, soos byvoorbeeld Tourette-sindroom, hierdie gedrag as simptoom (ook bekend as “the cursing disorder”) – dit is egter in hierdie spesifieke gevalle nie demonies van aard nie.] Uiteraard is hierdie verskynsel ook nie “lastering teen die Heilige Gees” nie – dit is ‘n gees wat laster, en nie die persoon deur wie die gedagtes gedink of die woorde gesê word nie. Bevryding is al wat nodig is vir so ‘n persoon.
- As ‘n gelowige heeltyd worstel met twyfel, ongeloof, swakhede, en so meer, is dit nie tekens van lastering teen die Gees van God nie. Dr. Shepard beskryf dit raak: “The weakest faith; the most faltering discipleship; the most hesitant, doubt-filled following; honest doubt and genuine perplexity; all of this our Lord sees and notes and helps. None of it will he scorn or dismiss. And none of it must we ever, ever suggest to be anything approaching the blasphemy against the Spirit. Weak faith he strengthens; faltering faith he makes resolute; genuine perplexity he addresses. … He has nothing but compassion and help for all who cry that their struggle for faith is just that: a struggle.” Ons moet absoluut wéét dat “die Here vol medelye en ontferming is” (Jak. 5:11) oor ons. Uit Job 4:19 verstaan ons God se medelye oor ons: “wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot”, en ons weet volgens Jes. 42:3 – “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” Niks van hierdie onsekerhede van ‘n wankelrige geloofslewe sal jou losmaak van God se getrouheid nie en het bepaald niks met die lastering teen die Gees te make nie.
- Daar is egter ‘n belangrike implikasie wat gelowiges rondom hierdie saak moet besef. In Mark. 7:20-23 praat Jesus met sy dissipels en volgelinge oor die misvertaan wat daar bestaan rondom reinheid en onreinheid. In teenstellig met die ou verbond se menigvuldige reëls en voorskrifte oor onreinheid, veral oor dit wat geëet mag word/nie geëet mag word nie, bring Hy ‘n totaal nuwe perspektief: “En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” Die Skrif noem op verskeie plekke die onreine gees (Sag. 13:2; Matt. 12:43; Mark. 1:23-26; 3:30; 5:2-8; 7:25; 9:25; Luk. 8:29; 9:42; en 11:24). Maar dis besonder insiggewend dat Markus se weergawe van die lastering teen die Heilige Gees spesifiek handel oor die Fariseërs in verband gebring word met die uitspraak dat die Gees van God wat in Jesus is volgens hulle onrein Jesus waarsku dan: “maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel—omdat hulle gesê het: Hy het ‘n onreine gees” (Mark. 3:29-30). Die gees van onreinheid setel dus hoofsaaklik in bepaalde gedagtes, woorde en werke van die vlees (Gal. 5:19), wat teenoor die vrug van die Gees (Gal. 5:22; Efes. 5:9) staan. As dit met jou die geval is dat jou lewe spreek van die onreinheid soos wat dit gespesifiseer word in die Skrifte hierbo, sal die Heilige Gees jou oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8), en dít is waarom jy jouself die vraag afvra of jy met jou woorde, dade en lewe laster teen die werking van die Gees in jou. Wat dan volgens ons vorige uitgangspunt hierbo beteken dat jy nié teen die Gees gelaster het nie.
- Dié Skrifgedeelte waarsku ons egter baie duidelik ook om nie as gevolg van ‘n gebrek aan kennis die werkinge van die Gees toe te skryf aan demoniese werking nie. Alhoewel gelowiges wel met ‘n gees van onderskeiding van geeste (1 Kor. 12:10) moet funksioneer, is dit belangrik om nie iets te beoordeel as jy nie onteenseglik seker is dit is nié ‘n werking van die Gees van God nie.
Die blote feit dat jy die Manna tot hier gelees het, sê dat jy nie teen die Heilige Gees gelaster het nie.
- Sela: Maak seker jy kan die belangrikste argumente oor die saak aan iemand verduidelik.
- Lees: 42-46; Matt. 18-20
- Memoriseer: 18:11
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Onderskei die Gees van Waarheid en die Gees van Dwaling