“Wat uit die vlees gebore is, is vlees;
en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
(Joh. 3:6, OAV)
Hierdie Manna moet saamgelees word met die vorige drie Mannas. Ons het uitvoerig aangehaal uit dokumente rondom geestelike oorlogvoering wat gelowiges in detail voorskryf waaroor hulle moet bid. Dit wat in die voorgeskrewe gebede nie Bybels is nie, het ons in rooi gemerk. Dis absoluut skrikwekkend om te sien hoe verskeie van dié mistieke frases bes moontlik gebaseer is op misleidende satanistiese handleidings wat net hier omgekeerd aangebied word, óf versinsels is van sogenaamde moontlike gebedshandelinge en –aksies. En miljoene goedgelowige Christene bid dit goedmoeds asof dit evangelie is, terwyl dit geen Bybelse basis het nie, maar blote gnostiese versinsels van sogenaamde esoteriese kennis is.
Die probleem met hierdie tipe Christelike hype is dat die oorsprong daarvan nie “in gees en waarheid” (Joh. 4:23-24) onstaan het nie. Onthou wat Joh. 3:6 uitspel: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” Jak. 3:15 takseer hierdie vleeslike beskouinge en bedenksels soos volg: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels…” As hierdie geestelike handelinge gegrond is op vleeslike bedenksels, is daar ‘n baie sterk waarskuwing in Rom. 8:6-7: “Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is …”
Wat dus oënskoulik na vreeslik geestelike profetiese aksies en gebede lyk, is eintlik presies die teenoorgestelde, wat Jes. 29:9 (Ampl) “spiritual stupor” noem. Die meeste mense se geestelike geheimkennis oor hierdie tipe aksies is niks anders nie as geestelike verbeeldingskuns, wat 2 Kon. 18:24 “figments of your imagination” noem. Hierdie gelowiges loop soms later bloot “agter hulle eie gedagtes aan” (Jes. 65:2).
Daarbenewens word die frase “in die Naam van Jesus” amper op ritualistiese wyse gebruik as talisman om dinge te besweer. Uiteraard is Joh. 16:23 waar: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.” Maar dit mag nie net ‘n sinlose herhaling wees van “In die Naam van Jesus” nie. Matt 6:7 is hier veral meesprekend: “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.”
Die bloed van Jesus word op ‘n bykans paganistiese wyse, maar veral bygelowig, oral ingespan – dit word oor goed en mense gepleit, plekke word daarmee bedek, dit word gebruik om demone te verdryf. Niks hiervan is Bybels nie. Nêrens in die hele Skrif word die bloed van Jesus gebruik in geestelike oorlogvoering nie. Die hoofdoel van die bloed van Jesus is om mense van sonde te reinig, soos dit in 1 Joh. 1:7 uitgespel word; dit is nie vir ons om dit heel tyd te gebruik as afweermiddel of bedekking tot beskerming nie.
Hierdie bedenklike oorleweringe oor geestelike praktyke is bloot “versinsel van die gedagtes” (1 Kron. 28:9).
- Sela: Watter van jou geestelike aksies is bloot versinsels wat uit ‘n godsdienstige tradisie kom?
- Lees: 6; Matt. 27
- Memoriseer: 27:51
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Vals Konstrukte – Leef jy in ‘n Geestelike Illusiewêreld?