Dag 1190-1192

 

“Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge,

maar die wat geestelik is, geestelike dinge.”

(Rom. 8:5, OAV)

 

Terwyl ons besig is met die vers in 1 Kon. 18:30 oor die altaar, is dit miskien gepas om vir ‘n wyle ‘n saak aan te sny wat geweldige verwarring veroorsaak. In die vorige Manna is uitgewys  dat die Ou Testament uitvoerig na altare verwys, terwyl dit grootliks in die Nuwe Testament ontbreek. Op grond van Heb 13:10 het ons gesê dat die enigste altaar in die Nuwe Verbond is Jesus – Hy het sedert sy bloedstorting die enigste medium/wyse/plek geword waardeur daar versoening kan plaasvind.

Ten spyte hiervan het Christene dikwels ‘n behoefte aan ‘n konkrete “heilige ruimte”, wat sterk aan ‘n Ou-Testamentiese altaar herinner. Soms word die behoefte gerig deur plekke waar daar bepaalde dinge plaasgevind het, goed of sleg, wat hul herinner aan Goddelike ingryping. Soms is dit bloot ‘n rituele ruimte, soos ‘n kerk (as sogenaamde “huis van die Here”). In laasgenoemde geval is dit dan nie vreemd nie dat die preekstoel in Engels “altar” genoem word, en ‘n oproep tot bekering “an altar call”.

Die feit dat die Nuwe Testament geen geografiese of fisiese altaar enigsins eers noem nie, is baie belangrik. Daarbenewens is Jesus as Altaar uiteraard nie fisies van aard nie (2 Kor. 5:16). Gelowiges wat voortdurend na ‘n verkonkretisering van Jesus in al hul aktiwiteite en belewenisse soek, is onverstandig: “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:3). Die gelowige se “rational divine service” (Rom. 12:1, Rotherham) is altyd geestelik van aard en nié natuurlike of konkrete aksies of gebruike nie. Rom. 8:5 spel dit uit: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.”

Die probleem nou is dat hierdie gelowiges dan sekere fisiese aksies uitvoer wat hulle dink en glo hoogs geestelik is en volgens hulle geestelike gevolge het, maar hulle mislei hulleself deur so te dink. 2 Kor. 10:3-4a spel dit onteenseglik uit: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie.” In sogenaamde geestelike oorlogvoering kan NIKS wat ons vleeslik doen, enigsins iets in die geestelike realm verander nie. Punt. Die oorlog is reeds klinkklaar gewen (Kol. 2:15) met die dood van Jesus aan die kruis – daarom kon Hy in Matt. 28:18 dit proklameer: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”  Dit is die refrein dwarsdeur die Nuwe Testament:

  • Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader …” (Matt. 11:27)
  • “Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.” (Joh. 3:35)
  • “Want Hy het alles aan sy voete onderwerp …” (1 Kor. 15:27)
  • “en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp …” (Efes. 1:20-22a)
  • “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Fil. 2:9-11)
  • Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie.” (Heb. 2:8)

Die probleem met die meeste lering en beskouing oor geestelike oorlogvoering is dat dit deur die bank Ou en Nuwe Testament deurmekaar klits en dan nié dié waarheid oor Jesus se soewereine outoriteit oor alles in ag neem nie, en dan eie outoriteit en allerlei vleeslike aksies onderneem om geestelike oorlogvoering te doen. Daar word ellelange lyste voorgehou van hoe gebid moet word, deurspek met allerhande geestelike “catch-phrases”, wat besonder gelade klink, formulerings wat helaas nie eens Bybels is nie, maar absoluut neig na geheime, selfs mistieke kennis wat gewone gelowiges nie ken nie. Dit is dikwels asof die gedetailleerd-gelaaide geheimenisse waaroor/waarvoor gebid word, ‘n privelegie is vir sekere Christene wat dié spesifieke formulerings as openbaring ontvang het.

Om dit te illustreer, gebruik ons ‘n sogenaamde verloëningsgebed wat deur ‘n groot bediening in Suid-Afrika as “afseëlingsgebed” gebruik word. Alles wat in rooi gemerk word, het GÉÉN Skriftuurlike basis nie, en is gegrond op “die valslik sogenaamde kennis” (1 Tim. 6:20), of soos die NJB dit noem: “’knowledge’ which is not knowledge at all”. [Die spel- en taalfoute word gelos soos in die oorspronklike dokument.]: “Vader, ons kom te staan teen enige kommunikasie-lyne … tussen die magte, wêreldheersers, owerhede, geestelike magte en demoniese magte in die lug, op die aarde, in die hemelse sfere en onder die aarde. Ons maak alle in- en uitgange toe, in die Naam van Jesus Christus. Ons vra dat alle geestelike kameras en opnemers vernietig sal word in Jesus Naam. Ons kom te staan teen enige hekse, toordokters, towenaars en goëlaars in die Naam van Jesus Christus. Ons sny alle kommunikasie met satan self en maak die deure toe in die Naam van Jesus. Ons verbied enige gees van buite om hierdie plek binne te kom vir watter rede ookal, en ons verbied enige bose gees om na enige ander plek of persoon gestuur te word as gevolg van wat hier gebeur. Ons verbied nou enige versterkings komende van satan, in die Naam van Jesus Christus. Here, ons vra dat U verwarring sal skep in die vyand se kamp. Vader, ons vra U om U oorlogs Engele op te stel in hierdie vertrek en enige mensgees, gestorwe mensgees, geestesleier, of familiêre gees te arresteer en hulle te verwyder tot onder die voetbank van Jesus Christus ons Here. Ons bind elke bose gees in hierdie plek en verbied enige geweld, manifestasies en pynigings, in die Naam van Jesus Christus. Ons weier enige meditasie-sirkels, en isoleer enige mag van demoniese kragte van mekaar, in die Naam van Jesus Christus. Ons verbied en bind enige hipnose en self-hipnose, meditasie en psigiese kragte, in die Naam van Jesus Christus van Nasaret. Ons isoleer die magte van mekaar, in Jesus Naam. Ons reinig die 4 elemente, water, aarde, lug en vuur, met die Bloed van Jesus. Ons vra U, Here, om alle spieëls te bedek met U Bloed en alle toegange af te seël in Jesus Naam. Ons kom te staan teen enige vloeke, rituele, oproepinge, towerspreuke, offerandes of altare wat teen ons en die persoon opgerig staan, in Jesus Naam. Dankie dat U nou alle kerse uitblaas wat teen ons aangesteek is in rituele, in Jesus Naam. Dankie dat U alle vloeke omdraai in seëninge. Here, ons vra dat U hierdie vertrek afseël met U kosbare Bloed, en dat U ons sal wegsteek in die Gees en verklaar hierdie vertrek as Heilige Grond. Here, ons vra dat U dienende Engele sal stuur om ons te bedien in Jesus Naam, volgens Hebreërs 1:14. Ons gee oor aan U, Heilige Gees van God, omdat ons weet dat dit nie deur krag of geweld hoef te wees nie, maar deur u Gees. Ons vra dat U ons geliefdes bedek en plaas alle omstandighede onder U beheer en beskerming (ons finansies, huwelike, verhoudings, bedieninge). Ons bind nou satan se koninkryk hier op aarde, net soos

dit gebind is in die Hemel. Ons vra U, Vader, om die hemelse hofsaal voor te berei en dat al die demone en familiêre geeste sal kom en hul plekke inneem. Ons vra U, Vader, om die Regter te wees, Jesus die Advokaat en die Heilige Gees die Getuie … In Jesus Naam, AMEN.”

Onder die hofie “Dangerous Prayers word die volgende gebid: “In die Naam van Jesus Christus van Nasaret weerstaan en bind ek nou alle demone wat teen gebed werk in die lug, op die aarde, onder die aarde, in die see, in al die waters bo en onder die aarde, in riviere, damme en waterbronne. Ek vernietig alle hindernisse teen my gebede in Jesus se Naam. Ek weerstaan en bind alle demone wat teen bevryding, vooruitgang, voorspoed en wonderwerke werk in Jesus se Naam. Met die Vuur van die Heilige Gees en die Bloed van Jesus Christus vernietig ek nou elke geestelike vlies en sellofaanbedekking in die lug. Ek vernietig elke geestelike bedekking wat Satan om my gebou het of teen my gevorm het, in Jesus se Naam. Ek vernietig elke hok, ketting, kabel of tou en elke sak hekse teen my, in Jesus se Naam. Ek profeteer vir die Oostewind om elke rookskerm wat die vyand opgestuur het teen my gebede, weg te waai in Jesus se Naam. Ek vernietig die web van Satan wat my vasgedraai het. Ek maak myself los van al die magte van duisternis teen my, in Jesus se Naam. Ek breek myself los van al die magte en kragte van hekse, towenaars, geestelike eggenote/s, geestelike kinders, geestelike eiendomme, familiêre geeste, watergeeste en gestorwe mensgeeste. Ek breek elke geestelike skerm wat Satan gebruik om my en my bewegings te monitor. Ek vernietig elke geestelike spieël, geestelike opname, geestelike kamera, geestelike satelliet en alle geestelike eiendomme wat Satan teen my opgestel het. Ek weerstaan, bind en verwerp uit my lewe alle bose aardse en hemelse geeste wat teen my werk, in Jesus se Naam. Ek staan op die Woord van God en vervloek alle bewyse en wapens teen my, in Jesus se Naam. Ek bind alle magte van hekse, towenaars, demi-gode, familiêre geeste, watergeeste, alle bose oppergeeste, geeste van swakheid en elke ander bose gees wat teen my lewe en my vooruitgang werk, in Jesus se Naam. Satan en al jou agente, ek vernietig nou elke beskerming wat julle opgerig het om julself teen die Vuur van die Heilige Gees te beskerm – ongeag julle vlakke, range, ampte of areas van operasie in die geestesrealm. In die Almagtige Naam van Jesus Christus, vernietig ek alle bewyse teen my in die geestesrealm: enige plek waar ‘n afbeelding van myself, my eiendom/me, my foto’s, my klere, my geld, my naam of enige dele van my fisiese liggaam in die lug, op die aarde, onder die aarde, in die waters bo of onder die aarde, in riviere, die seë, voor afgode, in heksevergaderings of temples van Satan gehou word – ek vra die Vuur van die Heilige Gees om alle items en bewyse te vernietig wat Satan gebruik om teen my te werk, in Jesus se Naam. In die oorwinnende en kragtige Naam van Jesus Christus van Nasaret, vra ek U nou, Here, om my hart, siel en verstand los te maak in die gees. Ek vernietig elke hok, ketting, sak of tronksel waar Satan my hart, siel of verstand vasgemaak het. Ek vra U, Heilige Gees, om alle magte van demone te vernietig wat waghou by my hart, siel of verstand … Ek vernietig alle vloeke teen my wat versteek is … Ek weerstaan en bind die demone wat aangestel is om te waak oor hierdie vloeke,  … Ek bind en ketting alle bose hekwagte wat moes waak oor hierdie vloeke, verbonde, inisiasies, towerspreuke en gelukmiddels in my lewe. Ek vernietig die akte van samestemming in Jesus se Naam. Ek vernietig ook enige soutverbond wat gemaak is deur enige maaltyd. DANKIE JESUS!!”

Open. 2:24 waarsku die gelowige om “die dieptes van die Satan … nie (te) leer ken … nie”; die Message noem dit: “this playing around with the Devil that gets paraded as profundity”. Hierdie esoteriese kennis is misleidend en open in werklikheid die bidders vir die gees van dwaling (1 Joh. 4:6). Meer in die volgende Mannas hieroor.

  • Sela: Is daar van hierdie formulerings wat deel van jou Christelike tongval en gebed geword het?
  • Lees: 2-5; Matt. 24-26; Ps. 41
  • Memoriseer: 24:4 (wat sou dit dan in hierdie konteks beteken?)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Poorte van die Hel – Satan skep vals realiteite