Dag 120

 

“En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Luk 24:28, OAV)

Dit is baie interessant dat Mohammed, die vader van Islam asook die skrywer van die Koran, erken dat die Bybel deur God geïnspireer is. Hy noem die Jode en die Christene “people of the Book”, wat ‘n aanduiding is dat hulle die outoriteit van die Bybel aanvaar op grond van die oortuiging dat dit die openbaring van God aan die mens is. Dit ten spyte daarvan dat dit ‘n verskeidenheid van ses-en sestig boeke uit alle genres is, geskryf deur minstens vier-en-veertig outeurs, in drie tale: Hebreeus, Aramees en Grieks, oor ‘n tydspan van sestien eeue! Geen boek in die geskiedenis het oor só ‘n lang tydperk tot stand gekom nie. Vyf-en-dertig eeue gelede het Moses die eerste vyf boeke van die Bybel neergepen, en hy het dinge opgeteken wat lank voor sy geboorte begin het, en selfs dit wat na sy dood sou plaasvind, bloot soos God dit vir hom dikteer het! (Byvoorbeeld, hy skryf oor sy eie dood, routyd en begrafnis – sien Deut 34.) [Aan Judas, die broer van Jesus en Jakobus, is geopenbaar dat Satan en God in ‘n stryd gewikkel was oor die liggaam van Moses – sien Judas 1: 9. Op grond van hierdie Nuwe-Testamentiese insig verstaan ons hoekom God Moses se liggaam weggesteek het – Deut 34:6!]    

Daar is ‘n onteenseglike eenheid in die Woord van God, ten spyte van die diversiteit van al die skrywers. Geskryf deur generaals, konings, skaapwagters, profete, vissermanne, ‘n mediese dokter, ‘n briljante rabbi, ‘n belastingopgaarder. Maar hulle het almal met een mond gepraat – weliswaar: “my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer” (Ps 45:1)! Op die oog af is daar ‘n klompie diskrepansies, maar dit is nie omdat die Bybel himself weerspreek nie; veel eerder is dit die dialektieke en paradoksale aard van die Woord, die verskillende snykante van hierdie tweesnydende swaard (Heb 4:12), wat uiteindelik uit sy, Christus, se mond uitgaan (Open 1:16; 2:12)! Met dialektiek en paradoks word bedoel dat alhoewel dit eenvoudig is, dit nie een-eenduidig nie – dis soos helder water waardeur jy kan sien, maar waarvan jy die diepte nie kan peil nie. Dit het deurgaans die karakter van gesprek, of gelykenis, met heelwat simboliek, soos kwik onvaspenbaar, sodat ‘n mens dit nie as ‘n wet moet probeer lees nie, maar as ‘n lewenswyse moet leef. Daarom gee Jesus in Joh 5:39-40 hierdie duidelike teregwysing: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.”

Hierdie woorde van Jesus is van die allergrootste belang omdat dit die wesenseienskap is van wat die Woord beliggaam: Christus. In die volgende lering meer oor dié wonderbaarlike geheimenis.

  • Sela: Probeer die verband tussen die Woord en Christus peil.
  • Lees: 1 Sam 5; Ps 120 & 121 ; Luk 2
  • Memoriseer:  Die hele Ps 121. Maak ook ‘n lied daarvan!
  • Vir dieper delf: Lees Grant R Jeffrey se boek The signature of God.