Dag 12

“Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Joh 3:8, OAV)

Wedergeboorte is die proses waardeer jy deel word van die Koninkryk van God. Jesus verduidelik in Joh 3:3, 5-7 aan Nikodémus dit só: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie … (A)s iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. (J)ulle moet weer gebore word nie.” 

Miskien is die woordjie “wedergeboorte” té beperkend om die omvang van die gebeurtenis na waarde te verstaan. Enige geboorte is die gevolg van ‘n bevrugtingsproses met saad. Dit wat wedergeboorte eventueel moontlik maak, is dat God jou gees bevrug het met Sy saad. Daarom verduidelik Johannes dit só: as jy Hom aangeneem het, word jy “nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore”(Joh 1:13). Ons is dus wedergebore “nie uit verganklike saad nie, maar uit (Sy) onverganklike (saad)” (1 Pet 1:23).

Wedergeboorte is dus ‘n eenmalige proses waardeur jy die DNS van God verkry – in Engels noem ons dit God se DNA: the Divine Natural Attributes. Jy gaan soos jou Pa lyk en wees!

Dis om hierdie rede dat in 1 Joh 3:9 hierdie ongelooflike woorde staan: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly (“remaineth in him”); en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”  Baie mense verstaan hierdie gedeelte verkeerd. Ons weet ons is selfs na wedergeboorte steeds geneig om teen God te oortree, maar dié het niks daarmee te doen nie. Sonde (hamartia in die Grieks) beteken om jou merk, jou skeppingsdoel te mis. As jy wedergebore word, kan God se saad wat IN jou is ‘n nuwe skepsel bewerk: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Kor 5:17). In 1 Joh 5:18 word dit só uitgespel: “Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.” 

  • Sela: Kom tot die openbaring dat jy as wedergeborene die saad van God in jou het. 
  • Lees: Gen 12; Ps 12; Joh 12
  • Memoriseer: Joh 12:24-25
  • Vir dieper delf: Lees, bedink en bid oor die aangehegte stuk oor “Dying to self”. Sterkte.