“weet ons dat ʼn afgod niks in die wêreld is nie”
(1 Kor. 8:4, OAV)
In die vorige Manna (ook vroeër in Dag 487) het ons geskryf oor wat genoem is gnostiese versinsels van sogenaamde esoteriese kennis, geestelike verbeeldingskuns, wat 2 Kon. 18:24 (MSG) “figments of your imagination” noem. Hierdie gelowiges loop soms later bloot “agter hulle eie gedagtes aan” (Jes. 65:2) en word jammerlik nie meer deur “die Gees van die waarheid” (Joh. 16:13) gelei nie, al word die Heilige Gees steeds in alle opregtheid aangeroep tydens hierdie aksies.
Let wel – die gelowiges wat hierdie gebede bid en hierdie profetiese aksies uitvoer en met groot erns en geloof hierdie geestelike oorlogvoering doen, is die meeste van die tyd absoluut toegwy aan God, baie ernstig oor hulle geloof en loop in diep oortuiging dat hulle ‘n mandaat van God het om dit te doen wat hulle doen. Hulle sien hulle optredes in gehoorsaamheid om die Bose te beveg, God se agenda af te kondig, die koninkryk van die duisternis in te neem vir die koninkryk van God, en deur allerlei geestelike wapens die stryd as God se verteenwoordigers op aarde te voer. “We will ride with You; we will stand up and fight,” sing én glo hulle.”
Laat ons dadelik wel stel – ja, daar is iets soos geestelike oorlogvoering. Die bekende fondasieskrif oor geestelike oorlogvoering is seer sekerlik Efes. 6:12 – “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Hierdie Skrif – en daar is nie veel ander só substantief soos hierdie spesifieke vers nie – het tot ‘n baie groot mate aanleiding gegee tot allerlei van hierdie geestelike aktiwiteite wat ons tans uit Bybelse oogpunt na kyk. Kom ons neem ‘n paar spesifieke aksies onder die loep.
Allereers: Die blaas van die shofar/ramshoring was in die Ou Testament ‘n baie belangrike aksie wat ten nouste met oorlogvoering in verband gebring is (Num. 10:9). Die eerste keer wat dié instrument in die Torah voorkom, is Eks. 19:16 toe dit aan Israel gegee is tydens die Pinksterfees. Van toe af word die blaas van die shofar ook ten nouste geassosieer met die verskillende Israeliese feesvieringe soos Rosh Hashana (Lev. 23:24; Num. 29:1) en Jom Kippoer (Lev. 25:9). Hierbenewens is die shofar ook gebruik om die volk byeen te roep vir byeenkomste, of te waarsku teen gevaar (Num. 10:5-6; Eseg. 33:3), in oorloë (Jos. 6:4-20), met militêre operasies (Rigt. 7:22; 2 Kron. 3:12; Neh. 4:14; Jer. 4:19; Amos 2:2; Sef. 1:6). Dit is ook ingespan as lofprysinginstrument (1 Sam. 4:5; 2 Sam. 6:15; 2 Kron. 15:14; Ps. 47:6; 89:16; 150:5), is met nuwemaan geblaas (Ps. 81:3) asook met die inhuldiging van ‘n koning (2 Sam. 15:10; 2 Kon. 9:13).
Daar is die laaste paar jaar ‘n ontsaglike toename in die gebruik van die shofar, en daar rondom is allerlei geestelike funksies aan die shofar gekoppel. Niks daarvan is gelegetimiseerd in die Nuwe Verbond nie. Die gelowiges wat ‘n saak wil uitmaak vir die gebruik van die shofar vandag gebruik dikwels dié drie Skrifte: Matt. 24:31; 1 Thes. 4:16; en 1 Kor. 15:51-57, maar al drie handel oor trompette en nie ramshorings nie, en nie in een geval word dit deur mense geblaas nie, maar deur Goddelike wesens, met ander woorde dit is geestelike aksies. Al die kere wat daar verwysing is na die ‘n blaasinstrument in die boek Openbaring is dit trompette (sien Open. 8:2), nie shofars nie. Daar is dus ‘n absolute afwesigheid van shofars in die Nuwe Testament, en kan ons dit nét simbolies of tipologies lees. Die shofar as sodanig of die blaas daarvan het helaas géén geestelike werking in die Nuwe Verbond nie. Dis nie eens in die Ou Verbond gebruik om demone te verjaag nie. Al die simboliese handelinge waarvoor die shofar vandag gebruik word, het helaas geen Bybels basis of effek nie.
Ten tweede: Die geestelike skoonmaak van huise is ‘n praktyk wat veral veld gewen het na die publikasie van Chuck Pierce se boek: Ridding your Home of Spiritual Darkness en Protecting Your Home from Spiritual Darkness: 10 Steps to Help You Clean House, Place Jesus in Authority and Make Your Home a Safe Place, ook hier te lande Tiaan Gildenhuys se dvd: Maak skoon jou huis. Hierdie boeke propageer dat sekere voorwerpe “demone kan trek” na jou huis, byvoorbeeld Oosterse figure (soos Boeddha-beelde), Afrikamaskers en –tromme, sekere kinderspeelgoed, sekere dvd’s of rekenaarspeletjies, paddaornamente, windklokkies, boeke met feëverhale (sprokies) of tekste van seksuele aard, of fantasie-dvd’s, speelkaarte, oorlogsaandenkings, en so meer. Geestelike huisskoonmaak is dan ‘n proses waardeur geestelik volwasse persone deur die huis loop en hierdie voorwerpe verwyder en verkieslik verbrand.
Die enigste verwysing na iets van die aard in die Bybel is 2 Kron. 29:16 – “En die priesters het binne-in die huis van die HERE ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die HERE gevind het, uitgebring in die voorhof van die huis van die HERE, en die Leviete het dit in ontvangs geneem om dit uit te bring na buite …” Maar, die tempel is in Nuweverbondsterme nie meer ‘n kerkgebou (of enigsins ‘n huis) nie, maar ‘n persoon waarin die Heilige Gees sy woning gemaak het (1 Kor. 3:16).
Die voorbeeld van Paulus in 2 Tim. 2:19-21 rondom “voorwerpe van oneer” het niks met spesifieke voorwerpe te doen nie, maar dien as ‘n metafoor vir mense: “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid. Maar in ‘n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.” Dié vers kan dus nie gebruik word as voorbeeld van “voorwerpe van oneer” in ‘n huis nie.
Uit 1 Kor. 8:4 “weet ons dat ʼn afgod niks in die wêreld is nie”, en eksplisiet: “Alle dinge rein is vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie …” (Tit.1:15). Berus tog asseblief daarin, as jy dan enigsins rein is.
Ten derde: Die gebruik van wyn en sout om huis skoon te maak, en die salf van huise is ‘n praktyk wat wyd voorkom. Wyn is hoogstens ‘n simbool van die verbond tussen mens en God en simboliseer die nuwe verbond (Matt. 26:27-28), maar dit is vir gebruik deur gelowiges, nie om op die grond uit te gooi nie. Nêrens in die Ou of Nuwe Verbond is daar van só ‘n aksie sprake nie. Om sout op grond te gooi, is in die Ou Testament ‘n daad om die grond onvrugbaar te maak (Rigt. 9:45); op offerhande (bv. Eseg. 43:24) is dit ‘n voorskrif gewees, maar nie op grond nie. Die idee kom van heidense oorlewering af en is totaal onBybels.
Om huise, kantore, motors en goed te salf, is eweneens onskriftuurlik. (Lees meer oor hierdie onsinnige gebruik in Jack Hayford se Glory on Your House.) Mense word in die Nuwe Testament gesalf, nie geboue en dinge nie! Die Heilige Gees, wat klaarblyklik deur die olie voorgestel word, kan tog nie in lewelose objekte soos deure “ingaan” nie!
- Sela: Aan watter van hierdie geestelike aksies doen jy mee?
- Lees: 7-10; Matt. 28; Ps. 67 & 105
- Memoriseer: 28:18 (van groot belang vir hierdie lering)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Spiritual Warfare in the Third Dimension.